…Ek praat nou nie van daardie vreeslike “M”-woord waaroor ek ‘n paar jaar gelede geskryf het nie. Onthou jy, ek het gesê ek verpes dit wanneer mense my “M” noem in ‘n WhatsApp-boodskap, om kwansuis tyd te spaar oor “Mirna” te lank vat om te tik…
Vandag se groot M is ook nie Mirna wat 20kg opgetel het nie. Nee. Ek praat van daardie woord wat ons woordeskat op ‘n dag ongenooid binnesluip. Daardie vloekwoord wat vroue nie graag sê nie, maar wat elke liewe vrou, én man, glo dit of nie, een of ander tyd oorval, sommige erger as ander. Ek dink die manne erken dit net nie so maklik soos ons nie. Menopouse.
Jy dink seker, wat besiel my om hierdie onderwerp aan te haal in ‘n jaar waarin my hart baljaar van vreugde oor die vooruitsig van ‘n kombuistee én ‘n babatee? Dit was joernalis Willemien Brummer se artikel in verlede Saterdag se Beeld, wat my gedagtes al weer op loop gesit het…En, dit is immers die 21ste eeu, ons praat mos oor alles.
In haar vrek oulike rubriek, vra Brummer: “Hoekom vier ons nie warmgloede nie?” Omdat “menopouse” vir meeste van ons ‘n skelwoord is. Dis iets waaroor ons fluisterend praat terwyl die manne buite braai. Dit gebeur gewoonlik wanneer jy in jou vyftigs beland…Skielik durf jy nie in ‘n geselskap sê jy’t hoofpyn nie, of dat jy sleg slaap nie – dan kry almal so ‘n verafuitdrukking in hul oë. Slaan hulle hande saam en sê medelydend, “dis jou oorgangsjare, mens…”
So asof jy op sterwe lê! So asof hierdie toestand die wagkamer vir die ewige lewe is. Oorgang of oorgaan – waarheen wil ek ook weet? Ek besef daar gebeur dinge met ‘n mens se lyf na 50, of altans, dit gebeur juis NIE meer nie – maar om dit met soveel negatiwiteit te vereenselwig? Nee, nooit gesien nie!
“Jy kan maklik praat”, hoor ek al klaar iemand brom. “Jy’t nie 10kg bygekry in jou vyftigs nie.” Want ek oefen, pappieee, en ek kyk ook maar wat ek eet en drink. “Jy’t nie so baie plooie nie!” Want ek botoks, pappieee, en ek doen PRP gesigbehandelings by Johanita. “Jy lê nie elke aand vir ure wakker nie.” Want ek drink Melatonin, pappieee. En ek weier doodeenvoudig volstrek dat die ouderdom my intrek soos ‘n ondergrondse magneet!
Ja, ek het waarskynlik relatief lig afgekom van die ergste simptome van die groot M. Net so paar keer ‘n warm gloed of twee gekry. En ek kan regtig nie saampraat wanneer vrouens sê hul hoef nie meer wintersklere te koop nie – wanneer hulle sê hulle is nou hul eie verwarmers, kry ek nog steeds koud.
Maar ek het ‘n wilsbesluit geneem dat as my kaalvoet-oor-die-Drakensberg-voorsate sonder hulp en voorskrifte en ekstra hormone hulle oorgangsjare kon oorleef, is ek ook geneties toegerus om die pad te loop. Wanneer daardie Voortrekker-tannies gesweet het, het hulle dit toegeskryf aan werk, en om af te koel het hulle net hul gesigte in die waskom gedompel. So, basta!
Al daal my estrogeenvlakke, al word my beentjies elke jaar bietjie dunner, al is daar elke dag ‘n nuwe plooi of sonvlek by. Ek oefen, ek drink my Nutritech Whey Protein shake getrou, en ek sluk elke dag my teelepel kreatien met ‘n bietjie water. Dit verrig wondere! En wanneer ek in die spieël kyk, weier ek om dubbeldoor-boarms en skoenlapperknieknoppe te sien, al is ek ver verby die drempel van ‘n halfeeu se wees op aarde. Die Britse aktrise, Audrey Hepburn, het dit so mooi beskryf: “And the beauty of a woman, with passing years, only grows!” Hoor-hoor!
So, terug na Willemien Brummer se artikel. Sy vertel my ‘n hele paar dinge wat ek glad nie geweet het nie: Sy sê die term menopouse is in 1821 geskep deur ‘n Franse geneesheer, toe die term “oorgangsjare” bekend gestaan het as “vroue se hel”. Sigmund Freud het op sy beurt na menopousale vroue verwys as “skoorsoekerig, lastig, en aanmatigend.”
Maar die term wat eintlik my hart gesteel het in Brummer se artikel, is “veerkragtigheid.” Sy verduidelik dat daar veranderinge in ons breine plaasvind na 50, wat ons meer selfvertroue gee, en ons minder sensitief maak vir negatiewe stimuli. So, al beteken dit ons kanse op Alzheimer IS groter, is daar ook groter emosionele stabiliteit en meer empatie!
Uit ‘n evolusionêre perspektief het menopouse ook sy pluspunte – want nie almal wil vir ALTYD kinders baar nie. Die aktrise Kristin Scott Thomas, wat verlede Sondag weer my hart van voor af gesteel het in “The English patient” op Netflix, definieer menopouse so mooi – “when a woman is no longer a machine with parts.”
Vroulike moordvisse beleef ‘n soortgelyke lewensfase as ons vroue – hul is anders as die meeste diere wat vrugbaar is tot die dag van hul dood. Studies onder die Orcinus orca het gewys menopouse is voordelig vir die koeie omdat hulle vir ‘n slag hul energie kan gebruik om hul skool aan die lewe te hou in plaas daarvan om nog babas te kry. Hulle lei ander moordvisse op lang jag-ekspedisies; in tye van skaarste weet hulle waar die salm is, en hulle is mentors vir jonger visse…
Nou ja toe, daar het julle dit – dis hoekom ek hierdie winter ons 27ste Fitness Challenge kan loods. Dis hoe ek my oefenklub aan die lewe hou, en dis waarom Jacqueline en Michelle sulke fantastiese instruktrises is – ek het twee magiese moordvisse opgelei! Dankie menopouse!
Nee, ek grap net. Hulle tweetjies is vanself fantasties. Maar dink vir ‘n oomblik daaroor – die feit dat vroue uiteindelik hul hande, of vinne, los het om hul groep te lei, is oorgenoeg rede tot feesviering. So, kom ons hou kombuistees en babatees EN vier warmgloede en plooie!
En kom ons behou ons sin vir humor. Ons is dit aan onsself verskuldig. Soos die Amerikaanse komediant Joan Rivers eendag opgemerk het: “Had a friend going through menopause come to lunch today. Her hot flush was so bad, it steamcleaned my carpet.”
…Dis ‘n onuitspreeklike seën om ouer te word. Nie almal geniet daardie voorreg nie. En, hoe ouer ons word, hoe meer word ons onsself.
Daarom juig ek saam met Dirty Dancing-aktrise, Jennifer Grey: “I believe whole-heartedly that age is a mindset. Biological age is what it is, but I truly believe it’s more about how you feel – how you feel in your body and how you feel about your body.”
Oorgangsjare se voet. Kom ons besluit om nooit die hormoon-orkaan te blameer vir ons ekstra kilogramme, ons vergeetagtigheid, en ons tranerigheid nie. Kom ons verseg om oud te word, al bereik ons vyftig, slaan sestig, haal sewentig, of lewe tot tagtig. Kom ons onderneem om nooit op te hou om vir onsself te lag nie. Kom ons vergewe onsself wanneer ons skoorsoekerig, lastig, en aanmatigend is. En. Kom ons belowe onsself, dat ons drome nie sal ophou wanneer ons biologiese stopstrate ons briek nie.
Ek kan nie, soos Antjie Krog, menopousale sonnette skryf nie. Ek wil ook nie, sy praat te lelik! Maar vergewe my net hierdie een keer wanneer ek vandag ook sê:
“Se moer ek is rots ek is klip ek is duin
Ek is
Ek is
Die Here hoor my
‘n vry f***n vrou”
Mirna
082 779 0507
2 comments to “Die groot M”
Dis pragtig! Baie bly ek het gelees hoe mens jouself kan jonk hou en weier om oor te gee aan ouderdom. Wonderlike nuus oor n troue en babatjie wat aan die kom is!
Dankie Colette!