Skenker

“Ag, wil jul nie maar vir ons so `n paar ou klassies skenk nie?”, het ons agterosse die laaste paar dae spelenderwys geskimp teenoor die gelukkige, ywerige voorbokke wat digby 100 oefensessies het na ons 12-weke Winter Challenge…Hmpf, asof ek DIT nou sou toelaat,né!

Maar gepraat van skenk, het jy geweet Augustus is orgaanskenkingsmaand?  Toemaar, ek ook nie.  Hulle, dis nou die OSS (Die Suid-Afrikaanse Orgaanskenkingstigting) sê énige persoon wat goeie gesondheid geniet mag registreer as `n skenker. Mmm, dadelik sommer nog `n goeie rede om te begin oefen… 

Jy hoef nie vooraf enige mediese toetse te ondergaan nie, en daar is geen koste verbonde daaraan om jouself te registreer as `n skenker nie.  Net so is daar geen onkostes vir jou naasbestaandes na jou afsterwe nie.  Van die oomblik dat hulle toestemming verleen vir skenking, sal die hospitaal verantwoordelikheid aanvaar vir alle mediese uitgawes.  Moet net nie gedagtes kry dat dié besigheid jou en jou naasbestaandes kan ryk maak nie, hoor – nee, ou matta, dis onwettig om jou organe te verkoop!   

As mens so luister na die OSS klink dit nogal verspotmaklik om `n skenker te word, kompleet of jy `n orgaantjie soos `n kleurvolle geskenksakkie aan iemand oorhandig.  Tog is daar, terwyl ek hier sit en tik, meer as 4300 kinders en volwassenes wat wag op `n geskenk van lewe.  `n Tweede kans.  Minder as 800 van hulle sal hierdie jaar die organe ontvang wat hulle nodig het.

Het jy geweet jy kan tot soveel as sewe lewens red en nog 50 ander mense help deur bloot vir jou familie te sê dat jy na jou afsterwe `n orgaanskenker wil wees?  Dink net, jy kan dalk `n kind help wat op `n lewer wag, jou korneas kan `n dogtertjie se sig herstel, jy kan die een wees wat uitkoms bring aan `n brandslagoffer wat hoop op nuwe vel, of jy kan `n brandweerman red wat `n nuwe hart nodig het… Een onbaatsugtige besluit kan lewens verander.

Laat my dink aan die skatryk Brasiliaanse sakeman wat op 20 September 2013 sy duur Bentley motor begrawe het.  Op daardie dag het dié gesiene man blykbaar `n ope uitnodiging gerig aan die media om die “begrafnis” by te woon…Hy’t glo gesê hy begrawe die kar om eendag in die hemel in gemak rond te ry.  Regtig?!  Ja, oomblikke voor dié miljoenêr, Thane Chiquino Scarpa, die dure motor ses voet diep begrawe, was sy woorde: “People condemn me because I want to bury a million-dollar Bentley, while most people bury something a lot more valuable than my car.  They bury hearts, livers, lungs, eyes, kidneys. This is absurd. So many people waiting for a transplant and you will bury your healthy organs that will save so many lives.”

…En tog is orgaanskenking nie `n eenvoudige saak nie.  Veral nie vir `n lewende skenker nie.  Party mense noem dit altruïsme, ander noem dit masogisme.  In haar artikel in Spiritus oor orgaan-oorplantings skryf prof Barbara Newman oor al die implikasies van sulke skenkings vir mense wat dit ontvang en dit gee.  Sy sê mens moet nooit uit die oog verloor nie dat dit vir skenker en ontvanger raak aan die mees basiese dimensies van jou mens-wees.  Jy word op `n intieme manier aan iemand anders gebind – en dit terwyl dit so diep in `n mens ingebed is om jou eie persoon te wees.  En waar begin so `n gee-verhaal?  Wat is die redes, motivering, verwantskap en emosies wat met die skenking gepaardgaan?  Newman sê tussen al die warboel emosies, die ekstase en vrees bly orgaanskenking een van die mees onbaatsugtige aksies in die hele wêreld – dis `n heilige handeling, aangrypend onselfsugtig en opofferend. `n Onkoopbare nalatenskap.

Die TV-advertensie sê as jy doodgaan sonder om jou organe te skenk, dan vat jy ten minste een mens saam jou graf toe.  Sjoe, ek weet darem nie…Maar dis tog hartverskeurend om te dink dat net twee uit elke tien mense gehelp word, en dat net 0,2% van ons land se bevolking orgaanskenkers is.  So, wat kan ek en jy doen?  Registreer by die OSS.  Hulle sê dis maklik, dit vat net 5 minute, jy klik net op die webwerf www.odf.org.za of jy bel die tolvrye nommer 0800 226611

En as jy nog nie daarvoor kans sien nie, gaan skenk dan ten minste bietjie bloed.  Daardie 30minute uitstappie elke 2 maande kan 3 lewens red.  Jy moet net ouer as 16 wees en meer as 50kg weeg en nie `n ystertekort hê nie.  Party dae, soos verlede Woensdag toe ek `n Zumba-klas moes aanbied by Telkom se “Safety and Health Awareness” geleentheid, dan wens ek mens kon goeie maniere skenk soos jy bloed of organe skenk…want party mense het net doodeenvoudig minder daarvan as ander…

In “Lang storie kort” sê Jonathan van Radio Raps: “Die lewe is kort, maar dis die langste ding wat jy ooit sal doen.”  Nie almal van ons kom voor die geleentheid en uitdaging te staan om `n nier te skenk nie, maar ons kan elke dag skenkers van lewe wees in die klein dingetjies… Met elke R5-footjie vir `n vriendelike karwag (mits hy natuurlik nie drankwinkel toe draf agterna nie), met elke klein dingetjie wat jy tuisbring by jou kinders en doen vir jou man en met elke stukkie medemenslikheid teenoor vreemdelinge. 

“We make a living by what we get. We make a life by what we give”, het Winston S. Churchill gesê.  “Think of giving not as a duty but as a privilege”, was John D. Rockefeller Jr se wyse raad.

“Gewers”, noem die befaamde Afrikaanse skrywer, Hennie Aucamp, sulke mense – hulle wat hulle lewe lank letterlik gee – van hul kennis, hul vaardighede en hul wysheid, sonder om `n oog te knip.   Daar`s baie wat ek en jy kan skenk, behalwe bloed en organe en hare vir kanker – daar`s ons glimlag, ons tyd, ons ontvanklikheid, ons moeite, ons vriendskap, ons integriteit en ons aandag.  Ons kan almal skenkers wees.

Die manier HOE ons gee kan iemand optel-na-nuwe-hoogtes, die huppel terugsit in iemand se stap, `n groot-klip-uit-die-pad rol, of êrens sorg vir iemand se blink-oog inspirasie.  Wat gaan JY die week skenk van JOU vaardighede en jou menswees?  En bowenal, wat gaan jy skenk van jouself…?

Mirna

082 779 0507