Ek kon nie eintlik anders as om die laaste paar weke van nuuts af oor hierdie klein woordjie te begin dink nie. Groei…
Nina is in Stellenbosch, maar ons sien hoe sy groei – in sentimeters, kilogramme, dapperheid, en drome. Daardie video’tjie van haar eerste probeerslag om op te staan het ek al tot vervelens gekyk, en elke keer jil ek binnetoe, “Ouma se kind!”, oor sy nie huil na die neerslaan nie.
Haar eerste hap van vleisaftreksel! So opgewonde, so vol oorgawe – haar mondjie wyd oop soos ‘n voëltjie wat weet iets lekkers is op pad. Met ogies wat blink en hande wat fladder en gryp na die lepel. Alreeds ‘n regte klein vleisliefhebber met ‘n hart vir geur en genot.
Ons verkreukel ons in haar eerste pynappel-proe – haar mondjie in ‘n fronsie getrek met so ‘n pruil-lippie wat vra: “Wat is dit nou?!” Maar sy hap weer, want nuuskierigheid wen altyd in haar klein wêreld.
En daardie eerste skaterlag! ‘n Lag wat nie net deur haar keel opborrel nie, maar deur haar hele lyfie tril. So onverwags, so aansteeklik, so vol lewe dat ek weet – hierdie klein mensie het reeds ‘n siel wat diep gaan voel en voluit gaan leef.
Maar dis nie net Nina wat my oor “groei” laat dink het nie. Mariné het my vertel van Patreon, ‘n platform om internasionale en ander lede deel te maak van jou oefenstudio – en ‘n hele nuwe wêreld het vir my oopgegaan! Dit was ure van videos, planne, angs, en opwinding, maar gelukkig was Mari onmiddellik ontvanklik om hand by te sit. Sy het die uitdaging aangegryp, en al die groot werk gedoen om ons Patreonblad vlerke te gee.
Vir my was dit veel meer as ‘n tegniese taak – ek moes leer om myself weer te vertrou, en my stem hardop te laat hoor. Hierdie paar weke was ‘n groeiproses – en ek was nie altyd seker nie. Ek het gewonder of mense sou aansluit, of ons oefenklasse regtig so gewild is as wat ons 21 770 intekenaars op YouTube sê.
…Dit klink dalk snaaks, maar elke keer wat ek gehuiwer het, het ek aan Nina gedink – as sy dapper genoeg is om te leer leef, kan ek dapper genoeg wees om weer te leer droom. Dis nou twee weke sedert ons Patreon die wêreld ingestuur het, en stadig maar seker sluit lede regoor die wêreld by ons aan! Ek het gegroei, en ons studio groei saam!
Die vraag het by my opgekom – hoekom raak groei moeiliker as ons grootmense word? Ek dink dit werk so: toe ons klein was, het elke tree vorentoe ‘n applous gekry. Ons eerste kruipslag, ons eerste woorde, ons eerste self staan, ons eerste swembadsprong sonder vlerkies…
Later, op skool, het elke sterretjie, elke sertifikaat, elke balkie, elke “mooi so”, elke “netjiese werk” in rooi pen, elke klop op die skouer ons aangespoor, om nog beter te doen.
Maar dan raak ons groot…en die wêreld raak stil. Niemand klap hande as jy opdaag vir werk nie. Niemand gee jou ‘n goue ster as jy kies om nie die hele sjokolade te eet nie. Niemand hou ‘n plakkaat op as jy weer fiks wil word nie. Niemand rol ‘n rooi tapyt oop as jy twee kilogram verloor nie.
Sien, as kinders probeer ons iets nuuts en val. En almal juig nog steeds: Dis oukei! Jy’t probeer!” Maar as grootmense begin ons dink: “Wat as ek dit nie regkry nie? Wat gaan die mense sê?” So dan laat vaar ons dit eerder.
Die dag as jy groot is, kry jy nie meer sterretjies, balkies, en applous nie, want grootmense moet sterk en voorbereid en in beheer wees. En as niemand raaksien dat jy jou beste gee nie, dan voel dit of groei nie die moeite werd is nie.
Baie grootmense sien nie kans om te groei nie, want soms, as jy ‘n paar keer al geval het, raak dit moeilik om op te staan. Grootmense het littekens – nie net op hul lywe nie, maar op hul drome. Ons het verantwoordelikhede, rekeninge, roetines. Die lewe raak vol, en die binnekamer waar ons drome slaap, raak stil. Grootmense raak moeg. Nie net vir dinge nie, maar vir hoop. Vir weer probeer. Vir weer begin, by nul. Vir verandering wat nie verseker is nie.
En dan, natuurlik, begin ons die leuen glo dat ons “klaar” is. Mense verander mos nie. “Ek is nou maar net so. Punt.”
Volgens ChatGPT hou seuns op met groei, in lengte, tussen 17 en 19 jaar, soms selfs tot op 21 jaar. Meisies hou op met groei tussen 17 en 19 jaar. Dit werk blykbaar so, dat sodra die groeisones in die lang bene sluit, kan geen verdere lengtegroei plaasvind nie. Al eet jy borde vol groenbone of hang aan ‘n rekstok…
“Gmpf”, hoor ek jou hardop dink. “Teen die tyd dat die groeisones sluit, begin die heupe oopmaak vir ‘n heel ander soort groei!” Of: “Ek groei dalk nie meer in lengte nie, maar kyk net hoe floreer ek in breedte, veral rondom die koektafel!” Of: “Die enigste ding wat na 40 nog spontaan groei, is my jeans se nommer!”
Ja, ja. Ek weet. Maar die groei waarvan ek spesifiek vandag praat, is daardie groei wat begin, in jouself, elke keer as jy bereid is om iets nuuts te leer, elke keer as jy opdaag wanneer dit makliker was om nie te kom nie, elke keer as jy kies om aan te hou, elke keer wanneer jy ophou om ‘n verskoning te soek…dan groei jy.
“Don’t go through life, grow through life”, het die bekende prediker Eric Butterworth geskryf in sy boek “Discover the power within you.” Hy kon saampraat oor “groei”, want sy hele lewenswerk was gewy aan die idee dat groei ‘n lewenslange reis is – geestelik, emosioneel, en prakties.
Ek dink hy sou verstaan het hoekom ‘n mamma se groei net so belangrik is soos haar kind s’n. En hoekom iets soos die begin van ’n Patreonblad meer is as net ‘n digitale skuif – dis ’n geloofsprong, ’n klein daad van vertroue.
Ek en Jacqueline en Michelle het verlede Dinsdag meer as drie ure in die studio deurgebring om wintervideo’s aanmekaar te slaan vir ons Challenge wat op 12 Mei begin. Ons was gedaan! En ons is nog nie eers klaar nie! Party mense sal sê dis sommer lawwigheid, ander sal dink dis tydmors. Vir ons is dit altyd terapeuties, met baie sweet, sukkel, en saamlag. En agterna weet ek altyd – ons drie het weer ‘n reusetree saamgegroei.
Ja, ek dink ons groei altyd die mooiste wanneer ons saam groei – wanneer ons mekaar aanmoedig, vashou, inspireer, en herinner:
“Ek sien jou. Ek is trots op jou. Jy groei.”
Dis nie maklik om te groei nie. Groei vereis verandering en dit maak ons ongemaklik. Maar groei begin waar gemak eindig. Jy hoef nie alles te weet nie. Jy hoef nie perfek te wees nie. Jy hoef net nuuskierig te wees – oor jouself, oor ander, en oor wat moontlik is. En jy moet nederig wees, en oop wees.
Toe die digter Longfellow baie oud was, het iemand hom gevra hoe hy steeds so mooi skryf. Longellow het na ‘n appelboom gewys en gesê: “Daardie boom is baie oud, maar ek het nog nooit mooier bloeisels gesien nie…” Ek dink ek verstaan nou beter wat het Longfellow daarmee bedoel…
Daar’s ‘n paar dinge van groei wat ek weer geleer het: ‘n Mens is nooit te oud of te besig of te moeg om te groei nie. Jy kan altyd iets nuuts leer, jouself uitdaag, vrae vra, weer probeer, opstaan. Groei hoef nie dramaties te wees nie. Dis daagliks. Dis stil-stil. Groei lê nie in groot veranderinge nie, maar in die besluit om nie op te hou probeer nie.
En groei gebeur nie eendag nie – dit gebeur in klein stukkies, vandag.
Mirna
082 779 0507