DIE BREIN SE PAADJIES…

Ek weet nie of roetine `n groot storie was toe ons kinders was nie – al wat ek kan onthou is Sondagmiddag se klokslag drie-uur raaskry wanneer die grootmense wou skuinslê en ons lawaai…

Tannie Anna Cronje, daardie bekende “baby whisperer” van Waverley, was die eerste mens wat my regtig laat dink het oor roetine.  Onthou net, wanneer `n mens jou kinders die wêreld inbring sonder jou eie ma se teenwoordigheid, voel jy mos kompleet soos `n t-hemp in `n tuimeldroër – onseker of jy moet krimp, rek of sommer net kreukel.  So, ek en Schalk het gereeld by Anna gaan kuier en ons twee blonde babas presies volgens haar riglyne grootgemaak.  As Anna gesê het 18.00 is badtyd, het Eswee en Mariné gebad.  As Anna gesê het blonde babas drink soja, het hul Isomil gekry.  Anna het geglo vaste roetine is wet, en al weet ek nie of Anna se manier die regte een was nie, het dit vir ons gewerk.  Soos `n bom.  Ek is oortuig dis ook danksy Anna dat my twee kinders vandag verseg om op `n ander plek as om die etenstafel hul maaltye te nuttig

In haar boek “Goeie gewoontes vir `n gelukkige lewe” beskryf Joyce Meyer `n gewoonte as iets wat jy doen sonder om te dink.  `n Gedragspatroon wat jy aangeleer het deur gereelde herhaling.  En wat jy ongelukkig, o, so moeilik afleer.  Soos die ou wat plegtig beloof het hy het ophou rook, tot sy vrou die pakkie Peter Stuyvesant agter die swemhanddoeke in die gangkas kry…”ek weet nie waar die goed vandaan kom nie”, stamel die ou met groot, rooi hale oor sy gesig geverf.  “Yeah sure”, snork die vrou.  “Die gemors moet uit my huis.  Sommer nou.  Dadelik.”  Nou stoor hy dit maar by sy buurman…

Tony Schwartz, skrywer van “Be excellent at anything”, sê ons gedrag is 95% van die tyd gewoonte – net 5% van ons keuses word bewustelik gemaak.  Hy sê navorsing toon ook dat meeste van ons ons wilskrag en selfdissipline heeltemal oorskat.  Hoe dan nou gemaak?  Ek dink Schwartz slaan die spyker reg op sy kop wanneer hy sê “hoe meer ons gedrag roetine en rituele word – deur dit bewustelik te doen – hoe minder energie verg dit en hoe makliker word dit outomaties.’

Oefen is seker by verre een van die voornemens wat die meeste gemaak word, en die vinnigste laat vaar word.  Môre begin ons New Year Challenge van 6 weke, en ek dink een van die grootste dryfvere agter die hele Challenge-ding is om bloot daardie oefen-gewoonte by ons lede vas te lê.  Want as jy 24 sessies in 6 weke wil voltooi, beteken dit dat jy gemiddeld 4 keer per week `n draai by die studio moet kom gooi vir ten minste 40 minute op `n slag…(Gelukkig is daar darem `n lekker stewige handvol wat vir die 4 tot 6 weke tussen elke Challenge ook aanhou oefen)…Maar, die voordeel is, selfs al raak jy net gekondisioneer om gedurende die Challenge te kom oefen, is jy darem gemiddeld 22 weke van die jaar aktief!  Né!

…Ek weet nie of jy al ooit aan een van ons Fitness Callenges deelgeneem het nie, dit maak ook nie saak nie, maar ou matta, daar`s min dinge so lekker as om te ervaar hoe een suksesvolle poging en een goeie liggaams-asseseringstoets iemand kan aanspoor tot `n volgende persoonlike oorwinning.  Maar, gewoontes word nie om dowe neute “gewoontes” genoem nie.  `n Mens smyt nie sommer net `n slegte gewoonte by die venster uit nie – dit verg flikflooi om hulle een vir een en tree vir tree, met determinasie en vasbyt, by die voordeur uit te lok.

“Hoe het jy dit reggekry?!”, jubel ek onlangs opgewonde en nuuskierig saam met een van ons lede wat die afgelope paar maande sommer `n hele paar ongewenste kilo`s afgeskud het.  “Ek het my brein se paadjies verander deur myself kort-kort te konfronteer met dié vraag – wat verkies jy? Koek?  Of kleiner kleertjies…?☺, was haar knipoog anwoord.

…Ek weet nie mooi waar my twee kinders hul fanatiese leeslus gekry het nie, dit was regtig nie tannie Anna Cronje se toedoen nie, maar lees kan hulle lees.  En nie storieboeke soos ekke nie.  Als selfhelpboeke en biografië, partykeer sommer drie op `n slag.  Dié vakansie ontdek ek “The power of habit” van Charles Duhigg op Eswee se bedkassie, en ek lees dié sin raak:

“Typically, people who exercise, start eating better and become more productive at work.  They show more patience with colleagues and family and they feel less stressed.  Exercise is a keystone habit that triggers widespread change…”

Oefen MAAK ons beter, en jy’t nie `n “people whisperer” nodig om dit te besef nie.  En DIS hoekom ons oefen, al is 90% van ons resultate te danke aan ons eetgewoontes.  Stry – is dit nie die lekkerste ding op aarde om te weet dat jy jou bes doen, dat jy die bes moontlike keuses maak en dat jy elke dag bietjie vordering maak op die pad na die heel beste lewe wat Hy vir jou in gedagte het nie?

Miskien het jy nog nie die stryd gewen nie.  Ja, dit IS `n stryd.  Ek weet.  Slegte gewoontes is soos `n lekker sagte bed – maklik om in te klim, moeilik om uit op te staan.  Maar dalk is jy siek en sat vir jou slegte gewoontetjies.  Dan is dit nou sulke tyd.  Tyd om jou “veranderingspier” te oefen, die uitstelmonster nek om te draai, te ontdek dat jy sterker is as wat jy dink, en nuwe gewoontes en roetines te kweek.  Finish en klaar.

Want, skryf Charles Duhigg verder, “that is the real power of habit: the insight that your habits are what you choose them to be…”

Mirna

082 779 0507

Has one comment to “DIE BREIN SE PAADJIES…”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Colette Barnard says:

    Hoe meer mens oefen hoe makliker en lekkerder raak dit, want dit word n gewoonte waarsonder mens nie kan gaan nie! Baie waar wat jy skryf oor roetine en gewoontes