Wat is ‘n huis sonder `n Moeder?

Ek weet, ek weet, Moedersdag is eers voooolgende Sondag, maar ek moet jou betyds bearbei…En glo dit of nie, maar dié Moedersdag wat kom gaan ek régtig nie oor my ma skryf nie.  Ek belowe. Njannies koepêla…

Sondag, 12 Mei, 2019, vier die wêreld vir die 111de keer Moedersdag.  Hierdie instelling is te danke aan die Amerikaanse tannie, Anna Jarvis, wat op 10 Mei 1908 besluit het om `n kerkdiens te hou in haar gemeente saam met `n klomp vriendinne. Hiermee wou sy hulde bring aan haar eie ma en sommer alle moedertjies.  Is dit nie hartseer om te weet dat Anna self in 1948 brandarm, blind en vergete in `n inrigting gesterf het nie…?

Volgens Google is daar om en by 1,06 biljoen ma`s in die wêreld…Tegnies gesproke, want of jy nou 16 of 82 is, jy kan jou nie daai titel van ma sommer net toe-eien as jy `n geboortegewer is nie!  Om dit titel “Ma” met onderskeiding te dra is nie sommer net `n val-uit-boom-ding nie. Die uitdrukking ”Wat is `n huis sonder `n Moeder?”, het jare gelede teen ons oumas se mure gepryk op gehekelde doilies.  Vandag is ons gelukkig, in baie huise is fantastiese Pa-ma`s – wonderwerkers wat self gereeld op “autopilot” gaan wanneer die res van die gesin in “overdrive” is. Wat help kosmaak en kinders aanry, en stryk en skooltake doen en skottelgoed was en kyk dat die hond se waterbak vol is en douvoordag opstaan en baie hard werk en laaste gaan slaap.

Maar ons vergeet ook partykeer dat daar baaaaie moeders in `n ma se netwerk is, en dié Moedersdag behoort ons op te dra aan hulle: dié 2,12 biljoen (and counting) ma`s in die wêreld…die pa-ma`s en vriendinne-ma`s, peetma`s, skoonma`s, oumas, huishulp-ma`s, juffrou-ma`s, dagsorg-ma`s, tannie-ma`s, sussie-ma`s en aupair-ma`s.  Want was IS `n huis sonder sy moeders????

Ek kan ook nie anders om hulde te bring aan elke oefenma nie – of jy hardloop, gym, fietsry, Crossfit, swem, boks, Pilates, BootyBarre of Step, “I see you”.  “I see what you do”. Niemand in die huis sê dalk elke dag hoe trots hulle op jou is dat jy jou oefenkleertjies aantrek en gaan oefen nie, maar eendag gaan die voorbeeld wat jy stel inslag vind in jou kinders se leefstylkeuses.  Glo my.

Ek dra spesiaal ook hierdie komende Moedersdag op aan elke voornemende ma, jong ma, ouma, trotse ma, hartseer ma, bekommerde ma, vrolike ma en enkelma.  En elke goeie ma…Jy wat sorg dat die gesin aan die beweeg bly, wat elke eksamen saam met jou kinders skryf, wat moerig is wanneer jou kind ontsteld is, wat laatnag help Google oor die emoes van Australië en prentjies soek van dinge wat begin met die letter “P”.  Wat vir die een kind “Frozen” opsit op die TV in die sitkamer en vir die ander ene “Incredibles” in die slaapkamer, wat die vrede bewaar, die wasgoed wegpak, die boeke oortrek, verlore skoene soek en skool toe jaag met `n vergete taak. Jy wat trots is by elke tenniswedstryd en prysuitdeling en ook jy wat regop sit in `n stoel langs `n hospitaalbed – jy`s `n goeie ma.

Jy`s NIE `n slegte ma as jy soms 2 minute-noedels voorsit, Nando`s vir aandete koop of vergeet dis entrepreneursdag nie.  Net omdat jy nie by elke skoolfunksie is nie, beteken nie jy stel nie belang nie. Net omdat jou kind nie Adidas-tekkies dra nie, beteken nie dat jy nie die beste vir hom wil hê nie. Net omdat jy nie jou kinders op eksotiese vakansies neem nie, beteken nie jy wil hulle nie die wêreld laat verken nie.  Net omdat jou nie elke dag jou kinders self by die skool gaan haal nie, beteken nie jy spandeer nie elke beskikbare oomblik hulle nie. En, net omdat jou kind nie die beste in alles doen nie, beteken nie hy is dom nie.

Op Moedersdag, Sondag 13 Mei 2012, het Steve Hofmeyr dié twee roerende sinne vir sy ma geskryf: “Hoe gepas dat Ma dié jaar geëer word met `n supermaan – Ma was so lank in Ma se kind se lewe die son en sterreryk, en dit het ma vir MY leer doen…om OP te kyk…”

…Al voel dit soms of jy jou bedanking wil indien as tienerhormone jou met `n kleilathou gooi en jy gaarder voel as die kos op die stoof – weet net jy bly `n goeie ma.   As jy jou kinders kan leer dat geld nie goeie maniere of styl kan koop nie en dat stilstuipe net tot die dooies beperk is. As jy jou kinders aanmoedig om toe oë te slaap en oop oë te droom, as jy vir hulle kan bid en as jy hul kan leer dat die Groot Wenstreep belangriker is as die een op die atletiekbaan, dan IS JY `N FANTASTIESE MA.

In sy boek “For one more day”, skryf joernalis Mitch Albom: “There`s a story behind everything.  How a picture got on a wall. How a scar got on your face. Sometimes the stories are simple, and sometimes they are hard and heartbreaking.  But behind all your stories is always your mother`s story, because hers is where yours begin…”

My boodskap vir jou op hierdie Moedersdag is dit:  wat jy doen maak baie saak en is verskriklik belangrik. En as jy so gelukkig is om Sondag JOU mammie te hê, loer by haar in, maak vir haar tee, bel haar, of stuur vir haar `n mooi boodskap.  Ky`t `n week tyd om iets moois te bedink, anders, maak net doodseker jy sê vir haar jy waardeer haar en dat jy haar verskriklik baie liefhet.

Moenie wag tot jy eendag met `n seer hart na haar verlang nie – sê betyds gelukkige Moedersdag.  Of bel haar sommer nou. Okei? My ma was `n rots mens, `n voel mens, `n lied in die hart mens, `n wilgerboom rus mens…Njannies koepêla.  Ek is baie seker joune is ook…☺  

En of jy `n pa-ma, vriendinne-ma, peetma, skoonma, ouma, huishulp-ma, juffrou-ma, dagsorg-ma, tannie-ma, sussie-ma of aupair-ma is – dankie, duisend miljoen dankies as jy `n  omgee ma, `n genade ma, `n vergeet en vergewe ma, en `n ek glo in jou my kind ma is. Gelukkige Moedersdag 2019!

Gelukkige Moedersdag 2019!

Mirna

082 779 0507

2 comments to “Wat is ‘n huis sonder `n Moeder?”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Colette Barnard says:

    Dis pragtig. Jys reg mens moet jou ma sê jy waardeer haar en het haar lief. Ek is jammer jou ma is nie meer daar vir jou nie. Jy mis haar baie

  2. Mirna says:

    Dankie Colette, ja die gemis bly maar altyd daar. Dankie dat jy my artikels so getrou volg, beteken baie!