Ek dog eers ek hoor verkeerd toe Michelle Donderdag “matter-of-factly” aankondig dat ons die Powerpump klas gaan afsluit met ‘n twee-minute plank! Die sweet het ons op daardie stadium reeds afgetap, en dit was ook nie asof ons eers so ‘n bietjie kon lyf wegsteek nie – ons GoPro-kamera was kliphard besig om dié klas te verewig vir ons Patreon-argief! Twee minute kan lank raak, veral as jou arms begin bewe en jou maagspiere brand …
Net voor Michelle haar stophorlosie se knoppie druk, sê sy doodluiters: “Verbeel julle julle is êrens op ‘n lekker plek …” Ek val plat, en wonder waarheen hierdie saal vol rooi gesigte en moeë lywe nou in hul koppe reis … Iewers op ‘n stil strand, êrens in ‘n berghut, dalk onder die skadu van ‘n wilgerboom, of langs ‘n rustige meer?
Ek sluit my oë vir ‘n oomblik, en onthou die laaste Saterdagmiddag van my kuier by Zander, Mariné, en Nina, daar in die mooie Blaauwklippen se grasgroen tuin. Ek herleef die groot ou eikebome wat hul takke wyd uitstrek en sagte koelte oor die gras gooi. Die berge wat blou en rustig in die verte lê, en Nina se brabbeltaal en laggie in my ore, met haar blonde koppie styf teen my bors. Salig.
…In “The secret of Secrets” skryf Dan Brown oor iets wat die wetenskaplikes “remote viewing” noem – die mens se vermoë om met jou gedagtes plekke te sien waar jou liggaam nie fisies is nie. In die 1970’s het die Amerikaanse weermag ‘n projek begin om vas te stel of mense veraf plekke kan “sien” met hul gedagtes.
Ingo Swann het glo strukture op Jupiter beskryf voordat ruimtetuie dit bevestig het, en Pat Price het tydens navorsing in die Stargate-program blykbaar ‘n geheime Sowjet-installasie beskryf.
Ek weet te min van hierdie dinge om enigsins my mening daaroor te lug, maar ek weet één ander ding: ons verbeelding beskik oor die wonderlike gawe om ons na ander plekke te verplaas. Miskien is dit hoekom ek so lief is vir storieboeke. Hulle doen presies dieselfde. Sonder ‘n vliegkaartjie of ‘n reistas, voer hul my mee na eksotiese en idilliese bestemmings.
Elders. As kind het ek altyd gewonder waar op dees aarde die sogenaamde “elders” is, waarna weervoorspellers so graag verwys. Nes “plek-plek!” “Plek-plek gaan daar donderbuie wees.” “Elders is dit mooiweer en warm …” Dis verseker nie Ermelo nie – hier by ons het die seisoen al November gedraai.
Ons het almal hierdie geneighdeid om na “elders” te hunker. Plekke waar alles net ‘n bietjie mooier en warmer lyk. En waar makliker omstandighede soos ‘n pot goud begrawe lê, êrens, by die bereiking van doelwitte en mylpale. Die term “destination addiction” is deur die Amerikaanse skrywer, dr Robert Holden geskep. In een van sy boeke, “Authentic Success” verduidelik hy hoe ‘n mens verslaaf kan raak aan die soeke na geluk as jy voortdurend dink dit lê om die volgende draai. Elders …
Amper soos ‘n verveelde goudvis wat uit ‘n klein bak verlangend loer na die wêreld daar buite. Ons almal het een of ander tyd al gemymer, “Ai, ek wens ek was nou daar!” Soos die man op die trein in Totius se gedig, “Repos Ailleurs” (Die rus is elders.) Die man op die trein kyk verlangend deur die venster na ‘n tentjie in die veld en sug: “Was ek net/ in die tentjie klein/ ek sou tog so gelukkig syn.”
Wat is dit met die mens, en elders? Party dae voel dit mos amper asof alles beter lyk, elders. Elders sit mense op ‘n klipmuurtjie langs ‘n Italiaanse kusdorpie. Wasgoed wapper oor nou straatjies, en die middag ruik na sout en vars gebakte brood. Elders loop ‘n grondpad deur laventelvelde in die Franse platteland. Elders in Worcester dwaal Eswee en Nicole rustig met Mia deur die stil straatjies van Altona Village tydens sonsondergang, met die Hexrivierberge blou en skerp afgeëts teen die pienk en oranje hemel. En elders sit afgetrede oud-Ermeloërs rustig op ’n stoep by ’n luukse aftree-oord in Pretoria …
Vreemdelinge reis deur ons dorp, en wonder hoekom ons kies om juis hier te bly. Ons kinders woon in die Kaap, en wonder partykeer hardop: “Hoekom het Pappa en Mamma juis vir Ermelo as tuisdorp gekies?”
Liewe ou Ermelo, met sy slaggate, en kragonderbrekings, en water wat ruik na riool, en ‘n Petdam wat verval. En tog wil ons net hier wees. Hoekom? Omdat Ermelo nie net ‘n plek is nie – dis ‘n gevoel, ‘n gemeenskap. ‘n Hele, groot ondersteuningsnetwerk …
Ek maak my oë oop. Die twee minute is nog nie verby nie, maar ek’s gelukkig nie die enigste een wat ‘n oomblik my knieë neersit om te rus nie. Ek kyk om my, met trots en dankbaarheid. Ek sien ‘n groep vrouens wat saam sweet. Ek sien mense wat lag al brand hul spiere. Ek sien vriende wat mekaar aanpor om nog tien sekondes vas te byt.
En skielik dink ek … Ons hoef nie altyd elders te wees om op ‘n goeie plek te wees nie. Hierdie is reeds ‘n goeie plek. ‘n Warm plek. Nie oor die weer nie, maar oor die mense.
Hierdie plek is huis. Hier het ons ‘n pad geloop met oomblikke van uitbundige vreugde, asemrowende opwinding, intense hartseer, groot verlies, diepe teleurstelling, en pure plesier. Hier groei ons in herinneringe en menswees, en hier lê ons stories.
Dis hier waar ons ‘n lewe bou, en waar ons harte tuis voel. Nie elders …
Lidi de Waal sê dit so mooi in haar ongetitelde gedig:
“… die lewe is te kort daarvoor
om geluk elders te bly soek
of om daarvoor te bly sit en wag
geluk is nie iewers anders nie
geluk is hier waar jy is
geluk is in die vrede binne in jou
en in die klein stukkies vreugde
wat onverwags in jou eie hart opwel …”
Mirna
082 779 0507