Nuwe asem

Hoe bevoorreg is ek om 2026 se eerste Blogwoorde in Ballito neer te pen, terwyl die branders hul stem dik maak sommer net hier, reg onder ons balkon. Dit voel altyd vir my of ‘n mens aan die Noordkus anders asemhaal – dieper, rustiger, so asof jou longe ook vakansie hou.

Ek het hierdie Desember dikwels gedink oor asem. Susan se woorde het gereeld by my opgekom: “Mirna, ek het nooit besef daar is so ‘n fyn lyn tussen lewe en dood nie. Een oomblik was my pa se arm nog om my nek. Ek het nog gespot oor hoe sterk ek nou is vandat ek by Mirna’s oefen – het hom probeer gerusstel dat my gewig hom kon dra. Die volgende oomblik was hy weg – heeltemal te skielik en ontydig. Net een laaste, sagte asemteug wat stilweg uit hom weggly…”

Asem. Asemhaal. Ons asem in. En uit. So vanselfsprekend.

In sy boek “Wrong Planet” skryf Karl Wiggins: “At this very moment we are breathing the same air that once was Marco Polo’s last breath. And we’re also breathing the same air that was Mozart’s first breath as a baby. We are linked to every other life form that has ever been on this planet because we literally breathe the same air.”

…Volgens ChatGPT haal die gemiddelde mens sowat 20 000 keer per dag asem.  Wanneer ons kwaad of ontsteld is, is ons asemteue sekerlik baie meer. Asem in. Asem uit. Ons verknies ons nooit te veel daaroor nie, want dis tweede natuur.

Soms raak ons fisies, emosioneel, en finansieel uitasem en kortasem…Oomblikke wanneer ‘n mens nie noodwendig dramaties val of breek nie. Jy raak net…bietjie moeg. Ons almal ken dit.

Dis daardie tipe moeg waar jy steeds opdaag, steeds funksioneer, steeds glimlag – maar jou asem voel vlak. Dis dan wanneer ‘n mens nie ‘n nuwe lewe nodig het nie. Jy voel jy kort net nuwe asem.

Vakansies help vir asem skep, maar nou is hierdie een ook tjoef-tjaf verby. Ek sien rasend uit om al my oefenmaats weer te sien! Hoop net nie ek’s die enigste een wat so bietjie gaan snak na asem wanneer die klasse weer volstoom begin nie…Maar, onfiks of te nie, vir my voel die nuwe jaar tog soos nuwe asem. ‘n Tweede asem …

En dis my hartswens vir jou vir 2026. Dat jy sal asemhaal!

Haal asem. Want jy is reeds bietjie anders as verlede jaar. Nie oor die suksesvolle uitvoer van jou nuwejaarsvoornemens nie. Jy is ’n klein bietjie anders bloot omdat jy leef! Omdat jy sedert verlede jaar se Oujaar nog ‘n keer verjaar het. Omdat jy leer. Omdat jy val. Omdat jy opstaan. Omdat jy liefhet. Omdat jy mense en dinge en dele van jouself verloor het. Omdat jy mense en dinge en dele van jouself leer ken het.

Ek wens jou nie voorspoed toe nie. Voorspoed se definisie is te wyd. Soms vind mense voorspoed juis aan die ander kant van teëspoed. Ek wens eerder vir jou dapperheid.

Dapperheid. Om in 2026 op te kom vir asem soos onse Nina. Ek het my hierdie vakansie verkyk aan daardie vreeslose, blonde-koppie-onder-die-water in die swembad. Haar instinktiewe vertroue dat Mariné haar sal vashou, en dat Zander haar sal vang. En daardie glimlaggende opkom vir asem. Elke keer wanneer die water haar omsluit, wanneer sy ondergaan en weer boontoe breek met ‘n stralende laggie – herinner my daaraan hoe instinktief elkeen van ons in die lewe veg om asem.

Dít is my wens vir ons almal in 2026: dat wanneer die lewe ons dompel, ons nie paniekerig sal spartel nie, maar sal weet – daar is weer asem. En ons sal opkom.

Elke keer …

Tania Smit se Nuwejaarswense is vir my mooier as mooi:

“Mag jy weet dat jy genoeg is. Soos jy in hierdie minuut is terwyl jy hierdie woorde lees. Heeltemal toetentaal genoeg is deur net lief te wees vir wie jy vandag is. Ten spyte van die sukkel, die vet, die te veel, of te min. Jy doen jou beste, en dit is ALS. Jy gaan ok wees. Mag ons toegewyd bly leef aan ons beste lewe.”

My woord vir 2026 is ASEM. Ek juig saam Adrienne Posey: “Drink the air like water!”

Handelinge 17:25 sê… “Dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee.”

Alles, wat Hy weet ons nodig het …

En ek wens vir jou asem. ‘n Lang asem. ‘n Asem wat sê: “Jy mag weer stadig aan die gang kom. Jy mag weer voel. Jy mag weer gelukkig wees.”

En ‘n tweede asem. Want ’n tweede asem beteken nie jy begin oor nie. Dit beteken jy gaan aan, net sagter met jouself. Met meer genade. Met die wete dat elke tree, elke beweging, elke poging tel.

’n Tweede asem is nie ’n groot besluit nie. Dis ’n klein een.

Dis om weer op te staan sonder om jouself te straf vir gister.
Dis om te beweeg omdat dit goed voel – nie omdat jy moet inhaal nie.
Dis om te besef jy hoef nie altyd harder te probeer om vorentoe te gaan nie.

Soms is asem genoeg. Dis die wete dat jy mag uitasem wat swaar was…en inasem wat jou weer laat leef. En dit is genoeg. Vir vandag. Vir hierdie oomblik. En dis presies waar nuwe stories begin.

Mag ons hierdie jaar dankbaar wees vir die voorreg van asemhaal. Mag ons Krag kry om asem te skep in die middel van elke storm. Mag ons bly wegsny waar die lewe se bos te vervleg geraak het om asem te haal. Mag ons weer leer om diep asem te haal.

En mag daar triljoene klein oomblikke wees wat ons asems wegslaan!

Mirna
082 779 0507

2 comments to “Nuwe asem”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Karen says:

    ❤️❤️❤️

    • Mirna says:

      Dankie Karen! Voorspoed vir 2026!