NOG `N SOMERSON-KERSFEES…

Jip, hier`s ons al weer in die middel van Desember, die jaar 2018 begin al so `n bietjie na sy asem snak en Kersfees is net 12 dae ver…Kersfees vir jou, vandag, is dalk ook nie meer die regte denneboom-Kersfees van jou kleintyd met `n hoop toegedraaide geskenke in die stoorkamer en George Zamfir se panfluit oor die Hifi en kalkoen in die oond wat jy tot in die straat ruik nie, maar Kersfees bly Kersfees.  Little Drummer Boy speel steeds in elke winkelsentrum, oral is vonkelliggies en opgewondenheid en te midde van vol kattebakke en leë beursies het die seisoen TOG `n manier om `n mens sagter te maak, rustiger, dankbaar, vergewensgesind.  Kersfees is familiefees, en al loop dinge in gesinsverhoudings gedurende die jaar bietjie skeef, kry ons met Kersfees die geleentheid om weer nuut en reg te maak.  Want al was ons nie daar nie weet ons dis waar… 

En soos elke jaar dié tyd neig ons mos so bietjie na terugkyk op en terugdink aan al 2018 se onthou-oomblikke.  Ek raak so opgewonde soos `n veldhaas in lang gras as ek dink aan al die duisende klein momente van 2018 – dit was `n goeie jaar!  En ek`s dankbaar, dankbaar, dankbaar!  Maar natuurlik was daar ook skerppunt-oomblikke, tye toe die pad draaie geloop het wat ons nie voorsien het nie, en ook wakker lê-oomblikke, wat meestal nie regtig die verlore slaap werd was nie.  Daar`s ook die wonder-oomblikke…`n swetterjoel van hulle:  ons wonder wat ons nou eintlik bereik het, of ons `n verskil gemaak, iets vir iemand beteken het en van die wêreld `n beter plek gemaak het.

Dalk moet mens nie so baie wonder nie. Maar ek wonder nogal waarom mense elke jaar dié tyd sê: “Hierdie Kersfees eet ons lig”, en teen die 26ste is almal weer dik gevreet.  Ek wonder waarom mense vir 11 maande en 10 dae by mekaar verbyleef en dan skielik mooi wense en beloftes soos kosmosse laat opslaan en uitdeel. 

Ek dink nogal aan Rian van Heerden en sy geskerts op Jakaranda oor sy 732 luisteraars.  Tierlik weet ons hy grap net – Wikipedia meen dié gewilde radiostasie spog met 2 miljoen luisteraars, waarvan dié draai-geen-doekies-om-aanbieder van “The Scenic Drive” sekerlik elke middag `n kwart hiervan op hul pad huis toe vergesel.  Ek is ook nie verbaas om te lees dat ons geliefde inheemse Sarie-tydskrif spog met 2 miljoen lesers nie, en dat 435 000 Suid-Afrikaners weekliks die Huisgenoot van die rak af haal nie…

Daar was `n stadium wat ek so in die stilligheid gewonder het of meer as 18 mense  hierdie weeklikse Maneuvres lees (ja, daar`s verseker 18!) …maar dié jaar het `n paar dinge gebeur wat my laat ophou wonder het…Schalk sê hoe dit hom gereeld  met `n traan in die oog laat, André van Pongola het gesê dit laat hom elke keer voel of hy so 4 meter bo die water kan loop, tannie Wendy sê sy knip dit elke week uit, Eswee sê hy weet van geen mens met `n beter werk-etiek as sy eie ma nie (dis nou ek☺) en Adele (van die Insig homsélf) het gesê dit verryk mense se lewens en ek mag volgende jaar by wees wanneer sy `n persoonlike onderhoud met Nataniël gaan voer!  So daar`s een ding minder waaroor ek volgende jaar dié tyd gaan wonder – dié rubriek IS die harde werk en baie ure se moeite werd! Dubbel en dwars.

…Ek onthou hoe een van my standerd 6 F-leerders een jaar só geantwoord in `n Afrikaanse eksamenvraestel… “Maak ‘n sin met “ter aarde bestel.” Wie op ter aarde bestel so ‘n groot koek? Vertaal in Afrikaans: “I beg you pardon?” Huh? Wat noem ons iemand wat velle looi? ‘n Onderwyser.

Die idiome het hy só voltooi:  “Die mens wik, – maar die slang pik”, “Buig die boompie – oor die stroompie”.  “Hoe meer haas – ek weet nie, maar `n baie geseënde Kersfees vir juffrou en juffrou se familie…”  ek is tot vandag toe nie mooi seker of hy ernstig was nie, maar vir goeie humorsin wou ek eintlik bitter graag `n paar punte gee.

En soos hy, wil ek ook graag sê: “Geseënde Kersfees vir jou en jou familie”.  Moenie nou al dink aan die nuwe jaar wat wag om jou binne te nooi nie, gaan vier eers Kersfees.  Behoorlik.  Want daar`s soveel om voor dankbaar te wees – As jy kos in die yskas en `n dak oor jou kop het, is jy ryker as 75% van die wêreld se bevolking.  As jy geld in jou beursie en `n paar rand in die bank het, is jy deel van die wêreld se 8% toprykes.  As jy soggens wakker word en gesonder as siek is, is jy meer geseënd as een miljoen mense wat nie hierdie week gaan oorleef nie.  

Ek hoop jy kan êrens in die Desember-malligheid `n bietjie stil word, want, soos  Michélle van Breda skryf in haar redakteursbrief in Sarie, “Is dit dan nie juis die kosbaarheid van Kersfees nie?  Daardie hemelse stilte – wat geen geld kan koop nie.”  Ek hoop jy kan ook ervaar dat dit lekkerder is om te gee as om te ontvang.  Ek hoop jy kan `n paar oggende slaap tot jy wakker word.  Ek hoop jy kan die klanke van `n vol huis in jou oor sement en in jou hart knoop. Ek hoop jy kan iets eet wat jy soos `n seëning oor jou tong kan laat spoel en as spesiaal onthou.   

Kersfees kom net een keer per jaar.  Mag jy sagter wees met álmal om jou, want hulle het, nes jy, nog `n jaar oorleef.  Mag jy die vrolike mense en hardwerkende personeel in die oorvol winkels raaksien en waardeer.  Mag die gekwetter van kinders en familie jou vervul met vreugde en die berge skottelgoed oornag in molshopies van genade verander.  Mag jy ons warm somer uitbundig omarm en neurie: parampapampampam!  Mag iets iewers gebeur om jou aan die basiese goedheid van die mens te laat glo. En, mag jy Vrede hê…

En as jy regtig niks van hierdie dinge het nie, begin onmiddellik soek.  Want êrens moet daar iets moois wees.  En as jy regtig niks kan kry nie – WEES dan self daardie iets.  Gee iemand `n drukkie.  Of glimlag as jy nie `n drukkiemens is nie.  Bak iets, of koop dan, man, maggies, en gee dit weg.  Lees `n boek, soen `n baba, streel `n kat, eet `n roomys, stuur `n Whatsapp.  En wees dan dankbaar.  Want êrens is iemand wat minder as jy het…En onthou: hoe meer haas…hoe minder spoed.☺☺☺

Tot volgende jaar.

Mirna

082 779 0507