Maak dit regtig saak?

Partykeer bedoel ons die “dit-maak-nie-saak-nie” sinnetjie uit ons harte. Weet julle wat ek bedoel? Soos, wanneer Eswee sê, “Dis baie moeite vir julle om Mia in die middel van die nag uit te vat vir ‘n draaitjie.” Dan sê ons sonder om ‘n oog te knip, “dit maak regtig nie saak nie.” Want ons bedoel dit. Wanneer iemand sê, “Ek wil inskryf vir die New Year Challenge, maar ek sien wraggies nie nou kans om te kom vir ‘n InBody assessering nie”, dan sê ek “Jy hoef nie, dit maak regtig nie saak nie.” En ek bedoel dit. Regtig.

Partykeer sê ons “dit maak nie saak nie”, want, dis basiese goeie maniere, maar ons uiter dit tog so ‘n bietjie halfhartig. Soos wanneer ‘n goeie vriendin jou verjaarsdag vergeet, en twee maande later onthou sy’t vergeet, of wanneer jou huishulp jou Carol Boyes slaaibak breek. Dan voel “dit maak nie saak nie” amper soos “toemaar” – dis beter as stilswye, maar dit troos eintlik boggerol niks.

Partykeer is “dit maak nie saak nie” harde, wrede feite wat ons maar net doodeenvoudig moet aanvaar, al steek dit ons dwars in die krop: Dit maak nie saak hoe hard jy oefen nie, as jy nie beter eet nie, gaan jy nie ‘n gram verloor nie. Dit maak nie saak hoeveel prentjies en herinneringe jy in jou hart saamdra nie, wanneer jy jou ma die dag verloor, is daar een reuse groot gat. Vir altyd. Dit maak nie saak hoeveel ons lag nie, ons sal somtyds huil ook. Dit maak nie saak hoe versigtig ons leef nie, daar sal altyd teleurstellings ook wees. Dit maak nie saak hoeveel tyd ons saam met vriende deurbring nie, ons sal met tye stoksielalleen voel. Dit maak nie saak wat ander mense sê nie, jou gesondheid en geluk bly jou eie verantwoordelikheid.

Partykeer is “dit maak nie saak nie” lekker trooswoorde, wat ons oplig en die lewe eensklaps beter maak…Dit maak nie saak of jy 51 of 11 burpees doen in Michelle se twee-minuut burpee kompetisie nie, as dit jou beste is, is dit fantasties. Dit maak nie saak of jy die Challenge wen nie, as jou gunsteling denim losser sit, is jy reeds ‘n kampioen. Dit maak nie saak hoe moeilik dit voel nie,’n paar weke van nou af sal jy bly wees jy het begin. Dit maak nie saak hoe swaar dit voel nie, jy is sterker as wat jy dink. Dit maak nie saak hoeveel Blou Maandae, stofstorms en reëndae ons tref nie, die son sal altyd weer skyn.

Dit maak nie saak hoe jy begin nie, maar hoe jy klaarmaak! Ek dink aan John Stephen Akhwari, marathonatleet van Tanzanië. Tydens die Olimpiese Spele van 1968 in Mexiko het hy geen medalje verower nie. Inteendeel; hy het meer as ‘n uur na die wenner aangekondig is, die wedloop voltooi. In die heel laaste plek. Toe ‘n verslaggewer hom vra waarom hy nie opgehou hardloop het nie, het John Stephen verbaas geantwoord:

“My country did not send me to Mexico to start the race. They sent me to finish.

Hy’t klaargemaak, maak nie saak wat nie! DIT MAAK NIE SAAK WAT NIE, bly my gunsteling sinnetjie, veral in die studio. “Ek gaan hierdie Challenge klaarmaak, MAAK NIE SAAK WAT NIE!” “2025 is my jaar, MAAK NIE SAAK WAT NIE!””Ek gaan nie dat hierdie seer knie my onderkry nie, MAAK NIE SAAK WAT NIE”!

…Oeg. Maar dan is daar natuurlik ook die moeilike “maak-nie-saak-nie”-dinge, tye wanneer ons onsself moet vra – Maak hierdie regtig saak? Die Amerikaanse skrywer Ruth Soukop het eendag gesê: “If it’s not going to matter in five years, don’t spend more than five minutes on it.” Ek kan verstaan dat dit nie regtig saakmaak wanneer ek nie my foon se laaier kan kry nie. Ek kan verstaan dat ‘n vetpersentasie van 13% regtig nie saakmaak nie, want Nina gaan nie eendag onthou of haar ouma ‘n six-pack gehad het nie, net dat sy altyd lekker liedjies kon sing en warm drukkies kon gee. Ek kan verstaan dat almal van ons moet ophou stres oor bietjie selluliet, en liewer jubel oor ons ‘n hele Powerpump klas kan oorleef.

Ek weet Eendag gaan ons plooie en pyne en probleme niks meer saakmaak nie, maar eish, ons is nou hier. Soms maak dit regtig vir ons saak wanneer iemand ons WhatsApp lees, en nie dadelik antwoord nie, soms lê ons wakker oor alledaagse goeters en geld, soms is ons benoud oor die toekoms, en oor ons kinders, en ons gesondheid, want dit maak tog saak. Dis die lewe. Dis ons lewens.

Karen Zoid kan maar lekker sing, “Dit maak nie, dit maak nie regtig saak nie. Jy’s lief vir die “party” en lief vir die jol. Maar die kerke is leeg en die tronke is vol.” En Brendon Peyper kan maar lekker sy kritici aflag met, “Dit maak nie saak wat jy doen nie, mense gaan altyd praat en ‘n opinie hê…”

Ek skat uiteindelik moet elkeen van ons maar self besluit oor die dinge wat regtig vir ons saak maak. Die Amerikaanse filosoof, Henry David Thoreau” het honderd jaar gelede al gesê: “Dit is nie waarna jy kyk wat saak maak nie, maar wat jy sien.”

Die heel enigste ding waarvan ek weet wat vir elke liewe mens ewe veel saak maak, is om self saak te maak. ‘n Verskil te maak. Te voel jy’s genoeg…

“At the end of life, what really matters is not what we bought, but what we built; not what we got, but what we shared; not our competence, but our character; and not our success, but our significance. Live a life that matters”, sien ek raak op Pinterest.
In sy mooi liedjie “Rig jou oë na die berge” sing Jo Black:
“As dit donker raak
Moet jy weet
Jy maak saak…”
Hier’s my weergawe:
You don’t need to shrink, you don’t need to prove,
You are enough—just as you move.
Not the weight you lift, nor the miles you run,
But the heart you bring, the light, the fun.
Strong and fierce, yet soft and kind,
The power you seek is already inside.
No need to chase, no need to bluff,
As you are, you are enough. 💛

Ek maak saak. Ons maak saak. JY maak saak. Al sê wie ook wat! Jy is genoeg. Jy maak ‘n verskil. En ek hoop jy’t ‘n goeie week, maak nie saak wat!


Mirna
082 779 0607