Elke mens is ‘n storie…

Verlede Donderdag net voor ek deur die hek stap by Oliver Tambo-lughawe, vang die groot, kleurvolle slagspreuk my oog: “Your stories might inspire other stories…” Ek kan nie eers onthou aan wie het dié bemarkingsveldtog behoort nie, maar ek het onmiddellik stilweg geglimlag – weer ‘n lekker tema vir my Blog…

Die legendariese skrywer Hennie Aucamp het êrens gesê: “Stories wat eenmaal gedink is gaan nooit verlore nie. Dit swerf op luggolwe rond tot dit huisvesting in die hart van `n geskikte ontvanger kry.”

Ek is mal oor stories – ware stories, lawwe stories, mooi stories, hartseer stories, en lekker stories met gelukkige eindes.  Ek hou van alle stories, behalwe hospitaalstories en skinderstories. My pa was een van die beste storievertellers.  Hy’t altyd gesê sy stories kom nie uit boeke nie – dis alles uit sy ryke ervaringswêreld.  Verseker het sy stories met die jare `n paar stertjies bygekry, maar hoekom nie?  Dit was tog SY stories!  

Maar dis nie net storievertellers, skrywers, en oupas wat ryk is aan stories nie. Of jy nou een is wat baie praat of een is wat liewer jou woorde tel, as jy asemhaal – hét jy `n storie.  In een van sy Kaalkopboeke skryf Nataniël:

“Stories is deel van elke dag.  Elke tiener wat verlief raak, elke kind wat gebore word, elke huwelik wat in `n hofsaak eindig, is `n storie.”  Selfs die grootste geheime waarmee soveel mense in die wêreld graf toe gaan, is stories, veilig bewaar in die hart se spens.

Elke familie het ‘n storie.  Elke dorp het ‘n storie.  Elke mens het ‘n storie… Wat is JOU storie?  En nou verwys ek nie na daardie kwaai retoriese vraag van ons ma’s gedurende ons kinderjare nie.  Onthou julle?  “Wat is jou storie?”, wou my ma, pantoffel in die hand, weet, toe ek een Vrydagmiddag in standerd 4 met my skaatsplank op die tennisbaan gaan rits het, en heeltemal vergeet het van my klavierles…”Wat is julle storie?!”, het sy grootoog geraas wanneer ek en Delien baklei het…

Nee, ek praat van die storie van ons lewens, met al sy vreugdes en hoogtepunte, maar ook seer en teleurstellings. Ons het almal stories, en ons skryf elke dag aan hierdie lewensstories.  Elkeen van ons se stories is anders…maar ook eenders.  Soms is daar groen berge, branders wat breek, uit die maag lag, hoop, sukses, en opgewondenheid.  Ander kere is ons stories deurspek van gate in die pad, alleenheid, seerkry, moed in die skoene, weer begin, en te hoë bergtoppe…

Ek dink dis waar dat stories altyd gebeur daar waar lekker saamgekuier word.  Van kuier was daar die afgelope klomp weke nie sprake in die studio nie – ons het gewerk! Ek kan amper nie glo dat ‘n volle tien weke van ons 13-weke Winter Challenge al agter die rug is nie.  Ek kan jou ‘n hele dag lank besig hou met lekker oefenstories vol snaakse oomblikke, pittige aanmerkings, kostelike video’s, en “blooper”-momente, maar een van die dae gaan my Blog veral weer wemel van al die suksesstories…Ek is regtig so trots op almal.

Stories word ook gebore wanneer herinneringe en drome ontmoet in tyd en woorde. Ek was bevoorreg om by die pragtige Alluvia-landgoed saam met Mariné babatee te vier verlede naweek.  Jy het waarskynlik al die byna ongelooflike storie van haar wonderwerk-swangerskap gehoor, daarom gaan ek dit nie hier in detail vertel nie.  Meeste mense weet dat, medies gesproke, haar kanse op ‘n natuurlike swangerskap nie groot was nie.  Tog het Neis verlede Desember in ‘n rustige stemtoon vir my gesê, “Mamma, ek en Zander het vir mekaar gesê, as Liewe Jesus vir ons ‘n babatjie wil gee, dan sal Hy…” Min het sy toe geweet dat sy reeds verwag…

En hier is ons nou, met skaars 10 weke oor voordat ons vir kleine Nina gaan ontmoet, en ek weet Zander en Neis gaan oor dié ervaring nog lank gesels – ‘n storie van wonderwerk op wonderwerk.  Hulle storie. Waarin ons met soveel opgewondenheid deel.  Van daardie tweede strepie op die swangerskaptoets, tot die wonder van die eerste sterk hartkloppie, en die lyfie wat week na week net groter en sterker groei…

Verlede Saterdag het ek hierdie aanhaling van Emma Bombeck vir Neis gelees: “Someone asked me the other day, if I had my life to live over again, would I change anything in my life story?  I said ‘no’, but then I thought about it and changed my mind.  If I had my story to happen over again, I would have waxed less and lived more. Instead of wishing away nine months of pregnancy, and complaining about the shadow over my feet, I’d have cherished every minute of it and realized that the wonderment growing inside me, was to be my only chance in life to assist God in a miracle…”

Mariné se storie het weer ander ou, kleintydstories in my wakker gemaak.  Ek onthou ‘n oggend op Lothair by ‘n vroue-Bybelstudie…Neis was seker omtrent vyf jaar oud, en het oudergewoonte op my skoot gesit.  (Sy en Eswee het permanent op my skoot gesit, skaamgeit se Moses!).  Iemand het gevra, “Mirna, dink jy nie dis nou tyd vir nog ‘n babatjie nie?”  “Nee dankie”, het ek gesê.  “Ek het nou twee Bothmatjies mooi groot gemaak.”  Mariné het fronsend na my gedraai en kliphard gesê: “Maar Mamma, Selinah het ons mos groot gemaak…”😊

…Hierdie week draai Elvis Blue se “Rede om te glo” bietjie in my kop – “Elke mens het ‘n storie, elke mens het seer…” Ek dink aan die uiterstes van die opwinding van Nina, en dan eensklaps die week, die nuus dat Michelle se skoonmammie oorlede is na ‘n bitter moeilike kankerstryd.  Dit het ons almal weer bietjie tot stilstand geruk, en ons kom herinner dat elkeen van ons se storie hier op aarde eendag eindig.

Daar is een aanhaling van Steve Hofmeyr wat my altyd sal bybly.  Jare gelede, in “Reis na gister” saam met Jak de Priester, daar in Pretoria, staan Steve en Jak voor die ou spoorweghuisie van Steve se kinderdae .  Met trane wat opwel in sy oë sê Steve: “Ek en jy is die somtotaal van elke stukkie goed en sleg wat met ons in ons lewens gebeur.  Dit maak ons wie ons is…” Elke mens het ‘n storie.  Elke mens IS ‘n storie.

Savi Sharma skryf: “Everyone has a story to tell.  Everyone is a writer – some stories are written in books,and some are confined to the heart.  But everyone has a story.  It might or might not be a love story.  It could be a story of dreams, friendship, hope or survival.  And every story is worth telling.  But more than that, it’s worth living…”

Ek glo dis die eintlike rede waarom ek week na week ‘n Blog skryf – al lees niemand dit nie, dis vir my goed om my stories te vertel.  Dit laat my ligter lewe, en dis my manier om die asemrowende skoonheid, en die aardsheid van menswees te verwoord.  Soos wat ek groei in wysheid, so groei ek ook elke dag in domheid, en nederigheid.

Deur ons stories te vertel, ons eie stukkies waarheid, gee ons inhoud aan die lewe en word ons las ligter.  En elke dag wat tot ons lewens bygevoeg word, is nog ‘n geleentheid om verder aan ons stories te skryf.  Elke nuwe dag lewer nuwe stories op, en selfs die kleinste gebeurtenis kan ‘n storie word.  Is dit nie wonderlik nie?

Mirna
082 779 0507

6 comments to “Elke mens is ‘n storie…”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Susan says:

    Elvis Blue sing “Elke mens het n storie, elke mens het seer….”

    • Mirna says:

      Ja, het dit juis aangehaal in die Blog!

  2. Karen says:

    Hi Mirna
    Dis die mooiste “storie” wat jy in hierdie week se Blog geskryf het. Dankie.

    • Mirna says:

      Baie dankie Karen!

  3. Colette Barnard says:

    Dis pragtig. Jou blogs beteken baie vir my en het waarhede wat ek al vergeet het en dis altyd so mooi geskryf. Ek dink baie keer “dit is so! ” as ek dit lees. Geluk met Neis. Julle lyk baie gelukkig en mooi

    • Mirna says:

      Baie dankie Colette, ek waardeer jou lees en jou terugvoer elke liewe keer!