Dis snaaks hoe ‘n minuut nie altyd ‘n minuut is nie. Sommer net Woensdag, voor die 7.30 Reboundklas, sê ek en Jacqueline weer vir mekaar hoe lank daardie laaste minuut voel, terwyl almal hulle sinnetjies klaarmaak en ons wag om die Zoomklas te sluit. (Ja, ons is ‘n stiptelike lotjie, hoor.) Maar dis presies dieselfde met ‘n een-minuut “plank” ook! Dit voel nooit soos net een minuut nie – nee, dis so uitgerek soos kougom onder ‘n skoolbank! Maar ou mattas, sit jou wekker op “snooze”, en daardie vyf minute verdamp soos water op ‘n warm pan…
Wag is relatief, net soos tyd, en geduld. “Hoe dan anders?”, redeneer ons. In ‘n wêreld wat spoed aanbid, en kitsoplossings vier, het wag amper ‘n vloekwoord geword. Ons bestel kos met een kliek, spoed deur Netflix-reekse sonder om asem te haal, en wanneer ons begin oefen, het ons onmiddellik reuse kitsverwagtinge – ‘n plat maag binne twee dae, en ’n skaal wat jou môre al op die skouer klop, en beaam – jy is op die regte pad!
Ek dink hierdie week oor die woordjie “wag”, want verlede Sondag het dominee George dit weer sterk onder ons aandag gebring – dis in stilstand wat ons innerlike krag herwin. Geloof sê:
“Ek weet nie wanneer nie, ek weet nie hoe nie, maar ek glo steeds. In afhanklikheid van Sy tydsberekening, want Hy is in beheer.” “Those who wait on the Lord will renew their strength.” Jesaja 40:31.
Maar die “wag”-ding is verdomp nie altyd so maklik nie. Soos Haruki Murakami dit beskryf in sy boek “South of the Border”: “For a while is a phrase whose length can’t be measured. At least not by the person who’s waiting.” Ons haat wag. Ons wil nie in rye wag in Clicks nie. Ons verpes dit om vir ‘n parkering te wag. Wanneer ons te lank wag in ‘n restaurant, dan kla ons. Ongeduldig wag ons – in verkeersknope, op WhatsApp vir die twee blou regmerkies, in spreekkamers, en op e-posse wat onbeantwoord bly.
Die enigste lekker “wag” is slapies aftel en asem ophou in afwagting voor ‘n lekker gebeurtenis. Soos wanneer Mariné en Nina vir ‘n paar dae kom kuier, of die wonderlike vooruitsig om al ons kinders onder een dak te hê volgende Kersfees. Of om weer ‘n slag in Ballito wakker te word met die breek van die golwe hier reg langs jou – so asof die see self jou kom groet. Salig! Dis ‘n wag vol verwagting en sterk hoop.
…Soms gaan ons deur sulke wag-seisoene in ons lewe. En dis nie lekker nie. Wag vir ‘n droom om waar te word. Wag vir finansiële verligting. Wag vir ‘n seer hart om beter te word. Wag vir duidelikheid. Wag vir ‘n dokteruistslag. Wag om te sien of die kankertelling afkom…
…Ons mams het nooit gedweep oor godsdiens nie, maar ek kan hierdie woorde van haar so goed onthou…Dit was na nog ‘n senutergende besoek aan dr Raaths by HF Verwoerd se kankerafdeling. Ek het my ma gevra hoe sy dit regkry om so kalm te wees daar in die spreekkamer, terwyl sy wag op die uitslag van die bloedtelling. Sy het gesê: “Ek is nie alleen nie. Ek kan voel hoe die Here my elke keer sommer so kom oplig in daardie stoel, en my styf vashou…”
Om te wag is vir niemand lekker nie. Party mense is beter daarmee as ander. Maar, niemand is immuun teen die groot “wag” nie. Een of ander tyd word dit jou beurt om te wag. Al is jy wie. Die grootste tennislegendes, ja, selfs Federer en Nadal, moes al vir ure wag vir die reën om op te klaar by Wimbledon, voor hulle hul wedstryde kon voltooi. Nelson Mandela moes 27 jaar wag vir vryheid, en Prins Charles moes 74 jaar wag voor hy die troon kon bestyg. Hollywood legende, Al Pacino, moes 20 jaar wag vir sy eerste en enigste Oscar-toekenning, en die gerespekteerde aktrise, Glenn Close, wag nou nog, vier dekades en agt Oscar-benoemings later…
“It doesn’t make me a loser. It makes me incredibly lucky to still be here and doing work that I love”, het sy onlangs gesê. Sjoe. Haar woorde laat my opnuut besef – om te wag beteken nie noodwendig om niks te doen nie. Dit bly ‘n aktiewe proses van vertrou, voorberei, en volhard. Ons het nie altyd beheer nie – en dis okei.
Dalk is “wag” ‘n uitnodiging vir ons om bietjie stadiger te raak. Asem te skep. Want dalk gebeur die lewe juis in die wag. Dis juis die wagproses – die sukkel, die bid, die droom sonder antwoord, wat ons sagter, wyser, en dankbaarder maak.
Die kuns van wag is iets wat ons verseker ook leer op die pad van fiksheid. Ons is in Week vyf van ons lang Winter Challenge, en teen die tyd weet ons: dis nie ‘n naelloop nie; dis ‘n marathon. En die hele geheim van hierdie 13 weke, is ook…wag. Ons lede plant elke dag saadjies met elke sweetdruppel, elke gesonde keuse, elke keer wat hulle opdaag as hulle juis nie lus het nie. En dan…wag hulle. Wag vir die liggaam om aan te pas. Vir die gewig om stadig te wyk. Vir die spieël om te begin terugglimlag.
Maar hierdie wag is ook aktief – daardie tekkies gaan nie vir hulle self aantrek nie. Daardie kilogramme gaan nie verdwyn van lees nie. Nee, ons daag op, en dit bou karakter. Ons leer ons is sterker as wat ons gedink het. Ek sien met trots hoe elke lid ook haar leer eie stem beter leer ken – die een wat sê, “hou aan”. En eendag, word hierdie “gewaggery” ‘n wonderlike suksesverhaal.
Shauna Niequist beskryf dit vir my die heel mooiste in haar boek, Cold Tangerines: “I have always, essentially, been waiting. Waiting to become something else, waiting to be that person I always thought I was on the verge of becoming. In my head, I was always one step away. For twenty years I have waited to become the thin version of myself – waited for the Big Moment…But then, I realized the Big Moment is an urban myth. Life is a collection of a billion little moments and choices. That thing I’m waiting for, this is it. Normal, daily life tickling by on our streets, in our houses, and at our dinner tables, in our dreams and prayers and fights and secrets – this life is the most precious thing any of us will ever experience…”
Ek dink winter is wag se seisoen – ‘n tyd vir wortels groei. 69 van ons Challenge lede is nog sterk op dreef – ‘n swetterjoel ander gewillige lede daag nog elke dag getrou op. Ons wag, maar ons is besig. Ek dink ons doen dit waarna die Amerikaanse skryfster, Mandy Hale, verwys in haar boek “Beautiful Uncertainty”: “What we are waiting for is not as important as what happens to us while we are waiting. Trust the process.”
Wag is nie ‘n passiewe hande-in-die-skoot ding nie. Dis ‘n dans tussen hoop en volharding.
Wag is nie stilstand nie. Wag is vertroue – nie dat iets móét gebeur nie, maar dat dit reg sal wees wanneer dit wel gebeur. Wag is om gereed te wees vir môre, al lyk vandag stil.
Wag IS ‘n fyn kuns, en elke dag is ‘n geleentheid om dit te verfyn – nie net met geduld nie, maar met verwagting. Want wag is nie tyd verloor nie. Dis karakter bou. Dis hoop.
En. Dis lewe, stadig en voluit.
Mirna
082 779 0507
2 comments to “Die kuns van “wag”…”
Dis n mooi onderwerp wat mens laat dink. Wag is deel van die lewe.
Dankie liewe Colette!