BHEEZZIG

Vandag vier ons amptelik Lentedag – Whoooo!  In Ermelo is dit vandag die perfekte Lentedag – koud…☺, en Vrydag wat kom is net 10 grade, maar toemaar, Vrydag wat verby is was perfek en toe het ons sommer klaar die lente gevier met `n 5uur-oggend-stepklas-in-pienk-met-sjokolade-en sjampanje (dankie, Schalk!) en `n spul gelukkige trekkings…

Saterdagaand stuur een van my lede `n welkome WhatsApp: “Baie dankie vir `n heerlike vrolike Vrydagoggend om die winter mee af te sluit – we survived another one…”  Ons hét dit gemaak, die koue en die eise van `n koue, bitter besige winter oorleef…

Die Amerikaanse skrywer Ruth Stout het gesê: “Only in winter can you have longer, quiet stretches when you can savour belonging to yourself…”  “Nope”, niks hiervan vir ons nie, besig is ons besig, besiger as ooit. 

Almal van ons.  Party is net besiger as ander… Ons almal het al die scenario beleef om verrineweer maar vasberade betyds by `n spesialis se spreekkamer op te daag – en dan deur die dunlip-ontvangsdametjie verwittig te word dat jy 45 minute moet wag, want “dhokthorr is bheezzig…” grrr, besiger én belangriker as ons gewone outjies.

In Februarie besluit ek en Corné ons gaan `n afspraak maak vir ons wenkbroue by Erika Davis in Pretoria…7 Junie!  Dit was die eerste beskikbare afspraak vir `n “microblading”-sessie by dié fantastiese skoonheidsterapeut.  Hulle sou ons bel as iemand kanselleer maar dit duidelik gestel ons moenie te hoopvol wees nie want dáár is ook `n lang waglys.  Vreeslik, né, klink eerder soos `n afspraak by die ginekoloog, maar as jy goed is is jy goed, en Erika is haar Google-beskrywing 100 persent waardig – “Master and Cosmetic expert…”

“Almal wat ek ken, is waansinnig besig”, skryf Sonja Loots verlede Sondag in haar Rapportrubriek, “Skuinslê”.  Hoor hoe stel sy dit: “Almal is bedrewe in die nimmereindigende drafststappery; ingeoefen in ons bestudeerde kombinasie van kommer en uitasem hulpeloosheid oor die vinnige pas van die lewe.  Besigwees is die mantra van almal wat hulself as suksesvol posisioneer.  Om te sê dat jy besig is, is `n statussimbool.  As jy besig is, is jy besig om een of ander leer te klim.  En so vlieg ons na ons einde toe, soos die Psalmis dit gestel het, en so verdwyn ons dae in stiltes soos kwartels in lang gras, soos DJ Opperman gedig het…”

Almal wat ek ook ken, is waansinnig besig.  Behalwe ons huiskat, Chloe, en Bailey, mits hy nie `n tennisbal sien nie.  Vreeeeeslike woord die “besig”-woord.  Dit word as `n siekte van die 21ste eeu beskryf en daar word beweer dat heelwat mense verslaaf is aan besigwees. 

En toe sorg die skatryk Amerikaanse besigheidsmagnaat Warren Buffet onlangs vir `n opskudding toe hy sê: “Busy is the new stupid.!”  Oombliklik is dié uitlating wyd en syd in die kuberruim getwiet, gelaaik en gedeel.

Blykbaar sorg Buffet dat sy afspraakboek baie leë dae en ure het – hy hou dit oop dat hy kan dink…Né?!  O ja, en hy lees elke oggend vyf koerante. `n Mens wil-wil met die man geïrriteerd raak, want hy`t genoeg geld om 12uur per week te sit en brug speel en om als wat hy begeer, te koop.  Dis waarskynlik ook nie hy wat met die honde gaan stap en sorg dat daar melk in die yskas is nie.  Mens moet darem onthou die ou IS nou `n pensionaris, maar het hy `n punt beet?

…Het jy geweet as jy “Get more done by working less” Google, kry jy 1,91 miljard resultate in minder as 30 sekondes.  Hoekom werk ons dan nog so hard? Hoekom?  Want dis wat van ons verwag word.  Ek hoor gereeld: “my gee- en ontvangbalansstaat is in wanbalans”, “ek voel soos nagmaalbrood, besig om geskeur en uitgedeel te word”, “my bord is oorvol”, “my battery is so pap soos `n Toyota s`n na `n vakansie, nie eens `n ‘jumpststart’ kan my aan die gang kry nie”, ‘te besig om te kom oefen”, “te moeg om te kom oefen”….

… Dalk is nie een van ons régtig so besig as wat ons dink nie…Tierlik is jy besig, jou arme ding – jy moet aandetes voorberei in minder as 30 minute, jy luister nou al vir maande na dieselfde CD in jou kar en jy het die kuns vervolmaak om in 3 minute te bad…En tog is jou Facebook-status eksie-perfeksie, jy mis nie `n episode van “Alles Malan” nie en jy`s perfek op datum met die top 6-kandidate van “Survivor”….En jy het darem `n tydjie om hierdie ou Bloggie te lees…Mmmm, ja…soos Todd Stocker onlangs kwytgeraak het:  “I wanted to figure out why I was so busy, but I couldn’t find the time to do it.” 

Dalk is dit tyd dat ons so bietjie eerlik raak met onsself oor hierdie ding van besigwees.  Is dit nie al hierdie gepraat oor die gejaagdheid van ons lewens wat ons siek maak, eerder as die gejaagdheid self nie?  Ek sê weer: Dalk is nie een van ons régtig so besig as wat ons dink nie…

Maar as jy is, is dit dalk nodig om bietjie te luister na die Italiaanse ekonoom, Vilfredo Pareto.  Sy Pareto-beginsel sê dat 20% van wat jy insit, 80% van die resultaat tot gevolg gaan hê.  In 1906 het Pareto waargeneem dat 80% van Italië besit is deur 20% van die mense.  Pareto het dié beginsel wyer getrek en bewys dat dit van toepassing is op elke area van besigheid en persoonlike aktiwiteite.  Met ander resultate… Dalk is dit presies wat Ryder Carroll bedoel wanneer hy sê: “Being busy is not the same thing as being productive.” 
 

Jy sien, party mense is régtig besig, ander regtig hulle is besig… Dis goed om heeltyd besig te wees, dis sleg as dit jou chronies moeg laat.  Dae wanneer die moeg my wil-wil plattrek herinner ek myself gou dat alles wat ek in my kruiwa het, het ek self daarin gelaai. 

Mag jy dié laaste paar maande van die jaar leer om te rus, af en toe nee te sê, en soms doelbewus onbesig raak…Potjie brug, iemand…☺?

Geniet die week, geniet Lentedag, en onthou:

“In the midst of your busy life don’t forget to live.” 
                                                             Marty Rubin

Mirna

082 779 0507

   

3 comments to “BHEEZZIG”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. rethia naude says:

    Mirna, ek stem en is só dankbaar dat ek geleer het om NEE te sê (al was dit eers na ek 50 geword het.)
    Ek het begin tyd maak vir myself en dinge wat belangrik is….., soos om te probeer om ten minste 2 klasse per dag te probeer doen.
    En as ek die oggend voel ek lê in…… dan maak ek só!
    Ek dank ons Pappa dat my lyfie nog kan oefen.

    “Blessings ” vir jou ook vir die Summer CHALLENGE!

  2. Mirna says:

    Dankie Rethia, trots op wat jy doen en vir jou voluit gaan!

  3. Colette Barnard says:

    Baie waar! Ons moet leer om “onbesig” te kan wees, net so 2 ratte laer leef