Vir solank as wat ek kan onthou – dis hoe lank Cecilia al deel is van ons studio. Ja, ek sê ”is”, want al is ons oefenmaat nie meer hier nie, is haar besonderse menswees vir altyd, diep in my hart gegraveer…
Cecilia was nie ‘n dawerende, luidrugtige lid nie, maar sy was altyd betrokke, en teenwoordig, en het so op haar stil manier haar stempel afgedruk…


…Ek sal nooit daardie dag vergeet toe Cecilia my in haar vertroue geneem het oor die “kankerding” nie. Op daardie stadium was haar eie mammie ernstig siek met kanker, en die dokters het aanbeveel dat Cecilia en haar sus toetse moet ondergaan om vas te stel of hul die genetiese mutasie dra…
Oor die kankergeen en al die implikasies is ek nie baie ingelig nie – ek onthou net dat ek toe reeds baie daaroor gewonder het. Oor hoe baie vroue nie ‘n diagnose dra nie, maar ‘n moontlikheid. ‘n Kans. ‘n Risiko wat soos ‘n skadu saamstap.
Cecilia het daardie paadjie gestap. So ontsettend dapper. Daar was voorkomende chirurgie, daaglikse gesondheidskeuses, gereelde toetse en afsprake. ‘n Lewenslange bewustheid van daardie onvoorspelbare, onsigbare vyand – wat in Cecilia se geval wel toegeslaan het. Maar vir Cecilia was kanker nie ‘n doodstyding nie…
Wat ek die meeste van haar bewonder het, was haar sagte, blymoedige gees. Ek het haar nie een keer hoor kla nie. Sy het vir baie jare aan elke Challenge deelgeneem, en nooit, nie een keer, het sy die strawwe hormoonbehandelings of chemoterapie as ‘n verskoning gebruik wanneer die skaal nie wou saamwerk nie.
Dit was hierdie stille volharding van Cecilia wat my die meeste inspireer het. Sy het nie gehou daarvan om in die kollig te wees nie, maar sy het elkeen wat haar pad gekruis het, inspireer. Daar was nooit selfbejammering nie, nie eens toe sy al haar haartjies verloor het nie.
Cecilia het elke maand haar ledegeld stiptelik betaal – selfs al kon sy vir baie maande glad nie kom oefen nie. Ek het stilweg geglo dis net ‘n kwessie van tyd voor sy gesond is. Die tekens van aftakeling was soms sigbaar – dit het deurgeskemer in haar moegheid, en soms was sy ‘n bietjie stadiger, maar sy het hierdie las met ongelooflike waardigheid en moed gedra.
En sy het terugbaklei – dit was Cecilia wat my van Moringa vertel het! Haar vegtersgees was ‘n inspirasie vir almal. En toe die klasse vir haar broos liggaam te intens geraak het, het sy by die Pilates ingeval, en die 7.00 tot 8.00 tydgleuf op die apparaat het vir jare haar naam gedra. Dit was haar plekkie, haar ritme, haar roetine, haar stukkie normalitiet te midde van alles, en dit was altyd lekker om te hoor hoe Cecilia en die ander oefenmaats land en sand kuier terwyl hul fiets trap.
Toe Cecilia my so twee maande gelede skakel om haar lidmaatskap te kanselleer, het ek steeds nie behoorlik die omvang van haar siekwees begryp nie. Sy het nie een keer gesê dat sy te afgetakel is om te kom oefen nie; bloot dat dit prakties moeilik vir haar sou wees. Ons was altwee aangedaan tydens ons telefoongesprek, maar ek het steeds geglo dat ek haar weer sou sien…
Vir my was Cecilia die beste, mooiste voorbeeld – dat mens nie altyd kies wat met jou gebeur nie, maar wel hoe jy daarop reageer. Cecilia het liefde geleef – gegee eerder as om te ontvang, en gehelp eerder as om te kla. Haar stryd teen kanker was lank en moeilik, maar nooit het dit haar identiteit geword nie. Sy was ‘n ma, ‘n vriendin, ‘n vrou van hoop. Sy was lig in die donkerte – vir ons almal.
Ek lees die naweek die pragtige huldeblyk aan Cecilia, van Gerda, haar goeie vriendin, en ek knip my kop instemmend: “Cecilia, jy sou die enigste een wees wat onraad vermoed binne ‘n dag. Jy was my grootste “supporter”, my “kom-nou-jy-kan!” Ek gaan jou vreeslik mis want die gat wat jy agter laat is vrek groot…”
By Cecilia het ek ook geleer om elke dag te waardeer, om met dankbaarheid te leef, en om ander met sagtheid te hanteer. In haar stilte was daar krag. In haar glimlag was daar genesing. In haar stem was daar altyd so ‘n halwe gerusstelling van “dit gaan eintlik goed…”
Ek bly staan by wat ek glo – Ons Hemelse Vader kies Sy kankerpasiënte sorgvuldig. Te midde van al die pyn en onsekerheid, sien ek altyd iets ongeloofliks in almal wat daardie pad stap – ‘n soort innerlike lig wat nie deur pyn gedoof kan word nie. By kankerpasiënte leer ons wat ware moed beteken – daardie ononderhandelbare, daaglikse besluit om op te staan, aan te hou, en te glimlag – al voel alles swaar.
By hulle leer ons ook die waarde van die oomblik – hoe kosbaar ‘n dag kan wees sonder pyn, of sonder slegte nuus. Hulle wys ons ook wat dankbaarheid regtig beteken – om opgewonde te raak oor die klein dinge: koffie saam met ‘n vriendin, of ‘n oggend met meer energie. Ek weier ook om te sê dat enige kankerlyer die stryd verloor wanneer hulle sterf. Nie my mammie nie, nie Lilly nie, en ook nie Cecilia nie – hulle het gewen. Die siekte het hul liggame afgetakel, maar nooit hul lig of liefde gesteel nie.
…Twee jaar gelede, tydens ons Bounce-A-Thon, het Cecilia kans gesien om haar roos op die verhogie te kom ontvang. Sy en Yolanda, ons studio se eie kanker “survivors”. Min het ek toe geweet dit sou ons laaste roos wees vir Cecilia. Cecilia, dankie vir wat ek by jou kon leer: daar is geen lintjie of veldtog of roos wat kan vergoed vir wat jy moes deurmaak nie.
…Om ‘n lid van ons studio aan die dood af te staan, voel elke keer soos om ‘n naby familielid te verloor. Dis dalk omdat mens saam sweet – daar is nie mure of pretensie nie, en daar groei iets sterker as spiere – ‘n band wat jy nie maklik vir iemand kan verduidelik nie. Ek is so jammer dat ek nie vandag in Ermelo kan wees om van jou afskeid te neem nie, maar ek eer jou besondere menswees…Jy het jou pakkie met soveel waardigheid gedra. Ek gaan jou ontsettend mis. Maar nou kan jy gaan rus. Ons sal jou nooit vergeet nie.
“You made broken look beautiful and strong look invincible. You walked with the universe on your shoulders and made it look like a pair of wings…”
Mirna
6 comments to “Vir Cecilia”
Dankie Mirna.
🩷🩷🩷🌹🌹🌹
Ek is jammer om te hoor van Cecilia. Dis hartseer maar julle gaan haar onthou Voorspoed vorentoe
Dankie Colette!
♡Só spesiaal Mirna♡
Dankie Rethia!