In die inleidingsparagraaf tot `n nuwe Blog skryf iemand onlangs: “Ons – die Van der Walts – bly nou in die Kaap. Ons is mal daaroor om te kamp, maar ons kamp nie genoeg nie. Ons is mal daaroor om te seil, maar ons seil nie genoeg nie. Ons is mal daaroor om te kuier, maar ons kuier nie genoeg nie…”
Kyk, ek dink regtig nie ons kan veralgemeen en sê dat mense nie meer kuier nie. Ek kén mense wat regtig nog behoorlik kan kuier. Ek weet die Pongoliete maak nog gereeld tyd vir langsaam kuier, lekker saam kosmaak en laatnag gesels. En daar’s mense soos ons goeie vriend André van Rooyen wat die kuns van kuier dubbel en dwars vervolmaak het…
En het ons eie Nataniël dan nie nou die dag nog reguit vir my gesê die lekkerste lekker in sy lewe is sy een-Vrydagmiddag-per-maand-kuier met sy vyf beste vriendinne nie? Ek het nogal gewonder oor hulle, en toe blaai ek Sondag deur Nataniël se eerste Kaalkopboek en lees hulle al vyf raak in “Banket”: Hierin vertel hy van sy bataljon vriendinne, sy leërskare plesiermakers en vertroosters wat hom bemoedig, versorg, kalmeer en op die hande dra – hulle is Therése, met die sagte stem, Diane wat so lekker kan lag, Mariëtte wat na haar geboorte nooit weer geslaap het nie, Charlene wat verslaaf is aan werk, enigiets wit en Woolies, en LeRien, wat geen vrese ken nie en al Nataniël se oorloë vir hom baklei as hy moedeloos raak.
…Maar tog is dit `n voldwonge feit dat mense minder kuier as veertig jaar gelede… Hoekom kuier ons nie meer so baie oor en weer nie? Omdat ons dit nie na donker op straat kan waag nie en liewer skuil agter ons hoë Fort Knox mure? Omdat ons nie kans sien om met stokstywe nekke laataand voor ons motorhekke tot stilstand te kom en te wonder of een of ander skermunkel ons oor die kop gaan slaan nie? Nee, dit kan nie net dit wees nie. Selfs die Amerikaners kuier dan minder… Ekonoom Joe Cortright het onlangs `n breedvoerige verslag hieroor publiseer in The City Observer. Die redes wat hy aanvoer? Tegnologie, wantroue, slimfone, onafhanklikheid, sosiale media…
Ons kuier nie meer nie, want ons vertel ons stories vir mekaar aanlyn. Jou niggie wil van haar Camino-staptog vertel, maar jy stop haar en sê jy’t die foto’s op Facebook gesien. Om ordentlik te wees vra jy of dit lekker was. En om terug ordentlik te wees sê sy sit was baie lekker en daar stop die gesprek. Sies.
En dan kuier ons nie meer nie, want ons het MOS te besig geraak…Kyk, dis nie dat ek dink ek`s danig slim dat ek weekliks so klokslag skryf nie…meeste van die tyd is dit `n manier om myself ook so bietjie oor die vingers te tik… En as dit by kuier kom, is ek so skuldig soos môre heeldag. Teen Vrydagoggend se laaste “body assessment” en stepklas vir die week het ek lankal my 81 075 woorde en al my emosionele energie vir die week opgebruik en dan raak ek `n regte huishen… Tot Maandag. (Ja, in haar boek “Wie het jou brein afgeskakel” skryf dr Caroline Leaf dat vrouens gemiddeld 16215 woorde per dag praat teenoor die manne se 15669 woorde… maal 5 is 81075, en dit sluit nie eers al die ekstra “komaan julle, nog net 16”, “mooi so’s” en “julle kan dit doen`s” daar van my verhogie af in nie☺)
Maar toe gee Schalk vir my Willie Spies se artikel “Keer terug uit dié ballingskap” in verlede Donderdag se Beeld om te lees, en ou matta, dit het my bloedrooi van skaamte gemaak. En so bietjie my hart gebreek… In dié artikel vertel Spies van `n ontbytgesprek met twee ou vriende – `n man en sy vrou. Die vrou vertel opgewonde hoe ongelooflik suksesvol hulle kinders is, dat sy soms bel om te hoor hoe dit gaan en dan dadelik hoor hoe besig hulle is. En dan uiter sy dié hartverskeurende woorde: “Ons woon net 24 km van ons kinders af, maar as iemand my vra waar woon my kinders, dan sê ek vir hulle my kinders het geëmigreer”.
Ek kry lekker skaam – my kleinsus Adelé woon net hier oor die bult in Bethal, en ons het Kersfees laas `n hond uit `n bos gekuier. Verlede week gaan drink ek tee by Madeleen op haar verjaarsdag – sy nooi my elke jaar, dis die eerste keer in vier jaar dat ek gaan. Te besig. Sies. Willie Spies se artikel het my aan die hart geruk. Hy vra: ”Het jy ook al geëmigreer? Ek praat nie van emigreer na Australië met sy vlieë, grootpraters en kangaroes nie, ek praat van emigrasie na jou eie klein privaat lewetjie toe… Nee, nee, jy`s nie `n kluisenaar nie, jy`s baie sigbaar. Sigbaar in jou werksomgewing. Sigbaar by sosiale geleenthede. Sigbaar in die openbare lewe… Maar die mense wat jou liefhet en jou mis weet nie waar om jou te vind nie. Hulle sien jou net so in die verbygaan – vinnig praat, vinnig groet, vinnig vra hoe dit gaan en dan terugkruip in jou dop, want jou pligte, take en verantwoordelikhede roep onversadigbaar om aandag…” Klink dit bekend?
Wilie vertel hoe hy nog goed onthou hoe hy een dag laat in November 2013 sy bejaarde pa gebel het en vertel het dat hy uiteindelik sy lessenaar skoon gewerk het en reg was om te kom kuier. Die volgende dag was daar egter `n krisis en sy tafel was weer vol lêers. Die kuier het nie gerealiseer nie. Vyf dae later is sy pa opgeneem in die hoësorgeenheid. Willie het elke dag daarna gaan kuier, maar sy pa kon nie teruggesels nie. Willie was te laat. En op Oujaarsdag daardie jaar het sy pa vir altyd emigreer na `n ander lewe.
Op Sondag 23 Junie 2019 skryf ek in my Blog: Ons – die Bothmas – bly in Ermelo. Ons is mal oor die wildtuin, maar ons gaan nie genoeg nie. Ons is mal daaroor om die son te sien ondergaan by die see, maar doen dit nie genoeg nie. Ons is mal oor kuier, maar kuier nie genoeg nie. Ons gaan dit meer begin doen. Punt.
Ek sê nie ons moet mekaar se drumpels deurtrap nie. Maar ek dink dis tyd dat almal van ons bietjie meer kuier. Regtig kuier. In die oë kyk-kuier. Mekaar bystaan, moed inpraat, laat lag, ophemel, aarde toe bring. In een van haar redakteursbriewe in Finesse skryf Liesel Krause-Wiid: “Die grootste geskenk wat jy iemand kan gee, is jou aandag”. Dit kos nie geld nie. Dit eet nie jou lugtyd of data nie, al wat dit vra is bietjie van jou tyd…In PG du Plessis se Siener in die Suburbs sê Tienie: “’n Mens wil nie soos `n hond vrek nie. Jy wil van geweet wees. O, ek wou so graag van geweet wees…”
Ons wil graag almal van geweet wees. Maar om iemand werklik te ken, te verstaan en saam met hulle te groei, vat tyd. Mens het mense nodig om voluit mens te kan wees. Ons is almal besig, maar soms moet ons kan afskakel. Die skootrekenaar opsy sit. Tydsaam gesels oor `n pot wat stadig prut. Rustig sluk aan `n glas wyn of `n koppie koffie. Fyn luister. Dieper kyk.
Kuier. Dis `n fyn kuns. Dit gee kleur aan die lewe. Maar die lewe is kort…
Mirna
082 779 0507
6 comments to “DIE KUNS VAN KUIER…”
Die mooi geskryfde stuk laat mens dink en saamstem. Dit voel soms of dit te veel moeite is om n kuier te reël maar as dit verby is was dit altyd lekker en die moeite werd!
Dankie Colette! Mis ‘n langsaam kuier met julle.
Jy raak my hart aan met hierdie wekroep! Ons ken nie meer die trek in iemand se oë as hy of sy oor iets praat nie😥
Ek mis klein-dorpie stofstraat kuiers waar almal mekaar gekén het!
Dankie Tina! Dis so waar!!!
Dankie Mirna, jy het my ook weer aarde toe gebring. Harde maar ware woorde. Mens is dit verskuldig aan jouself om soms af te skakel en te kuier.
Ja Lenie, ek het eintlik met myself geraas! ❤ ❤ Dankie jy lees…