Kwaaitjie Kabouter

Onthou jy hom?  Daardie boodskappertjie van koning Rosekrans in Liewe Heksie se storie wie se frons gereeld soos ploegvore op sy voorkop gelê het…?   Beswaard.  Boos. Beduiweld.  Briesend.  Ons almal ken daai gevoel.  Kwaadword is so oud soos die berge.  Een of ander slim rekenaar het 1390 sinne in die Bybel getel met die woord “kwaad” daarin.  In elkeen van ons skuil daar `n Kwaaitjie Kabouter met wie ons een of ander tyd spartel…

Wanneer jy klein is leer jy vinnig `n paar lewenslesse oor kwaadword – jy leer vinnig dat jou ma nooit jou hare moet kam wanneer sy kwaad is vir jou pa nie. Jy leer dat Moeg Gepraat `n selfstandige naamwoord is wat in die kombuislaai wag.  En as jou sussie jou slaan, leer ervaring jou dat jy nooit moet terug slaan nie, want jou ma betrap altyd die tweede persoon…☺  Hulle sê daar`s geen vrou wat so goed huis skoonmaak soos een wat kwaad is oor sy dit alleen moet doen nie, en so leer ons almal met tyd, dat kwaadword `n natuurlike emosionele toestand is.  Ook weet ons dat ons graad van kwaadgeit kan wissel van jouself liggies vererg tot `n vernietigende woede uitbarsting…☺

Terwyl jou flikkerlig wys jy`s gereed om by die oop parkeerplek in te trek, draai `n motor woerts voor jou in.  Jy`s onmiddellik so boos mens kan `n aartappel in jou gaarmaak.  Jy staan twee en `n half ure in die ry by die bank – jy kan slange vang.  Die verkeerskonstabel wat die boete uitskryf behandel jou soos `n stout kind – jy wil ontplof.  Briesend oor die kelner stadig is.  Woedend oor iemand jou selfoon gesteel het… So kwaad dat dit net hier skuins onder die borsbeen teen jou maag kom vasklou. So vererg dat jou asem jaag en jou hart klop.

Ons mag kwaad word.  Dis nodig om soms behoorlik kwaad te word.  “Om om die regte redes en op sinvolle wyses kwaad te raak is nie alleen nie verkeerd nie, inteendeel, dis `n noodsaaklike uitdrukking van liefde, van die feit dat ons verdomp nog omgee -vir ons mense, vir ons land en vir die wêreld”.  Dis nie ék wat so lelik praat nie, dis `n geleerde kerkman, Cas Wepener, wat so skryf in sy boek “Kookpunt”.

Onlangse neuro-wetenskaplike navorsing toon aan hoe woede die mens help om in gevaarlike omstandighede te mobiliseer.  Ons word kwaad ten einde te oorleef en ons word kwaad wanneer dit waarvoor ons lief is, bedreig word.  Punt. En sommige onregte soos die Ghoemas en die renosterstropery en die plaasmoorde is ons woede werd.  Dubbel en dwars.

…Maar hoekom voel dit asof die wêreld deesdae permanent kwaad is, en hoekom voel dit of mense elke dag net kwater en kwater raak?  Vir die stadsraad, vir die regering, vir Donald Trump, vir die wêreld…Wat loop verkeerd met `n mens se woedesnellers wanneer jy `n motoris by `n kruising in Kaapstad met `n hokkiestok doodslaan net omdat die ou sy ligte vir jou flits?  Hoe sleg is dit om te hoor dat daar vandag 30 Afrika-lande is wat meer vreedsaam is as Suid-Afrika?  En hoe kwaad moet `n mens wees om 500 Christene in 3 kerke in Sri Lanka om die lewe te bring?  Ek weet nie…

En hoekom is daar deesdae al hoe meer altyd-kwaad mense om ons ?  Het jy ook al agtergekom, daar`s regtig mense wat hou van baklei, hulle is gedurig skoorsoekend lus vir rusie.  Hulle “love `n fight”, soos die Engelse sê.  Dit vat nie veel om hulle kwaad te maak nie – eintlik SOEK hulle sommer rede om kwaad te wees, en dan waai die kwaadgeit ook nie sommer oor nie.  Nee, ou matta, hulle koester die wrokkigheid vir jaaaare – kyk anderpad in Pick n Pay, verander van gemeente, blok `n nommer op WhatsApp, gaan sny hulle hare op `n ander plek, kuier nie saam Paasnaweek nie en dink lank voor Desember verskoning uit om die pad te vat net om nie saam met die skoonfamilie om die Kersboom te sit nie…Partykeer kan ek nie help om te wonder nie – is sulke mense nie dalk kwaad vir hullesélf nie…?  Of gebruik hulle dalk die woede om gevoelens van onsekerheid in mag te verander ?  Hoe moet ek weet?  Ek`s nie `n sielkundige nie, ek vra net. 

Vandag vier ons Moedersdag, en terwyl daar in derduisende huise regoor die wêreld gebraai, gekuier en gepoeding word ter viering van ma`s, kan ek ook nie help om te wonder in hoeveel huise daar vandag gewrok, gewroeg, geïgnoreer, geveg en geswyg word nie.  Ek wonder of Suid-Afrika se “Bachelor”, Lee Thompson vir SY ma `n boodskap gestuur het vandag…ek ken nie sy storie nie, maar ek hoop met my hele hart dat SY die een was wat vandag `n rooi roos uit sy hand ontvang het…  

 “An angry mind is a narrow mind”, het Bruce Lee jare gelede gesê.  “Anger is an acid that can do more harm to the vessel in which it is stored than to anything on which it is poured”, het die skrywer Mark Twain tereg opgemerk…Jaaa, maar dis makliker gesê as gedaan om jou lip te zip as jy jou m&#r strip.  Ek weet. 

My oupa het eendag gesê: “Niemand maak jou kwaad nie.  Jy maak jouself kwaad.”  Ek dink Oupa was reg.  Dalk moet ons tot tien tel en `n lekker vloekwoord los en oor dit kom.  Want die Amerikaanse Hartvereniging sê die gevaar om beroerte te kry, is twee keer groter vir mense wat woedeuitbarstings kry as vir dié wat hulle humeur beteuel.  Maar aanhou swets gaan nie help nie, dis net stomppunt-pyle wat kneus en seerplekke maak wat nooit gesond word nie. 

…As daar êrens in hierdie provinsie `n ou rondloop vir wie jy nog `n bietjie of sommer baie kwaad is – Skud dit van jou af.  Ek weet, dis nie maklik nie.  Die laatstaan-stuk van kwaadgeit is die moeilikste. Kwaad word is okei en menslik.  Kwaad bly is moeilikheid soek.  Sleg vir jou gesondheid.  Nog slegter vir jou gees.

As jy kans sien, gaan maak vrede…of laat gaan.

Want, skryf Lewis B Smedes:  “Om te vergewe is soms om `n gevangene vry te laat, net om te ontdek daardie gevangene was jyself…” En wie weet, Kwaaitjie Kabouter, dalkies MOET jy eers jousélf vergewe…

Mirna

082 779 0507