Lank lewe kannie!

“Kannie is dood van kruiwa stoot en stompies rook”, het my Ouma Eloff altyd geduldig gesê, wanneer ek nóg ‘n keer die steke van die breipenne laat val het, en moedeloos gebrom het, “Ek sal nooit kan brei nie, Ouma.”

Hierdie week het “kannie” in my kop kom rondwoel, en dit sommer oor ons 40-jaar reünie…Sien, ons het verlede jaar ‘n WhatsApp-groep gestig met die oog op hierdie naweek se weersiens in Warmbad, by ons Alma Mater. Op hierdie groep is meer as 40 van ons 1984-groep se skoolmaats. En dis een van daardie WhatsApp-groepe wat ek vroeg-vroeg suutjies stilgemaak het, om nie elke dag se “hasie-wat-oor-die-groen-gras-huppel-geniet-jou-daggie-en-duisende-ander-grappie boodskappe hoef te aanskou nie. Maar boeta, toe dit tyd word om te antwoord vir die reünie, toe is hordes van ons skoolmaters skielik tjoepstil…

En toe Dannhauser vra vir die finale getalle, is daar ‘n spul “Kan nie daar wees nie” boodskappe. Ek kan verstaan as jy nie kan kom omdat jy vreeslik ver woon nie, of as daar dood in die familie is, maar, “Ek kan dit ongelukkig nie maak nie”, is dié flouste, gerieflikste verskoning onder die son. En ek ken daardie ene goed – ek hoor dit klokslag elke jaar dié tyd wanneer ons jaareindfunksie aanbreek.

Ek kan nie. Dit kan nie. Jy kan nie. Ons kan nie…

“Kannie” is springlewendig wat sekere dinge in die lewe betref, want nie alles is vir almal beskore nie. Dis net hoe die lewe werk. Al wil ons dit hoe graag hê. Mariaan von Wielligh het baie jare gelede ‘n groot glimlag op my gesig gesit toe sy sê: “Jy weet, Mirries, ek het eendag vir die Here gevra – kan ek nie asseblief nog kinders hê nie? Toe sê Hy “NEE”. Toe vra ek, maar Here, kan ek nie dan asseblief net ‘n goeie “backhand” kry nie? Toe sê Hy “NEE”.

…Ek kan nie vinnig hardloop nie. Regtig nie. En nou vis ek nie vir komplimente nie. Ek wou so graag op skool die aflosspan haal, maar dit het net nie gebeur nie.  So, in Eswee se graad een jaar in JJ van der Merwe, tydens die heel eerste huissportbyeenkoms, hoor ek uit die bloute hoe die afkondiger sê, “Mirna Myrtle Bothma gaan ook aantree vir die ouers se aflosspan teen die onderwysers…”  Né! (Nie my idee nie, natuurlik nie! Elize Serfontein het besluit, oor ek fiks is, is dit ‘n uitgemaakte saak dat ek spoed ook het). Hoe meer ek probeer verduidelik aan die spulletjie, dat hierdie nie ‘n goeie idee is nie, hoe meer dink hulle ek is net beskeie. Ek sien nou nog daardie prentjie – hoe Linda Horn my letterlik van agter af inhaal en verby steek, lank voor die wenpaal! Maar, ek het hulle gewaarsku…En hulle het my nooit weer gevra nie, hiehie!

So ja, “kannie” is nie heeltemal dood van daardie kruiwa stoot nie. Jy kan nie bloed uit ‘n klip uit tap nie. Mens kan nie donkies in resiesperde verander nie. Die dokters kan steeds nie kanker wen nie. Zuma kan nie tel nie. Nie almal kan mooi sing nie. Vodacom kannie jou selfoon net daar regmaak nie – hulle MOET dit wegstuur. En hulle kannie waarborg dat dit voor ses weke sal terug wees nie.

Chantelle de Wet beaam die “kannie”-ding in haar Blog: “‘n Mens kan nie regkom met net drie ure se slaap nie. Jy kan nie altyd oral vir almal wees nie. Jy kan nie die verlede verander of die toekoms voorspel nie. Jy kan nie met oop oë nies nie. Jy kan nie elke oorlog wen nie…”

Maar, en dis ‘n hengse groot maar – baie kere is “kannie” net ‘n gerieflike, flou verskoning wat verdien om nek omgedraai te word,

Ek sê: “Kannie se vet tannie!”

Vir elke liewe ding op hierdie aardbol wat ons nie kan doen nie, is daar soveel wat ons wel kan vermag.

Dit laat my dink aan die kostelike kinderboekie van Fifi Kuo, “Ek kan vlieg.” ‘n Klein pikkewyn sien al die voëls in die lug en wil soos hulle vlieg. Hy probeer als wat hy kan, maar sonder sukses.  “Ek kan nie vlieg nie, Pappa”, sug die pikkewyntjie. Maar kort voor lank leer hy by sy pa dat hy KAN vlieg, onder water. Dit gebeur wanneer hy in die water val, en sy pa is aan sy sy. Met die water wat stroom oor sy gladde lyf, word elke duik en draai ‘n spel van krag en skoonheid, nes ‘n voël wat deur die lug vlieg…

Ek kan nie. Dit kan nie. Jy kan nie. Ons kan nie…

Of wil ons nie? Kan Rassie nie netjieser aantrek nie, of wil hy nie? Kan Facebook ons nie help as ons profiele gekaap word nie, of wil hulle nie? Kan die Stadsraad nie die Petdam regruk nie, of wil hulle nie? Kan jy nie reünie toe kom nie, of wil jy nie? Kan ek nie brei nie, of wil ek nie…? Kan jy nie gewig verloor nie, of wil jy nie?

Ek kan nie vinnig hardloop, mooi sing, of knope aanwerk nie. Maar ek kan vroue bemagtig en bemoedig deur oefening op die maat van musiek, en ek kan my hart op paper sit, sodat dit sin maak.  

Ek kan glimlag vir ‘n vreemdeling, vroeg opstaan, en ‘n koeldrank koop vir ‘n karwag.  Jy kan ook.

In die woorde van Chantelle de Wet: “Jy kan gaaf wees, hulp aanbied, patrone in die wolke soek, minder skinder en oordeel, meer water drink, jou foon neersit as jy met ‘n geliefde praat en jy kan diep asemhaal. Jy kan jou oë laat toets, vroeër gaan slaap, antwoorde op jou vrae soek en van trauma genees. Jy kan kaalvoet oor nat gras gaan loop, die verlede laat gaan, en jy kan ongetwyfeld ‘n positiewe verskil maak.”

Moet net nooit moed opgee nie.

As jy nie kan vlieg nie, hardloop.
As jy nie kan hardloop nie, loop.
As jy nie kan loop nie, kruip, maar moet nie tot stilstand kom nie.
Moet nooit daal nie, styg altyd.
As jy nie kan lag nie, glimlag.
As jy nie kan glimlag nie, wees ten minste dankbaar.
As jy nie dankbaar kan wees nie,
wees dan tog net tevrede.
Kannie is dood. Lank lewe kannie!

Mirna
082 779 0507

PS: Volgende naweek kuier ek in Stellies, dan KAN EK NIE ‘n Blog skryf nie. Wil nie. Kan nie. Sal nie.

5 comments to “Lank lewe kannie!”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Cindy says:

    “Is ons nie kan loop nie, Kruip ons”

    • Mirna says:

      Oh yes, Cindy!

    • Mirna says:

      Jaaaaa Cindy!

  2. Colette Barnard says:

    Baie waar. Ek sal onthou

    • Mirna says:

      Waardeer jou, Colette!