Groter as hoop

Gister was Valentynsdag, en oudergewoonte het ons dit in die studio gevier met rooi blomme, sjokolade, vrolike musiek, en hope energie. Dis altyd ‘n spesiale gedoente! Maar self heg ek en Schalk nie veel waarde aan hierdie dag van die liefde nie – vir ons is ons troudagherdenking baie meer werd.

Ek is nie geleerd in liefde nie, maar ek is ‘n kenner. Jy is ook ‘n kenner, en so is elke liewe mens wat hierdie lewe leef. Ons weet hoe dit voel om na liefde te smag, liefde te ontvang, dit te gee, en dit te verloor. Ons ken dit. En êrens, iewers, het elkeen van ons al in liefde gefaal.

Om die waarheid te sê, laat Paulus se 1 Korintiërs 13 my gereeld soos daardie klinkende metaal voel …Die liefde praat nie groot nie, maar ou mattas, dis darem baie lekker as iemand my vra hoeveel intekenaars ons het op YouTube. Die liefde is nie jaloers nie, maar dis partykeer blêrrie moeilik wanneer ek sien hoe lekker Nina baljaar saam met haar Kaapse ouma en oupa. Die liefde is geduldig, maar wanneer die soveelste taxi voor my indraai, is ek oombliklik ‘n galmende, woedende simbaal…

Ja, wanneer dit by liefde kom, is meeste van ons gelukkig nie blind vir ons eie tekortkominge nie. Die keer wat ons ongeduldig was, die keer wat ons anderpad gekyk het, die keer wat ons nie die regte woorde gehad het nie, die keer wat ons nie regtig mooi geluister het nie, of die keer wat ons nie die minste wou wees nie.

Ek weet nie alles nie, maar ek weet ons mag nooit die waarde van liefde onderskat nie. In sy boek “Love and Survival” skryf die bekende hartdokter, Dean Ornish: “I am not aware of any other factor in medicine that has a greater impact on our survival than the healing power of love. Not diet, not exercise, not genetics, not surgery, not drugs.”

Liefde is ‘n konkoksie van ‘n magdom kragtige emosies. Party noem dit opoffering, ander noem dit ‘n besluit. Hoe jy ook na liefde kyk, daar is min woorde wat so sag op die oor, en die tong val, as “Ek het jou lief.”

Nataniël skryf: “Die liefde is ‘n reus. Hy pas jou op, dra jou op die hande en verskuif jou grense. Maar as hy verwaarloos word, as hy die dag loop lê, is daar bitter min van ons wat die gereedskap het om hom op te help.” Ai, die liefde, die liewe liefde. Die Franse filosoof, Albert Cammus, het glo gesê liefde is ‘n siekte wat die slimmes én dommes tref.

Maar liefde is nie altyd rose en romantiek nie. Die dag as jy ‘n ma word leer jy dat jy jou kinders in jou hart dra, jare nadat hulle self reeds kan loop. Dis ‘n ander soort liefde wat geen geld kan koop nie. Die dag wanneer jy die titel “Ouma” ryker word, verloor jy ‘n stukkie van jou hart; nie omdat dit weg is nie – daardie stukkie begin net klop in ‘n klein mensie wat jou van voor af laat glo dat liefde altyd weer kan begin.

Liefde het baie gesigte: soms is dit soos beskerming, soms sag soos onthou, en soms is dit net die eenvoudige keuse om weer en weer goed te wees. Vir iemand. Of iets. Liefde leef in dankbaarheid vir die klein dinge wat jou deur ‘n dag dra – ‘n hond wat teen jou kom skuur, ‘n huis wat jou teen wind beskerm, ‘n Plato koffie en ‘n “hoop-jy-voel-gou-beter” wat op jou lessenaar beland, en mense, hartsmense wat op jou kom groei, soos mos. My ouma het altyd gesê: “Liefde is nie soos sjokoladekoek wat minder word soos ‘n mens die stukke uitdeel nie.”

…My liefdestaal is woorde – ek het reeds as klein dogtertjie floreer op: “Goed gedoen”, en “Ek is trots op jou”. Ek dink ook hierdie liefdestaal, is die rede waarom ek elke week soveel bevrediging put uit die skryf van my Blog. Maar ek het gelukkig lankal ook geleer dat liefde nie net opgesluit lê in dit wat ons sê nie. Liefde is al die deernis, duld, dankbaarheid en dade waarmee ons mense, diere, en dinge elke dag hanteer.

Ek dink ek leer elke dag iets belangrik oor liefde: Liefde is nie groot gebare net een keer ’n jaar nie. Liefde is die klein dingetjies – die vergewe, die raaksien, die dankies, die glimlagte, die weer probeer, die waardeer, die hand op die skouer. En ek besef ook meer en meer – as woorde my liefdestaal is, dan moet my woorde die taal van liefde wees. Sagter. Stadiger. Minder oor my. Meer oor jou.

In my roeping as fiksheidsinstruktrise is selfliefde keer op keer die kruks. Daarom het ek gister hierdie aanhaling gekies vir ons lede se Valentynskaartjies: “Dare to love yourself as if you were a rainbow with gold at both ends.” 

Dis nooit net ons werk om vrouens te leer hoe om gewigte op te tel nie; nee, ons moet hul ook wys hoe om hulself op te tel. Want, dis eers wanneer ‘n vrou leer om haarself te waardeer, dat sy haar liggaam nie meer straf nie, maar versorg.

Hierdie is ‘n sagte besluit, die een om mooi na jouself te kyk. Om te oefen omdat jy jouself liefhet. Om soms te rus sonder skuldgevoel. Om jouself dieselfde genade te gee wat jy so maklik vir ander uitdeel.

Dis ‘n mondvol, ek weet. Maar dalk …net dalk …is dit die diepste vorm van liefde – dié wat ons vir onsself leer.

In haar gedig “Diagnosis” skryf Andrea Gibson:

“I suffer

From unrequited selfove.

I love myself, but I don’t

Love myself

Back.”

Selfliefde is nie selfsug nie. Dis die begin van elke ander liefde, want jy kan nie gee wat jy nie het nie. Eers wanneer jy leer om jouself met deernis te hanteer, raak jou woorde sagter, jou oë vriendeliker, jou wêreld ligter.

En miskien is dit ook waar liefde regtig begin – in die klein keuse om goed te wees vir myself, sodat ek beter kan wees vir ander.

Uiteindelik bly geloof, hoop, en liefde. Maar die grootste hiervan bly die liefde!

Mirna
082 779 0507

4 comments to “Groter as hoop”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Colette Barnard says:

    Pragtige boodskap. Dit laat mens kalm voel.
    Julle is goed om die oefenklas pret te maak met die valentyn tema.

    • Mirna says:

      Dankie Colette!

  2. Doempie says:

    Baie baie spesiaal. Dankie. Hoop dit ‘feature’ i. jou boek!!!!

    • Mirna says:

      Baie dankie Doempie! Voel of jy sommer nog in Ermelo is wanneer ek jou stem hoor!