MY 10 MINUTE MET NATANIëL…

Ek wonder of Francois Pienaar destyds so gevoel het toe hy wyle president Nelson Mandela die eerste keer in 1994 ontmoet het, of Kate Middleton, in 2008, voor haar eerste ontmoeting met koningin Elizabeth… Ek weet nie, ek gee ook nie eintlik om nie, ek weet net hoe’t ek gevoel verlede Saterdagoggend toe Adele WhatsApp:  “Dis gereël, jy’t presies 10 minute met Nataniël, 17:50 tot 18:00. “

Opgewonde soos ‘n Jack Russel in ‘n tennisbal-fabriek het ek my klerekas stormgeloop…”Wat gaan ek aantrek?!” En “ek sal moet plan sien met die grimering!”  Want ek wil regtig nie êrens in `n nuwe storie lees van die Ermelo-vrou met die afdraande gesig soos `n wasbak nie!  En wat vra mens dié ikoon in `n skrale 10 minute…?!!!

Ek hét al één keer vantevore met Nataniël oor die telefoon gepraat, of hy met my, en dit was ook nou nie so dat jy dit sou agterkom nie.  Dit het presies 7 jaar gelede gebeur, tydens sy vorige besoek aan Ermelo.  Mariné was in graad 7, en Nataniël se optrede het deel uitgemaak van Laerskool JJ se fondsinsamelingsveldtog.  Daardie aand moes ek klasgee, so die vertoning was my ongelukkig nie beskore nie.   

Presies 21:30 lui my foon: “Gaan julle dan nooit die kind kom haal nie?”, sê-vra die stem.  SY stem!  Voor ek `n woord kan uitkry, giggel Mariné: “Mamma kan vir pappa sê hy kan kom, ons is klaar”.  Ek dink nie eens daaraan om te sê “pappa” wag al lankal buite voor die ouditorium nie, ek gil net: “Sê vir hom ek wil NOG met hom praat!!!”  En dié “blitsgesprek” verloop toe iets soos dit:

“My ma sê sy wil nog met Oom praat”.  (Mariné)

“Nou wat wil sy hê moet ek vir haar sê….?  (Nataniël)

“EK GEE NIE OM NIEEEEEE, Sê VIR HOM EK WIL NET SY STEM HOOOOOOR!!!!” (Ek)

Sug.  Punt.  Finish.  Einde van storie.  Nodeloos om te sê dat ek van pure opgewondenheid nie eens daardie aand aan die slaap kon raak nie, maar darem nie kon help om te glimlag oor my 13-jarige dogter se opmerking toe sy by die deur inbars nie:  “Nataniël is baie gaaf, Mamma, maar hy sê ons mag nie sê “Oom” nie.  Hy sê ooms ry op trekkers, hy’s Nataniël.  Of tannie….☺☺☺

Almal wat my ken weet dat ek Nataniël al aangehaal het in elke redenaarstoespraak en rubriek denkbaar, en dat ek ‘n reuse-aanhanger is van hierdie meesterlike kunstenaar met sy vernuwende denke, ongeëwenaarde woordeskat, kreatiwiteit en grensverskuiwende benadering.

So, stiptelik 17:50 Saterdagaand wag ek en Adele Nataniël in op die syverhoog van die ouditorium.  Want eers word daar klanktoets gedoen en die vleuelklavier sommer gediens ook, en toe breek die groot oomblik aan.  GROOT OOMBLIK, sê ek vir julle, ek voel soos `n budgie wat Red Bull ingekry het.  Die stem waarin hy groet en gesels het dieselfde kenmerkende praat-sonder-leesteken-heesheid en doodeerlike aardsheid.  Ons kort gesprek is gemaklik, vol skaterlag-oomblikke en verloop kortliks so..(ek het nie memoriseer nie, ek het dit opgeneem).   Vier vrae gevra.  Net vier.  Beggars can’t be choosers.  Maar dit KON sewe vrae wees as Gerda en Adele nie so baie “ingechip” het nie… 

Nataniël, jy sê altyd inspirasie is iets waarvan jy heeltemal genoeg het, maar dat tyd `n faktor is.  Wat is die een groot ding wat jy graag nog sal wil aanpak?

Ek het net twee “bucket-list goed, die een was om ‘n roman in Afrikaans te skryf, dié het ek sopas klaargemaak.  Nou bly oor om `n Engelse novel te skryf… en as ek daar klaar is kan die Here my maar kom haal dan’t ek als gedoen wat ek wou.

‘n Ding wat ek nog altyd wou weet is dit – wanneer jy ‘n storie vertel, doen jy dit met dieselfde gemak, mooi taalgebruik, vlymskerp humor en vloei as wanneer mens jou stories lees – hoe op aarde kry jy dit reg?

Dis maklik – ek leer elke dag my teks vir die aand woord vir woord uit my kop.  Ek’s nie `n gewone kunstenaar wat elke sin begin met “my volgende liedjie is…” nie.  Jy oefen jou woorde en leer om te klink asof jy dit nie geoefen het nie.  Ons hou register van elke storie, uitrusting en liedjie – wat het ek voorheen op ‘n dorp gesê, wat het ek aangehad en wat het ek gesing.  Elke sin is woord vir woord, komma vir komma uitgewerk.  Niks is toevallig nie.  Behalwe as die skoolhoof van die dorp vir my mooi is, dan sal ek dit noem…☺ As jy nou simpel is en agter my aanry van show na show, dan jou m%&r, daarvoor kan ek nie help nie. 

Jy het oor die jare al baie geskryf oor oefen, kilogramme, die lyf, die lot.  Toe, in 2002, klim jy Kilimanjaro saam met Patricia Lewis en vertel breedvoerig van jou persoonlike afrigting ter voorbereiding.  Hoe voel jy vandag, in 2019, oor fiksheid?

Ek het nie baie tyd nie, maar ek is hiperaktief, so ek sit nooit stil nie.  Ek stap elke dag 12km op die treadmill.  Ek hét eers om die blok geloop maar toe sit die bure ‘n baie lelike sign op hul hek, toe word ek so kwaad oor die “font” dat ek nie meer daar kan stap nie want ek word te kwaad☺☺☺Ek doen ook yoga 3 keer per week tuis saam met `n persoonlike instrukteur.  Min mense is bewus daarvan dat ek ly aan permanente ontsteking van die kraakbeen, so ek gee twee uur per dag weg aan my seer lyf – om dit te normaliseer sonder chroniese medikasie.  Mens is dit aan jouself verskuldig.

Jy het onlangs gesê dat jy nie mal is oor die woordjie “lekker” nie, maar dat “lekker” jou lewensredder is.  Jy sê lekker gaan oor meer as `n koppie tee of skelm eet, dis iets wat vooraf beplan moet word om te gebeur.  Wat is jou lekkerste lekker in die lewe?

(Ek kan ongelukkig nie sê wat Nataniël se eerste antwoord was nie) Om ‘n mooi kunswerk te koop.  Ek reis die wêreld agter `n mooi skildery aan, ek versamel rare voorwerpe en boeke.  Terwyl ander mense oorsee shows kyk, travel ek van die een kunshandelaar na die ander.  My ander lekker is om een Vrydag `n maand met my bende te kuier (hulle is ek en 5 vroue wat verbysterend kan kook.  Hulle is ook my 5 beste vriendinne).  Ja, een Vrydag `n maand tree ek nie op nie.  Dan dek ek `n fantastiese tafel, ons maak fantastiese kos, drink Franse sjampanje en warrie glad nie dat die wêreld sal vergaan nie.  Dis al wanneer ek ontspan, een Vrydag `n maand.  En dis die lekkerste van my hele lewe.

Hoe voel jy oor die platteland?  Kyk jy ons nie so en dink, ag siestog nie?

Glad nie.  Onthou ek het op drie plattelandse dorpe groot geword, dis al wat ek geken het.  Maar ek dank my sterre ek’s daar uit.  Ek lei ‘n baie teenstrydige lewe – ek is `n kluisenaar, ek woon in my eie woud, my personeel kom in en hulle gaan uit, maar ek’s op my eie. Ek kan egter  net ontspan as ek weet ek is binne 10km van `n boetiek.  Ek wil niks daar hê nie, ek wil net weet dis available. As die son water trek, moet jy vir my stad toe vat, ek raak histeries.  Dis `n weird ding – ek wil my involvement kies, ek wil nie betrokke wees by dié buurtwag of dié straatbraai of daardie omgeegroepie nie – my keel trek sommer toe as ek daaraan dink.   Maar onthou, al my stories kom uit die platteland, ek het niks teen die platteland nie, dis my hele verwysingsveld.

…Ek sou baie graag nog vir Nataniël wou vra wat laat hom huil, en dans en lag?  Maar sommer net so, woerts, was my tien minute om – Nataniël moes nog gaan regmaak vir die vertoning.  En wat ‘n vertoning was dit nie!  Die oomblik toe daardie sangstem van hom met die baie nuanses die ouditorium vul met “Blue Bayou” was almal vasgenael.  Sy stories – droogweg, plesierig, skreeusnaaks en roerend.  Hy gesels oor kommer en oorlewing, prestasie en twyfel, opstandigheid en oorgawe. Elke storie laat jou met ‘n lewensles.  En deurentyd is dit duidelik – hy is anders as ander kunstenaars – toe die gehoor wil saamkliek met die vingers is hy vinnig om te sê: “Hierdie is nie `n groepsaktiwiteit nie…☺”  En toe iemand se selfoon ongeskik lui in die gehoor, is hy gou met ‘n kwinkslag: “’n Walglike ringtone is altyd ‘n weerspieëling van ‘n mens se persoonlikheid…”

Eksentriek?  Sekerlik, want hy maak dit duidelik – hy haat gewoonheid.  Sy hele lewe lank was hy anders en so sal dit bly.  Almal weet dat sy ouma Maria Burger – die perfekte kombinasie van wildheid en grasie – sy grootste aanhanger en aansporing was. Sy het altyd vir almal gesê ‘los die kind, hy sal nog sy niche vind’. En hét hy nie… Vandag is ons Nataniël volksbesit.

Hoekom het ék Nataniël op ‘n troontjie gesit, laaaank terug al?  Want hy’t nog nooit sy uniekheid prysgegee nie.  Hy’s `n goedhartige, lojale en vrygewige mens, ‘n meester op alle gebiede, werk harder as meeste mense en verdien alle sukses wat na sy kant toe kom. 

Die mooiste, beste woorde wat ek hom nog ooit hoor sê het, en waarmee ek met my hele hart identifiseer, is dit: “Die grootste les wat ek ooit geleer het, is dat kwaliteit en geluk bepaal word deur hoe naby jy in jou leeftyd kom aan jou roeping.  Om elke oggend wakker te word en te weet niemand gaan my voorskryf wat om te doen nie, dat ek ‘n verskriklike dag voor het, en dat 99 persent van wat ek doen my gelukkig maak, is ‘n ontsettende groot voorreg…”

Nataniël, in jou andersheid lê jou grootste bekoring.  Mag jy nog vir baie jare ons vermaak, uitdaag, inspireer, amuseer en betower met jou meesterskap.  Jou waarheid is mooi, jou grappe waar en jou musiek eerlik.  Baie dankie dat ek jou in die oë kon kyk vir 10 goue minute.  Ek sal dit nooit vergeet nie.

Mirna

082 779 0507

5 comments to “MY 10 MINUTE MET NATANIëL…”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. ELAINE LANDMAN says:

    Awesome…..Mirna, love dit!

  2. Mirna says:

    Baie, baie dankie liewe Elaine!

  3. Colette Barnard says:

    Dis n pragtige stuk oor Nataniel. Goed geskryf! Wens hy kan dit lees.
    Kaalkop, sy boek, is in ons boekrak. Sien uit na sy volgende boek

  4. Mirna says:

    Dankie Colette!!! Ja, ek dink ek het AL sy boeke!

  5. Ruanette says:

    Pragtig geskryf Mirna! Ek kon alles in my geestesoog sien afspeel! ☺️ Ek het baie lekker gelees!