Small act of kindness

Klein “Blessings”…

In haar boek “The sleepwalker’s guide to dancing”, skryf Mira Jacob: “There are small blessings, tiny ones, that come unbidden and make the hard day one sigh lighter.” 

Ek het hierdie week vir “Blessing” ontmoet…Hy wou bitter graag aansluit by die studio vir ons klasse, en ek het voorgestel dat hy vir ‘n paar sessies indraf.  “Blessing” se geaardheid is net so mooi soos sy naam, en ek dink, as dit van my alleen afgehang het, was “Blessing” nou ‘n volwaardige lid…

Met sy agtergrond in dans en ballet sou ons ‘n dooie jakkals aan die draf kon “move”, maar dis nie so eenvoudig nie.  Hierdie mooi studio van ons is lankal nie meer net myne nie – dis die somtotaal van honderde voete en harte wat weekliks oor daardie drumpel tree, en hierdie lojale lede bly my eerste prioriteit.  Daarom het ons, na ure se wik en weeg, besluit – dis tog beter dat ons studio, soos nog altyd, eerder ‘n “All-Girl-Sisterhood” bly…Gelukkig het “Blessing”dit heeltemal verstaan, maar ons ontmoeting het tog ‘n saadjie in my kop kom plant… 

Almal praat heeltyd oor die klein dingetjies in die lewe.  Oor hoe belangrik dit is om die klein dingetjies te tel en te koester, want dit is wat ons eendag gaan mis… In hierdie week se episode van die gewilde Kyknet-reeks, “Een keer om die son”, wat my wraggies elke week in trane het, sê Elma ook vir haar gesin:

“Ons moet hierdie oomblik vasvang voor die Groot Vergeet my vat…”

Dit laat my dink aan die spesiale boek van Mitch Albom, “The Time keeper.”  In hierdie roman raak Dor, die hoofkarakter, bewus van tyd en seisoene – hy word die eerste man wat metodes ontwikkel om tyd te meet.  Hy raak egter so behep daarmee, dat sy gesin daaronder ly.

Met die verloop van tyd ontwikkel hy sekere insigte.  Een daarvan beskryf hy so: “There is a reason God limits our days – To make each one precious.  With endless time, nothing is special.  With no loss or sacrifice, we can’t appreciate what we have.”  Mitch Albom skryf dan ook op ‘n stadium, “I lived, but I was not alive…” 

…Daar het so ‘n vreemde rustigheid oor ons studio neergedaal hierdie week, so asof almal asem skep voor die Summer Challenge se afskop.  Ek kon ook ‘n slag weer asem haal, en Kristin Hannah se “Fly away” uiteindelik klaar lees.  Dit lê al vir weke onoopgemaak langs my bed.  En vandag, op Lentedag 2024, tel ek sommer net my seëninge, en is ek sommer net van voor af weer dankbaar…

Dis onmoontlik om die klein dingetjies in ‘n mens se lewe te tel met ‘n sakrekenaar se knoppies.  Maar ‘n mens se hart – hy is die een wat telling hou laat dit bars.  Jou hart onthou elke klein dingetjie, goed en sleg.  En jou hart maak nie sommer optelfoute nie. 

Iemand stuur in die week ‘n WhatsApp-boodskap van Helen Steiner Rice oor Psalm 68:19: ”Blessed by the Lord, who daily loadeth us with benefits.”  Dis nodig dat ons onsself net weer bietjie hieraan moet herinner, want ons kan so maklik verswelg word deur die dinge om ons – hierdie liewe dorp van ons wat gereeld nie water het nie, die dure oogpotlood se punt wat stomp afbreek, die boete oor jy nie gestop het by die lawwe nuwe stopteken voor die Stadsraad se ingang  nie, die geyser wat koud bly, die bril se lens wat kraak, die swart gebrande veld na die wegholvuur, die verlang na jou ma wat nooit ophou nie.

Die Amerikaanse skrywer, Jeffery Deaver stel dit so goed in sy boek, “Edge”: “It’s a tough life.  It’s the little things that get us through the day…” 

Dis nie maklik om die klein dingetjies raak te sien wanneer dinge om ons skeef loop nie. Maar dis die klein dingetjies wat ons hoop lewend hou. En dis al die klein-dingetjies-gedoen-met-liefde wat die monsters in ons binneste beveg. Die klein dingetjies kry mens nie op winkelrakke nie.  Dis sentimentele hartsgoed – ‘n mooi “môre” of “hallo”, ‘n lekker koffie by “Daily” saam ‘n maat, ‘n boodskap wat sê: “ek wens Mamma kon by my bachelors wees, Mamma sou dit so geniet het”, ‘n foto uit Stellies van Nina se vars gewaste kleertjies op die wasgoeddraad, die hospitaaltassie gepak, en die blink belofte, een van die dae ontmoet ons hierdie mensie in lewende lywe…

Hierdie week moes ek myself weer ‘n slag op die vingers kom tik, en herinner, dat die sukses van ons studio nie gebaseer is op 17 900 volgelinge op YouTube en mooi kommentaar van vreemdelinge op ons Instagram-blad nie – nee, wat regtig saak maak is die manier waarop ek elkeen van my lede ontvang en hanteer en laat tuis voel.  Elke dag. Ek moet nooit vergeet dat elke oefenlid ook ‘n mens is nie, in lewende lywe, met ‘n hart en wense en ‘n wil, en net omdat hulle nou in die klas is, beteken dit nie hulle gaan volgende maand noodwendig weer ons studio kies as hul oefenplek nie…

Een piepklein dingetjie kan verhoudinge vertroebel, maar een piepklein dingetjie, een enkele gebaar, een solo vertoning van goedheid, een kyk met sagte oë, het ook die gawe om ‘n glimlag op iemand se gesig te sit, of ‘n hele onderstebo-week weer regop te draai.  Die klein dingetjies…dalk is hulle nie so klein nie…

So kom ons kyk weer, kyk kleiner, kyk mooier, praat sagter, luister fyner. En kom ons kyk uit vir die klein “blessings”.   Soos die Amerkaanse filmmaker, Andy Warhol sê, “Let the little things that would ordinarily bore you, suddenly thrill you”.

En nou kan ek nie help om te wonder nie – het jy planne hierdie somer?  Groot voornemens? Om hordes gymsessies deur te werk en hope gewig te verloor voor jul seevakansie?  Wag, dalk moet ons met ons planne ook eerder maak soos met ons “klein blessings”, en Koos Kombuis se raad volg: “Twee suikers in my tee pleks van drie.  Ek weet, dis net een minder.  Maar een is beter as niks.”

In ‘n rubriek op Netwerk 24 skryf hy: “Dis asof die oomblik wanneer jy die eerste positiewe tree begin gee, jou gemoed so effentjies begin lig.  Na drie dae van elke dag om die blok stap met jou hond, ervaar jy die eerste kriewelinge van hoop.  En selfs ‘n bietjie selfrespek.  So, ja, los al die moerse planne en “spreadsheets” en lyste en lugkastele.  Begin klein.”

Om die klein dinge te waardeer, beteken nie dat ons moet ophou droom of strewe nie.  Dit beteken net dat ons leer om die oomblikke van vrede en eenvoud raak te sien en te koester.  Dit help ons ook om meer waarderend te leef.

So. Begin klein.

Wie weet, dalk lyk alles anders volgende jaar hierdie tyd… 

Ek gaan ‘n punt daarvan maak om hierdie somer dankbaar te wees vir die klein dingetjies.  Vir my hartsmense vertel hoe ek hulle waardeer.  My lede op die hande dra, en mooi na hulle kyk, met sagte oë, en vir Jacqueline en Michelle ook gereeld, genoeg, sê “dankie”. Kleiner kyk, en beter sien.  Ek wil seker maak dat ek die klein “blessings” waardeer – ‘n sonsondergang, ‘n vreemdeling wat die deur oophou vir iemand, mooi blomme, ‘n verbyganger wat groet, ‘n lekker steproetine, ‘n warm kaggelvuur na ‘n ysige middag in die studio, Céline Dion wat weer kan sing. Opkyk na die wolke en die delikate kwashale van veerwolke weer raaksien en indrink.  En ek gaan “juffrou” Vera se Warmbadwoorde onthou:

“Botter al vier hoeke van die snytjie brood.  Dis hoe jy liefde wys.”

Mirna
082 779 0507

6 comments to “Klein “Blessings”…”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Susan says:

    …..die kleindingetjies. My amper 93 jarige Moedertjie wat by my woon…ek hou haar elke dag fyn dop, en drink die kleindingetjies in, en bêre dit in ‘n ewig onthou laaitjie..haar laggie, haar spesiale manier wanneer sy n appel skil en sommer net eet, ek nou die dag n skelm video gemaak…want ek moet dit eenvoudig koester…hoe sy alles herwin vir die kerk…want dis haar bydra…hoe sy elke aand kniel voor haar bed met die Bybel voor haar oop, lees en saggies hardop bid, vir elke kind, kleinkind en agter kleinkind, vreindin….en elkeen se naam noem…so kan ek aangaan…lekker bewoë raak ek terwyl ek tik…xxxx

    • Mirna says:

      Sjoe, dankie hiervoor Susan. Ja, jy is baie bevoorreg om haar by jou te he.

  2. Elmarie Celliers says:

    Ek geniet jou wonderlike deel van fotos en articles.

    • Mirna says:

      Baie dankie, Elmarie. Waardeer dit!

  3. Karen Cilliers says:

    So spesiaal…
    Al die klein dingetjies wat ons koester vir ons geheuebank.🩷

    • Mirna says:

      Verseker, Karen. Dankie!