“Nee, ek gaan hierdie Whopping Point maar moet laat verbygaan”, sug Annemarie na ons eerste “Flashmob” oefening…”Ek kan nie een voet voor die ander sit nie, en ek onthou niks van die bewegings nie!” Dis nou Annemarie, wat sover elke Whopping Point moeiteloos ingepalm het, en dieselfde Annemarie wat nog nie een punt verloor het sover die afgelope vyf weke nie. Ek weet, ek weet, ek weet, daar IS nie ‘n Annemarie in ons Challenge nie, maar die doel van hierdie weeklikse skrywe is mos darem om my oefenmaats te bemoedig, nie te “bedinges”nie!
Daarom praat ek vandag sommer uit die monde van al die anonieme “Annemaries” in ons Summer Challenge, wat baie skepties en huiwerig voel oor Donderdagaand se “Flashmob” dansery wat vir ons voorlê in die Merino Mall…
“Wat is dit met Mirna, Michelle, en Jacqueline en hierdie “ge-Flasmobbery”? hoor ek baie van ons nuwe lede woordeloos wonder…Wel, ek kan jou DIT sê, dis wat almal van ons verlede jaar dié tyd gewonder het. Die naaste wat ons op daardie stadium nog ooit aan “optree” gekom het, was wraggies toentertyd laas, toe ons by Tina se gimnastiekkonsert ons “steproetine” opgevoer het…
Maar ek kan jou nog ‘n ding vertel, ALMAL wat verlede jaar deel was van ons “Flashmob”-dans in die Mall, het dit ontsettend baie geniet, en ALMAL het agterna gekla dit was te vinnig verby. Was dit pynloos? Natuurlik nie, ons adrenalienvlakke was bo die wolke, en ons asems was kort, en ons wange het gegloei, maar dit was elke sekond die moeite werd!

Dis regtig vir my baie belangrik gedurende ons Fitness Challenges om die voorbeeld te stel, en leiding te neem, in alles. Daar is NIKS wat ek van die lede verwag, wat ek nie bereid is om self ook te doen nie. Dis die enigste manier hoe hierdie Challenges geloofwaardig kan bly.
Op die eerste dag van ons Challenge, toe almal met ‘n snaakse hoed of haarstyl moes opdaag, het ek gelyk soos Mike Bolhuis se lelikste suster met my regop haartjies…Vir ons “Buddy”-dag het ek lank voor die tyd met Marthie, Allison en Janke gereël om my te vergesel. Volgende Saterdag vind die jaarlikse landswye CANSA Bounce-a-thon plaas, en vir die vierde jaar in ‘n ry is ons studio se kaartjies eerste uitverkoop, met nog ‘n swetterjoel lede wat Zoom-bydraes ook gemaak het. Ons kaartjie verkope is net duskant 70! (Wil jy dalk ook hierdie dag ondersteun en R100 bydra vir die kankervereniging? WhatsApp my asseblief!)
Verlede week moes ons lede ten minste ses oefensessies inkry van Maandag tot Vrydag – ek het my 12 sessies deurgewerk, en ja, nou is dit tyd vir daardie een aand in ‘n jaar wat ons almal uit ons gemaksones gaan bons, en ons harte gaan uitdans in die Merino Mall – Donderdagmiddag 17.15 reg voor Woolworths, pappieeee!
Natuurlik is hierdie ‘n sprong uit ons ALMAL se gemaksones – ja, party van ons kan die bewegings toe oë doen, maar dis ‘n ander storie om dit in ‘n Mall uit te voer, voor ‘n klomp vreemdelinge en nuuskierige, kritiese agies. En tog glo ek vas dis ‘n wonderlike ding!
Netwerk 24 het onlangs ‘n pittige brief geplaas van Elani Nel, ‘n student van Stellenbosch. Sy skryf dat sy deel is van ‘n generasie wat in twee verdeel is. Die een helfte is bang, en die ander helfte is mal. Sy sê sy is een van die malles…
Ek skat ek val seker ook in daardie kategorie, maar dis nie ‘n slegte mal nie. Nee. Hierdie mal sluit in impulsiwiteit, kanse aangryp, en heeltyd iets wil doen. En ja, soms is dit iets simpels, soos om in ‘n lawwe seerower-uitrusting te klim vir ‘n Variety klas, of om dadelik “ja” te sê as Kaptein Corné Kemp vra vir ‘n oggendklas vir die polisievroue, in hierdie selfde besige Oktobermaand, of om die voorbok te wees van ‘n “Flashmob”-dans in die Merino mall…
Dis nie net ek en Elani en ChatGPT wat glo dis ‘n goeie ding om uit jou gemaksone te klim nie…Die bekende motiveringspreker, Brian Tracy, het gesê: “The comfort zone is the greatest enemy of human potential. Move out of it; you can only grow if you are willing to feel awkward and uncomfortable when you try something new”.
In 2021 het ‘n onbekende Britse tennisspeler, Emma Raducanu, die Amerikaanse Ope tennistoernooi gewen. Op daardie stadium was sy nie eers een van die top 100 gekeurde vrouespelers in die wêreld nie! Sy het geweier dat haar anonieme gemaksone haar terughou!
Ek lees verlede week van Martelize Brink, RSG-omroeper en motiveringspreker, wat op 13-jarige ouderdom verlam geraak het na ‘n ongeluk. Dit het egter nog nooit haar lewensvreugde en avontuurlus gedemp nie. Sy toer in Botswana en Rwanda, bied kosprogramme aan, en lewer potgooie. Haar leuse op haar persoonlike webwerf is aangrypend: “Oorlog op gemaksones…sê net ja!”
Sien, ons gemaksone is daardie plek waar alles veilig en bekend voel. Dis waar ons nie uitdagings hoef te hanteer nie, en dinge verloop vlot, sonder veel moeite. ‘n Gemaksone is soos ‘n ou leunstoel – veilig en voorspelbaar. Maar om altyd binne die grense van hierdie sones te bly, beperk ons groei en potensiaal.
Ek glo vas, dat elke nuwe uitdaging waarvoor ons “ja” sê, ons meer leer oor onsself en waartoe ons in staat is, dit maak ons veerkragtig, verhoog ons selfvertroue, en stel ons bloot aan nuwe maniere van dink.
Ons kan tog so vassteek in ons eie koppe…En ek dink almal van ons is liewer vir ons gemaksones as wat ons gedink het ons is. Of as wat ons wil wees. Om uit ons gemaksone te klim, beteken verskillende dinge vir verskillende mense, op verskillende tye. Party mense voel hul verlaat hul gemaksone wanneer hul gunsteling koffieplek toemaak, en hul ‘n ander heenkome moet soek vir hul boeretroos. Vir ander gebeur dit wanneer die spaghetti op die rak in Checkers, skielik daar is waar die seeppoeier laas was.
Soms is ‘n gemaksone regtig net ‘n fisieke steeksheid – om te gil, “Nou al?!”, terwyl ander sug, “Uiteindelik!”. Ander kere is ‘n gemaksone daardie plek waarin ons elke keer terugval nadat ons ‘n terugslag ervaar het, of wanneer iemand ons seergemaak het. Baie kere is ‘n gemaksone iets waaraan ons vasklou omdat ons dit ken, al is dit pynlik en destruktief. Soos om willens en wetens daardie ekstra, lastige, pynlike, tien kilogram saam te dra…
Kruip jy in jou gemaksone weg wanneer jy jouself begin oorwerk, of onseker voel, of is dit jou persoonlike lewe of verhoudings wat verhoed dat jy meer kanse waag? Ek wonder maar net.
Om regtig uit jou gemaksone te klim, beteken regtig nie dat ek dink mens moet skielik al jou spaargeld uitgee, Kilimanjaro gaan klim, of vir ‘n jaar lank Engels gaan gee in een of ander Asiese land nie. Jy hoef nie ‘n bungee-harnas aan te gord en te gaan bewe-staan bo-op ‘n brug nie.
Ek weet net, as ons nooit die grense van ons gemaksones verskuif nie, al is dit net met millimeters, gaan ons vir die res van ons lewens presies dieselfde bly. Wanneer die huiwer my beetpak, herinner ek myself aan Orison Swett Marden se wyse woorde:
“We lift ourselves by our thought. We climb upon our vision of ourselves. If you want to enlarge your life, you must first enlarge your thought of it and yourself. Hold the ideal of yourself as you long to be, always everywhere.”
Die slim ouens sê dis meestal vrees vir mislukking en kritiek wat ons binne ons gemaksones hou. En die simpel neul-vragie in ons binneste: “Wat as…”. Ek dink die “Flashmob”-dansery val sekerlik in hierdie kategorie…Wat as ons die “moves” vergeet? Wat as almal vir ons lag? Wat as die klanksisteem nie werk nie? Wat as almal regs gaan en ek links? Wat as ons broeke afval?
Ek gaan dit nie teen jou hou wanneer jy besluit om Donderdagmiddag NIE aan te meld vir hierdie besigheid nie, Annemarie. Weet net, jy het self gesê die tweede en derde oefenslag was al makliker. Jy was skoon spyt jy het Woensdagaand se Cardio Fun klas gemis!
En onthou, ons is almal saam in hierdie wonderlike ding! Wat ‘n voorreg om saam-saam só benoud te voel, en saam-saam te ervaar hoe ons wildste drome nader voel sodra ons wêreldjies groter raak. Saam-saam malles, nie banges!
So, oorlog op ons gemaksones. Wat sê jy…Ja, of nee?
Mirna
082 779 0507
2 comments to “Ja…of nee…”
Dit klink opwindend en iets wat net Mirna’s sal aanpak. Dit lyk baie mooi as die hele klas saam beweeg en ek verkyk my aan die mooi gym klere wat almal aanhet. Voorspoed!
Hoop jy’s saam ons een van die dae, liewe Colette!