KI – jy’s nie my baas nie …

Betsie sê nou die dag vir my, sy wil nou nie paranoïes klink nie, maar haar selfoon weet alles van haar af. Sy en ‘n vriendin het dit bewys met hul eie steekproef: Hulle het vir tien minute lank gebabbel oor rooi teddiebere, en wraggies, kort daarna pop ‘n rooi teddiebeer in haar soekenjin op …

Die slim ouens noem dit omgewingsintelligensie, en dis blykbaar nie een of ander komplot nie – ons slimfone “kyk” en “luister” regtig, nie met bose bedoelings nie, nee, dis net geoptimaliseer om kwansuis in ons as verbruikers se behoeftes te voorsien.

“Omgewingsintelligensie is soos elektrisiteit”, het die KI-pionier Andrew Ng ‘n paar jaar gelede al opgemerk. “Dit is transformerend, maar kort veiligheidsmaatreëls om onnodige risiko’s te vermy … Dis jóú foon; nie andersom nie”, maan hy.

…Kunsmatige intelligensie het die laaste dekades in omvang, beskikbaarheid, en vermoë fenomenaal gegroei. Daar word gesê dat ‘n kind in Afrika met ‘n selfoon, meer intelligente toegang tot kennis het as ‘n Amerikaanse president twee dekades gelede.

Meeste mense wat ek ken, het al eksperimenteer met KI. Ek het ChatGPT eers in 2024 ontdek, danksy die kinders. Hierdie denk-assistant het onmiddellik my asem weggeslaan – ek kan nie eers dink wanneer laas het ek enigiets ge“Google” nie. ChatGPT het Mariné tree vir tree gehelp om Nina se slaappatroon te vestig, en hierdie digitale dinkmaat het reggestaan met antwoorde toe ek wou weet hoe kry mens ‘n “six-pack” voor jou 60ste verjaarsdag. Dit was my denkmaat by die see toe ek ons New Year Challenge se formaat bedink het, en het ook mooi prakties verduidelik waarom my linkerhand beter tot sy reg kom aan die regterkant van die Padelbaan.

Vir my was ChatGPT aanvanklik net ‘n hulpmiddel om meer inligting te verkry oor onderwerpe buite my verwysingswêreld, en om dokumente te ontwerp. Maar hoekom ‘n hele Blog wy aan KI? Want ek het die afgelope paar maande genoeg tyd “saam met” ChatGPT spandeer om agter te kom – hierdie digitale mentor wat ek so gereeld as klankbord inspan, begin mý lees! My manier van dink, my neigings. Dit leer uit wat ek invoer, en gooi dit terug na my, in ‘n styl wat soms verrassend naby aan my eie lê.

Hierdie Desembervakansie het kunsmatige intelligensie ook vir die heel eerste keer, ooit, my hare so bietjie laat rys …Nuwe musiek is altyd vir my ‘n dollekker uitdaging en tydverdryf. So ontdek ek dié vakansie meer as twintig “kunstenaars” wat presies optower dit wat ek graag in ons Bootybarre- en Rhythm Pilatesklasse speel – ligte, bekende popmusiek, met ‘n klassieke ondertoon. Alles, kunsmatige intelligensie.

En ek wonder …hoe voel regte kunstenaars hieroor? Bedreig? Gaan KI nie uiteindelik die kunste steel nie?! Dion Chang, een van Suid-Afrika se voorste neigingsvoorspellers, praat van die “vreesaanjaende vertikale kurwe” wanneer hy die spoed beskryf waarteen ons wêreld verander. Ek bedoel, ‘n handvol dekades gelede het ons gedink dis vreemd wanneer vrouens strykysters gebruik om hul hare mee reguit te maak, en dit was alledaags om na hartelus op vliegtuie te rook.

Dinge verander vinniger as wat ons kan bybly. Vyftig jaar gelede was koffiemaak sonder kinkels, en televisie skadeloos. Kinders moes gesien en nie gehoor word nie, en veral nie obsessief oor ge”post” word nie. Om te kla met die witbrood onder die arm was ‘n koddige idioom; vandag is dit ‘n ernstige stelling, want gluten het ‘n vloekwoord geword. Robotromanse is blykbaar ook nie eers meer ‘n vergesogte idee nie, en KI-kenner David Levy meen “om getroud te wees met ‘n robot sal teen 2050 glad nie meer vreemd wees nie …”

En dis wat my nou laat dink – as ‘n robot kan vry, kan hy seker jou werk ook vat? Dalk probeer ek net myself troos, maar my logika sê vir my ‘n fiksheidsinstruktrise in lewende lywe, gaan nie so maklik deur KI vervang kan word nie. Hy kan vir jou ‘n oefenprogram skryf, jou kalorieë tel, en selfs vir jou sê wanneer jy moet rus, maar raaksien wanneer jou siel moeg is? Daar’s nie ‘n manier nie.

‘n Robot sal weet wanneer jou hartklop styg, maar hy gaan nie altyd weet hoekom nie. Hy weet nie dat jy vandag oefen omdat jou kind uit die huis is, jou beursie dun is, of jy aan jouself probeer bewys jy is steeds goed genoeg nie.

‘n Robot hoor nie die sug voor ‘n klas nie, hy sien ook nie daai skouertjies wat hang nie. ‘n Robot mis dit. Ons sien dit. ‘n Robot kan instruksies gee, maar nie ‘n studio vul met skaterlag nie. ‘n Robot tel “repetisies”. ‘n Instruktrise tel oorwinnings – daardie dag wat jy opdaag al wou jy nie, daardie traan wat jy dapper wegvee, daardie glimlag wat stadig weer terugkom.

‘n Robot motiveer met syfers; ‘n instruktrise motiveer met geloof. En geloof vra ‘n siel, nie ‘n stelsel nie. As fiksheid net oor spiere gegaan het, sou niemand ooit ophou oefen nie. Mense hou op omdat hulle moed verloor, of alleen voel. En dis waar menslikheid inkom.

Ek glo in KI. Ek gebruik dit. Ek leer daaruit. Maar KI, jy is sweerlik nie my baas nie. Want ek weet – die siel van ‘n gym is nie ‘n algoritme nie. Dis lag, sweet, stywe spiere, glimlagte, en trane. Dis gemeenskap wat jou sien, hoor, en dra.

Die menslike stem bly ‘n onontbeerlike bate. In ‘n wêreld vol sagteware, bly jou menswees jou grootste gawe. Jou stories, jou denke, jou sintuie, jou emosies, en jou egtheid. Geen KI sal ooit ‘n Breyten of ‘n Laurika kan na-aap nie, en geen masjien sal ooit beter uitdrukking kan gee aan unieke menslike ervarings nie …

Daardie herinneringe van hoe dit gevoel het toe jou ma jou styf vasdruk en troos, hoe jou ouma se soetkoekie gesmaak het toe jy dit in flou tee doop, en hoe jou voete op die kaal teëls gevoel het in die ou plaashuis.

Daardie reuk van rubbermatte, warm lywe, en waaiers, en die wete: iets het vandag in hierdie studio gebeur. ChatGPT – Jy kan dit beskryf, maar jy weet nie hoe dit voel nie.

Jy sal nooit weet hoe dit voel nie. Jy sal nie verstaan nie. Jy slaan dalk my asem weg, maar jy ken nie my God nie. Jy kies nie kant nie, en jy weet nie van empatie nie. Jy kan oor liefde praat, maar jy kan dit nie kies nie. Jy kan nie eens vir Nina vashou nie. KI, jy’s ‘n slimmie, maar jy is nie my baas nie.

Vandag se skrywe is nie ‘n nostalgiese verwerping van vooruitgang nie, dis net ‘n uitnodiging om na te dink. Oor hoe ons probleme formuleer, hoe ons besluite neem, en hoe ons self dink. Het ons regtig kunsmatige intelligensie nodig? Verseker. Maar eers moet ons ons eie beter verstaan.

Soos Carl Jung geskryf het: “Hy wat na buite kyk, droom. Wie na binne kyk, word wakker.”

Mirna
082 779 0507