…Daar word vertel dat ene Abed ar-Rahman III, die magtige heerser van Spanje van 1912 tot 961 nC, aan die einde van sy lewe die volgende gesê het: “Ek is geliefd onder my onderdane, gevreesd deur my teenstanders en gerespekteer deur my bondgenote. Rykdom, mag en plesier, dit was alles tot my beskikking. Onder hierdie omstandighede het ek noukeurig die dae waarop ek suiwer en opreg gelukkig was, aangeteken. Daar was net 14 van hulle…”
Verstommend – `n fabelagtige, magtige heerser wat meen dat hy net 0,077% van die tyd gelukkig was…In daardie 50 jaar, wonder ek, hoeveel keer het ar-Rahman geantwoord “goed dankie” wanneer iemand hom gevra het hoe dit gaan. Dalk meeste van die tyd, want dis mos maar hoe ons geleer word om te maak.
Ja, een van die drie belangrikste dinge wat ons as kinders vroeg-vroeg leer, is om in ons moedertaal mooi hoflik te sê “asseblief”, “dankie” en “hoe gaan dit?” (Teen dié tyd weet ons dat dit moedertaal genoem word omdat vaders nie veel van `n spreekbeurt kry nie, maar dis `n storie vir `n ander dag☺). Dis net die Amerikaners wat dit blykbaar bietjie anders doen – Mens sien dit in elke TV-reeks en fliek…hy sê “hey”, dan is daar so `n lang, swanger stilte waarop sy antwoord “hey”, en dis dit – `n hele gesprek opgesluit in twee woordjies.
Maar ons het geleer mens vra “Hoe gaan dit met jou?”, en op dié eeu-oue, beproefde, niksseggende, niks-rêrig vraende vraag is daar duisende variasies op dieselfde antwoord. “My skatjie, ek moet net keer of dit gaan beter”, is my pa se gunsteling. “Goed, en jy?”, sê Helen elke oggend klokslag 7uur in die studio. “Klopdisselboom”, het ek ons laerskoolhoof graag hoor sê, dan het ek geweet hy bedoel dit gaan so goed dit kan nie beter nie! My oupa se geliefkoosde antwoord was: ”My pols is swak en my bloed is dun, maar dit gaan goed met my soos min…”
…Maar het jy al agtergekom, mens kry mense met wie dit NOOIT eers effens goed gaan nie? Of liewer, `n “baie goed, dankie” is nooit in hul “hoe gaan dit nog met jou”-woordeskat nie. Hul sal sê: “stil soos `n landmyn – moet net nie op my trap nie”, “darem nog in een stuk”, “`n toe bek is `n heel bek”, “ek skop darem nog”, “aanhou, uithou, kophou of bekhou”, “arm maar geduldig”, “my kop is darem nog in die lug en my voete op die grond, of “ek het darem gelukkig vanoggend BO die grond wakker geword”. Jikketie-jiks! Selfs dit kan eintlik nog gaan – maar ek het `n kleintjie dood aan mense wat sê: “Nee, dit gaan goed dankie”, asof hulle twyfel of dit regtig goed gaan, of “kan nie kla nie”…wat beteken dit?! Kán die persoon nie kla nie? Of wil die persoon nie kla nie? Partykeer sal een wel vir jou sê: “Ek wil nie kla nie”. En dan trek sy los….(sug).
Kyk, ons kan darem nie nalaat om oor die ander kant van die muntstuk OOK te praat nie. Het jy al agtergekom hoe mense sê “Hallo, hoe gaan dit?”, sonder om eers te wag vir `n antwoord terwyl hul verby jou stoom op die stoep voor Clicks…So in een asem – hallo en hoe gannit en koebaai en daar trek hulle…Groet dan eerder met `n “Yes,yes!” of `n wuif of `n kopknik of `n glimlag, maar moenie vra “hoe gaan dit” as jy nie regtig omgee oor die antwoord nie, al weet jy ek gaan net sê “goed dankie, self?”
“Goed dankie, self?”, sê meeste van ons. Ek dink nie eers hul gaan dié skrywe onder oë kry nie, maar ek weet van drie besigheidsmanne in ons dorp wat ALTYD sê dit gaan fantasties – Braam, Cliff en Hennie. En ek is baie seker hul kan nie altyd fantasties voel nie, maar dis hulle standaard antwoord, en dis nogal regtig verfrissend vars en vrolik om te hoor!
In sy boek “Good to great” skryf die Amerikaanse besigheidskonsultant Jim Collins dat goed die grootste vyand van “great” is. “Greatness is not a function of circumstance. Greatness, it turns out, is largely a matter of conscious choice, and discipline”, skryf hy. Volgens hom is dit dan ook die rede waarom baie dinge net goed bly en nooit uitsonderlik word nie, want dis net baie makliker om tevrede te raak met doodgewoon “goed”.
“Hy is dood goed en goed dood”, het my ma altyd in haar onderwys-dae gesê van iemand sonder lus vir die lewe. Sy het tot aan die einde van haar kort lewe dikwels verwys na Covey se “law of abundance”. Dat daar oorvloed in die lewe is. Genoeg vir almal om “great” te kan lewe.
“Jy ken nie my lewe nie”, hoor ek jou sê. “Jy weet nie waardeur ek is nie”. Jy’s reg, ek ken nie jou storie nie, ek weet nie hoe alles verkeerd geloop het nie, hoe jy ingeloop en beduiwel is nie. Ek ken nie jou seer nie. Ek weet net, as Pierre van Lilly, elke liewe keer as ons vra kan sê dat dit gaan goed met Lilly, onder die omstandighede, dan behoort ek en jy elke dag te sê dit gaan met ons fantasties.
Die bekende gewyde gesang, “All is well with my soul” is jare gelede geskryf deur die prokureur Horatio G Spafford, enkele dae nadat hy die verskriklike nuus verneem het dat al 4 sy kinders in `n bootramp omgekom het. Dalk is dit waarop dit neerkom – dat dit goed gaan met jou siel, al sou die vyeboom nie bot nie, of die huislening nie deurgaan nie, of jou seun nie gesond word nie, of die hardnekkige 10kg wat jy oorgewig is nie wil wyk nie. DIT. GAAN. FANTASTIES. Toe sê dit bietjie…voel hoe proe dit om SO te antwoord op dié eeu-oue, beproefde nikssegende, byna niks-rêrig vraende vraag. Hoe gaan dit vandag met jou? Sê bietjie: “Dit gaan fantasties, ek voel soos `n oorlogskip op `n visdam, ek moet net keer of dit gaan beter! ☺☺☺
Mirna
082 779 0507
2 comments to “Hoe gaan dit nog met jou?”
Dki Mirna! Uitstekend, soos altyd!
Baie dankie, Lenie! Jy maak altyd my dag!