…Gelukkige trekkings is nogal my ding – nee, nee, ek wen hulle nooit nie, ons loods dit net gereeld in die studio! Teen hierdie tyd weet ons lede – elke temaklas, liefdadigheidsprojek, funksie, en Challenge, is altyd propvol lekker “lucky draws”. Dis natuurlik nou nie soos om die lotto te wen nie – maar ons sorg darem altyd dat elke verrassingspakkie vol lekker, oulike goedjies is, en gedurende ons Challenges slaan ons lede selfs kontantpryse en Sweatgear-broeke los.
Dis altyd opwindend! Die gespanne stilte, die tromgeroffel van waterbottels, en dan: “Dis ek!” Of “Dis alweer nie ek nie!” Of “Jou gelukkige duiwel!” Darem kan baie min lede wat al vir klomp jare deel is van ons studio, sê: “Ek het nog NOOIT gewen nie…” Ons het ook al gesien hoe dieselfde lede sommer ‘n paar keer na mekaar ‘n trekking wen! Gelukkige duiweltjies!
Partykeer lyk dit regtig of party mense meer geluk het as ander…Die naam Joan Ginther sal waarskynlik vir jou niks beteken nie, maar kan jy glo – hierdie vrou in Amerika het tussen 1993 en 2010 vier keer die lotto gewen! Evelyn Adams, ook ‘n Amerikaner, het die New Jersey lottery twee keer gewen in die 1980s, en sommer net so 5,4miljoen dollar ryker geword!
In 1980 het ‘n man met die naam Bill Morgan ‘n ongeluk oorleef, ‘n nuwe lewe begin, en toe met ‘n lottokaartjie AU$250,000 losgeslaan. Hulle sê Cynthia Stafford het $12 miljoen gewen nadat sy elke dag vir vyf jaar lank gemediteer het oor presies daardie bedrag. Ek weet darem nie… En dan is daar Frane Selak, ‘n Kroaat, wat sewe byna-dood ervarings oorleef het – van treinongelukke, tot vliegtuigvalle – en toe wen hy ook die lotto. Bliksem! Gelukkige duiwels!
Môre skop ons Winter Challenge af, en meer as die helfte van ons studio se lede het ingeskryf! Dit voel duisend keer beter as om die lotto te wen! En ek is buite myself van opgewondenheid oor die 13 weke wat voorlê… Ek het nog nooit ‘n sent in die regte lotto gewen nie – ek sou nie kon nie, want ek het nog nooit ‘n kaartjie gekoop nie! Ek kon ook nog nooit een van Safair se R11-kaartjies in die hande gekry nie. Nog net een keer in my lewe is my naam in ‘n gelukkige trekking uitgeroep – dit was meer as 30 jaar gelede tydens ‘n fiksheidskonferensie in Sandton se Convention Centre. Hierdie geleentheid was elke jaar dié hoogtepunt op ons fiksheidsinstrukteurs se kalender – die volgepakte program het oor ‘n paar dae gestrek, en gesogte oorsese instrukteurs het ons verbeeldings kom aangryp met nuwe passies, idees, en fiksheidsgiere. Dit was ongelooflik!
En daardie een keer het ek sowaar ‘n hele jaar se oefenmusiek gewen! Jip, ons was toe nog aangewese op kassette en oefencd’s. Dit was lank voor YouTube en Spotify en iTunes – min het ek toe geweet dat ons uiteindelik sommer ons eie musiek aanmekaar sou slaan soos propperse platejoggies!
“Maar hoe werk dit”? wonder ons! Sommige mense trap per ongeluk in ‘n modderpoel, en kom uit met ‘n goue muntstuk. Ander val op dieselfde plek…en breek ‘n toon. Waarby kom dit in? Geluk? Toeval? Noodlot? Karma? Of gebeur dit sommer net? Kan geluk voortduur? Is daar ‘n bloudruk vir geluk? Is ongelukkigheid ‘n terminale toestand?
En, is geluk regtig iets wat net “gebeur” met party mense? Of skep jy dit self?
Ek weet nie van jou nie, maar ek kyk soms na mense se Instagram-plasings en dink: “Kyk hoe gelukkig is hulle! Reise na eksotiese bestemmings, ritte in stralers, plooilose gesigte, perfekte verhoudings…” Maar dan tik ek myself op die vingers en dink aan daardie bekende sê-ding:
“Don’t compare your behind-the-scenes to someone else’s highlight reel. People post smiles, not struggles.”
Ek hoor so baie: “Ek sal gelukkig wees as…as ons net ‘n groter huis en ‘n beter kar kan koop; as ek net kan aftree en my eie ding kan doen; as ek net hierdie verdomde 10 kilo’s kan verloor; as ek net my man kan terugkry…dan sal ek lank en gelukkig lewe!”
So “as ons net” deur die lewe. Elke kort-kort ‘n nuwe “as”. Ons hou ook daarvan om te sê iemand is “net gelukkig”. Of “dinge werk altyd so goed uit vir hulle…” En dit bring my die Bruce Lee aanhaling wat ek ook tydens die New Year Challenge se prysuitdeling gebruik het: “You choose your own luck…”
Ons lede wat Challenges wen is nooit net gelukkig nie – dit verg harde werk, opdaag, vasbyt, opoffer, en goeie besluite neem, elke dag. Geluk is nie ‘n lottokaartjie wat in jou skoot val nie – nee, jy kies dit. Jy maak dit. Self. Elke keer as jy opstaan terwyl jy eerder die wekker wou dooddruk – kies jy jou eie geluk. Elke keer as jy gesond eet terwyl ‘n stuk koek jou aanstaar – kies jy jou eie geluk. Elke keer as jy klas toe kom, al sien jy nog nie resultate nie – kies jy jou eie geluk.
Die Franse filosoof Alain stel dit so mooi: “There is a kind of happiness that is no more part of us than an overcoat. Such is the happiness of inheriting or of winning a lottery; and such is glory, for it depends on circumstances. But the happiness that depends on our own capabilities is, on the contrary, an integral part of us, it colours us more profoundly than crimson colours wool…”
Wat beteken dit? Jy kán gelukkig wees terwyl jy nog wag vir die geld, en die kleinkinders, en die gewig, en die regte lewensmaat. Jy kán gelukkig wees terwyl jy wag vir ‘n seer hart om beter te word. Jy kán gelukkig wees.
Bruce Lee het gesê jy kies dit. Hy’t nie gesê dis maklik nie.
Ek het agtergekom…geluk het minder te doen met daardie kaartjie wat uit die boks getrek word, en meer met wat ons self in die boks sit, so stil-stil. Daar is nie ‘n hysbak na geluk nie, ons moet die trappe vat. Geluk kom nie na ons toe nie – dit kom diep vanuit onsself.
Niks sal jou gelukkig maak tensy jy kies om gelukkig te wees nie.
Daardie dag wat jy besef en aanvaar dat geluk nie ‘n uitkoms nie, maar ‘n keuse – daardie dag word jy ‘n gelukkige duiweltjie! Ek is Vrydagaand verras met die mooiste blomme en Moedersdag-boodskappe van ons vier kinders en Nina. Geen Lottokaartjie kan daarby kom nie, ou mattas! En as jy vandag so gelukkig is om hierdie Sondag saam met jou mammie, jou kinders, en jou kleinkinders te spandeer, is jy loshande die gelukkigste duiwel! Geniet Moedersdag!
Mirna
082 779 0507