“Mooi is ‘n werkwoord…”

Oeg, sien ek nou sommer al klaar hoe rek Gerda se oë wanneer sy hierdie opskrif lees.  “MOOI” bietjie vir my dat ek kan sien”, hoor ek kompleet haar stem daar in die Afrikaanse klas terwyl sy spook om die liewe woordsoorte in almal se koppe te kry…

Hierdie week is “mooi” in mý kop, en net vir hierdie week maak ek sommer van “mooi” ‘n werkwoord, want “mooi” IS ‘n woordjie wat werk!

…Dis winter en grou en koud, maar ek kan nie help nie, die lewe voel sommer net mooi en maak mooi en lyk mooi.  Chloe, of Nomfundu, soos die blondies tergenderwys na ons snoesige kat verwys, was gedurende die langnaweek vir twee volle nagte skoonveld.  Sondagoggend douvoordag was sy êrens op ons werf in ‘n woeste geveg betrokke, en sy het duidelik tweede gekom.  Met ‘n bloedneus, ‘n gekrenkte ego, én ‘n seer ogie, het sy haarself in ‘n beteuterde bondeltjie kom opkrul in ons instapkas.  En toe ons weer sien, het sy verdwyn.  Teen Dinsdagoggend vroeg was daar nog geen teken van ons kat nie, en ek en Schalk het elkeen so in die stilligheid aanvaar dis neusie verby…

Dinsdag douvoordag ry ek met skrefiesoë studio toe, te bang ek sien êrens ‘n platgeryde wit-en-swart bondeltjie in die teerpad.  Maar 6.30 se koers stuur Schalk ‘n foto – Chloe is terug.  Dié kat hét wraggies weer gekom, én hoogs waarskynlik nog een van haar 9 lewens opgebruik, maar toe is die lewe oombliklik sommer weer prentjiemooi! 

“Julle is regtig die mooiste dansende duiweltjies wat ek nog ooit gesien het!”, roep ek terwyl ons Woensdagaand mambo op die maat van Doja Cat se “Paint the town red.” (En is hulle nie mooi nie!  Kyk daai foto).  MOOI en propvol is ons studio in die hartjie van ‘n wintervakansie.  MOOI lyk almal se tweede assesserings met nog sewe volle weke van ons lang Winter Challenge oor!  Hoe MOOI was dit gister om te voel hoe dit voel om deel te wees van ‘n opgewekte skare op Loftus, tussen derduisende blou en rooi waaiende Bloubul vlaggies.  MOOI was die prentjie om ons eie Neis met daardie blonde, lang hare en boepmagie te sien, in lewende lywe, daar in die aankomsaal op Oliver Thambo lughawe. Ja, sy is sowaar hier, by ons, in Petstraat, vir ‘n blitskuiertjie. (Dankie, liewe Zander).   

“Mooi” word ‘n werkwoord wanneer ek tyd maak om vir iemand te sê, “Jy lyk mooi vandag”, wanneer ek onthou om vir Schalk dankie te sê wanneer hy my inwag met ‘n warm kaggelvuur, bruin gebraaide hoenderboudjies en perfekte witrys na ‘n lang dag in die studio.  “Mooi” is ‘n woord wat werk wanneer ek Jacqueline se oog vang in ons Cardio fun-klas en ons uitbundig saam lag, en “mooi” slaan my asem weg wanneer ons vir Letta ‘n Mirna’s hempie aantrek, en sy moeiteloos op die verhogie saam met ons ‘n Mini-Challenge vervolmaak! (Watch this space…)

Die Amerikaanse aktrise, Kelli O’Hara het onlangs gesê: “I suppose there are a lot of reasons to be jaded or sarcastic or bitter in life, but I hang on to the reasons why life is beautiful.”

My wêreld is seker bietjie klein op die oomblik – ek bedoel, my mond water wanneer ek lees iemand ervaar ‘n laataandrit in die maanlig deur Meiringspoort, my hart trek ‘n punt wanneer ek hoor hoe iemand anders beskryf hoe hul ry tot heel bo op die Swartbergpas, en afkyk op die veelkleurige landbou lappiesgrond doer onder in Matjiesvlei.  Ek kan maar net droom van soek na klein, groen see-kastaiingdoppies op Swartvleistrand, of stap op ‘n Sondagoggend al met die treinspoor van Kaaimanspas tot by Victoriabaai.

Michelle verjaar hierdie Woensdag in die hartjie van Botswana, en ek kan net dink met hoeveel duisende mooi stories sy gaan terugkeer huis toe. Talita het sommer nou die dag die Camino in Spanje gaan stap saam met haar ma.  Oef, ek sou my voortande gee vir daardie voorreg. Ek wil nog luister na al haar mooi wedervaringe, maar vir eers moet sy haar alie roer om op datum te kom in hierdie Challenge!

Ons ry hierdie Julievakansie met Jan Tuisbly se karretjie, en tog is ek oorweldig met die wete – die lewe IS mooi.  Want mooi word gelukkig nie net ‘n werkwoord in die wildtuin of by die see nie.  Mooi is ‘n ingesteldheid.  Mooi is ‘n leefwyse.  Mooi is ‘n manier van dink. 

‘n Ou anonieme spreekwoord lui: “Skoonheid kan jy slegs sien as jy dit in jou hart het.” Dis wanneer ons besef dat die mooi van die lewe nie net dit is wat ons elke dag sien, en ondervind, en met elke sintuig beleef nie.  “Mooi” is ook die minder opsigtelike – daardie dinge wat ‘n blywende impak maak op ons waardering vir die lewe.  “Mooi” is in elke stukkie klein genade.

En in elke omstandigheid, selfs hoe tragies, IS daar altyd ook ‘n klein spatseltjie mooi – ek dink aan die tragiese busongeluk op die Mma Matlaka-brug ‘n paar maande gelede, en ons wonder hoe dit moontlik is dat net een 8-jarige meisie kon oorleef.  In Meimaand verneem ons van die gruwelike gebeure toe ‘n gebou onder konstruksie, in George ineenstort.  Maar ons lees ook van ‘n dapper Belgiese Malinois, genaamd Bond, wat vir ure onophoudelik gesoek het na oorlewendes daar in die puin…

…“Die lewe is mooi, die lewe is goed, die lewe is maar net wat jyself daaruit soek.” ‘n Rympie wat ons graag op skool in ons maats se onthou-boekies geskryf het aan die einde van ‘n skooljaar.  Onthou jy daardie boekies?

Mag jy in hierdie stil wintermaande onthou – mooi is ‘n werkwoord. Mag jy in alles die mooi soek en sien, en waardeer.  Vier jouself – jou mooi, jou lelik, jou foute en sukses.  Vier wie jy is, wie jy word, en hoe ver jy gekom het.  Jy verdien dit!

“Soek na die mooi in die lewe, en die lewe sal mooi word”, lees ek iemand se leuse raak op hul webwerf propvol mooi goed…Die lekker is, “mooi” is wat JY besluit dit moet wees.  Luister mooi, kyk mooi, praat mooi, eet mooi, en oefen mooi.  Leef mooi.  Kyk mooi na jou dierekinders, hulle is verdomp ook net geleen, en hou vas… Yes, “hang on, to every single reason why life is beautiful… “

Mirna
082 779 0507

4 comments to ““Mooi is ‘n werkwoord…””

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Susan says:

    Mooi bly mooi…

    • Mirna says:

      Verseker, Susan!

  2. Colette Barnard says:

    Dis pragtig! Ek voel opgeruimd na ek dit gelees het!

    • Mirna says:

      Ah dankie alweer, Colette!