WEER PROBEER…

Manoeuvres @ Mirna`s

“Probeer is die beste geweer”, het my pa aangemoedig toe ek jare gelede daar op die teerpad in Danie Cravenstraat voor ons plot my ysterperd die eerste keer sonder die kantwieletjies wou aandurf…

Ja, probeer bly altyd die beste geweer – die vraag is net, wat is jou skietding? `n Speelgoedgeweer of `n Bazooka?  Is maklik om te sê “ek het probeer”.  “Ek het my bes probeer”, het Jacob Zuma 2 jaar gelede gesê tydens sy laaste presidensiële toespraak.  Hmmm… “The greatest glory in living lies not in never failing, but in rising every time we fail”, was oud-president Nelson Mandela se legendariese woorde…

Probeer is `n relatiewe begrip… Is maklik om te sê “ek het probeer”.  Verspot maklik.  Dit het ek net laas week weer besef toe ek met `n skepties-geligte linkerwenkbrou luister na Katinka die Kat se nuutste Facebook-video.  (Ja man, jy weet wie’s Katinka – Katinka Oosthuizen, wat verlede jaar op Survivor geskiedenis gemaak het as die jongste deelnemer ooit op dié realiteitsprogram.  Vandag, op 20-jarige ouderdom is sy `n aanlynsensasie met meer as 82 000 volgelinge op Instagram)

In haar “Ek het probeer” video sê sy: “Ek het PROBEER blaarslaai eet terwyl die res van my gesin pizza eet.  Ek het PROBEER draf in die winter.  EK HET PROBEER…”  Nou kyk, dis nie eens dat ek die kind volg op sosiale media nie, nee.  Ek het toevallig op die tong-in-die-kies-video’tjie afgekom want `n Facebook-vriendin het dit gedeel …wat my verstand te bowe gaan, is dat die simpel storietjie (ek mag nie tik kommin nie) reeds deur 141 000 mense gekyk is en tot vanoggend het 671 mense reeds daarop kommentaar gelewer…Meeste praat soos een man agter haar aan – “ONS HAAT WINTER!  “ONS HET OOK PROBEER…”

Basta, man…Maar hoekom vind soveel mense aanklank by Katinka se storie?  Is dit omdat almal ken van so `n bietjie probeer en laat vaar?  “Ek hét probeer vroeg opstaan vir die vyfuur klas …werk nie vir my nie.”  “Ek hét probeer water drink …net te moeilik in die koue.”  “Ek het probeer minder sjokolade eet …kry nie my lus gehou nie”.  “Ek het die Challenge probeer maak …het net te besig geraak.”

“Het probeer” – sug, sug, sug… weet jy, ek het nuus vir jou – motivering gaan jou nie soos `n weerligstraal tref nie.  Dis nie iets waarmee selfhelpboeke of motiveringsvideo’s jou aan die brand kan slaan nie.  Ek sê: vergeet van motivering – doen dit net.  Begin oefen, verloor gewig, laat toets jou bloedsuiker, of wat ook al.  Doen dit sonder motivering – en raai wat?  As jy dit eers doen, dan kom motivering en maak dit vir jou maklik om vol te hou. 

Regtig, ek belowe – hierdie vakansie kom doen Mariné elke Donderdagoggend saam met ons die 5uur Pilatesklas – en raai wat sê sy een aand: “Mamma, dis ongelooflik, die tannies WIL daar wees, mens kan dit op hul gesigte sien…”   Dink jy dit was nog altyd lekker vir daardie 5uur-lot om te kom oefen?  Dink jy ek staan nog altyd maklik 10 oor 4 elke oggend op?  A nee a!  Dit het net uitgewerk presies soos die Harvard-sielkundige Jerome Bruner voorspel het: “Die kanse is beter dat jy kan begin lus voel as jy iets doen as dat jy sal lus voel om iets te doen…”

Het jy geweet meer as die helfte van verkoopsmense misluk omdat hulle nie `n tweede of derde keer teruggaan nie?  Omtrent 58 persent maak een oproep en stop dan.  25 persent maak twee oproepe en stop dan.  15 persent maak drie oproepe en stop dan.  Die 12 persent wat weer en weer teruggaan, maak 80 persent van alle verkope uit.  Dis die groep waarin ek en jy hoort… Nie om iets verkoop te kry nie, om ons drome waar te maak…Die geheim?  Harder probeer.

“Baie van die lewe se mislukking is mense wat nie besef het hoe na aan sukses hulle was toe hulle opgehou het nie”, het die beroemde Thomas Edison mos gesê.  In sy roemryke lewe het hy 1093 patente registreer, meer as enige uitvinder in die geskiedenis.

EK DOEN MY BES GEEN MENS KAN MEER DOEN NIE! is ‘n doodloopstraat. Hoekom? Want dit is oppervlakkig. Dit laat ons toe om op ons goeie dade te vertrou in plaas van op ons gesindheid.  In sy topverkoper “the light in the heart” skryf motiveringspreker Roy T Bennet:  “Never stop dreaming, never stop believing, never give up, never stop trying, and never stop learning…I am not going to stop when I`m exhausted…I only stop when I`m done…things are never done…that means I will never stop…”

Negentig present van al die lede in ons Challenge wat elke winter misluk, is nie eintlik verslaan nie – hulle gooi eenvoudig tou op.  Dis hartseer, maar dis waar.  Ek glo vas dié jaar gaan ons daardie statistiek op sy kop keer – 123 lede het begin – 113 is nog daar, met 4 weke oor…Admiraal Peary het 7 keer die Noordpool bereik voor hy dit met die 8ste poging reggekry het.  John Creasy het 743 verwerpingsbriewe van uitgewers gekry voor een woord van hom ooit publiseer is – uiteindelik is 560 van sy boeke publiseer waarvan meer as 60 miljoen eksemplare verkoop is.  Oscar Hammerstein het 5 mislukte opvoerings op die planke gebring voor Oklahoma, wat uiteindelik $7 miljoen verdien het.

Dink bietjie – het jy met jou jongste mislukking opgehou probeer omdat jy gefaal het, of het jy gefaal omdat jy ophou probeer het?  Het jy regtig jou bes probeer, soos in regtig? 

Iemand het eenkeer gesê dis niks om te val nie, maar as jy val, draai dadelik om, sodat jy die lig kan sien.  Moenie met jou gesig in die modder bly lê nie. Ek sê nie jy moet van `n padda probeer vere pluk nie, ek vra dat jy net so bietjie harder probeer dié winter. 

Probeer BLY die beste geweer.

Want as jy nie probeer nie, het jy nie eens `n halwe kans nie. 

Probeer is die beste geweer.

Probeer is hoop.

Nie sit en wag en hoop vir iets om te gebeur nie.

Hoop is aksie.

Opstaan.  Afstof.  Weer probeer.  Flop.  Opstaan.  Afstof.  Weer probeer.  En weer…

Want as jy nie probeer nie, sal jy nooit weet nie…

Dis net in probeer, dat jy jouself leer ken.

Jou kan.

En nie kan nie.
Probeer is ontdek.
En leer.
Vir volgende keer

Mirna

082 779 0507

4 comments to “WEER PROBEER…”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Maldi says:

    Wil net sé dis Regtig die waarheid – dankie vir die aanmoediging en bietjie ‘hardpraat’.. ek het dit nodig en waardeer jou insette, Mirna !!

  2. Theunet says:

    Sjoe!!! Hoe skaam kry ek nou!! Baie waar woorde Mirna!! As mens verskonings soek om nie iets te doen nie, sal jy BAIE kry!!

  3. Mirna says:

    Dankie Maldi, ek praat maat bietjie met mysekf ook hoor! ❤

  4. Mirna says:

    Dankie Theunet! Darem het jy heel winter geoefen!!! 😁