
Wanneer een van ons lede ‘n volle 30 kg verloor, dan moet ons daaroor skryf, ons kan nie anders nie! Elsabé Tesner het in Junie by ons aangesluit, toe hét sy al ‘n reuse klomp kilo’s afgeskud. Ja, sy het nie eens aan ons Winter Challenge deelgeneem nie – sy het dit sommer eiehandig reggekry.
‘n Klompie weke gelede het Elsabé een oggend ingedraf vir ‘n InBody-assessering, en sy het gevra of ons ‘n foto kan neem in die studio die dag wanneer sy altesaam 30 kg verloor het. Dit het sommer baie vinniger gebeur as wat ek gedink het, en verlede Dinsdagoggend het ons Elsabé afgeneem: met goue balonne, 6 van ons blou gewig plate (want, dis gelykstaande aan die tamaai 30 kg), ‘n splinternuwe oefenbroek, en ‘n tevrede glimlag.
Ek het Dinsdag Elsabé se foto op my WhatsApp-status geplaas, en ek is gebombardeer met die vraag: “Sjoe, hoe het sy dit reggekry?” Elsabé sê sy het stysel en suiker beperk, en kalorieë getel, met baie geduld. ‘n Wenresep! Ek dink wat baie gehelp het, is dat dit vir haar en haar man ‘n spanpoging was.
Dis ongelooflik om na Elsabé se storie te luister – sy is beskeie, en tog openhartig, en sy gesels met groot vrymoedigheid en eerlikheid oor haar persoonlike reis die afgelope paar maande. Die groot besluit om gewig te verloor het gekomtoe sy moes rok soek vir ‘n troue. Elsabé sê sy het net genoeg gehad van niks om aan te trek nie, genoeg gehad daarvan om in te stap in ‘n winkel en heel agter by die nr 44’s te begin soek, genoeg gehad om nie te soek in ‘n winkel vir iets moois nie, maar om net te hoop daar is darem ‘n kledingstuk wat pas. Die grootste oorweging egter, was Elsabé se gesondheid – sy was kort-kort by die dokter, en hy was ernstig bekommerd oor haar lewer. Daar was ook verskeie ander komplikasies…
Ek het weer gaan kyk op my foon – dit was Dinsdagaand 6 Junie wat Elsabé die boodskap gestuur het: “Hihi, ek wil graag môre begin met die klasse…” Elsabé het sedertdien skaars ‘n dag gemis. Sy sê dit was aanvanklik moeilik – haar knieë het seer geword en haar lae rug het gelol, maar dit het geleidelik soos mis voor die son verdwyn, dit, en al haar gesondheidsprobleme.
Dis soos ‘n nuwe wêreld wat vir Elsabé oopgegaan het – sy het geleer dat almal in die studio daar is net vir hulle self, nie om vir haar te kyk of vir haar te lag nie. Sy het geleer dat nie naastenby almal in die studio maer is nie. Sy het geleer dat dit elke week ‘n bietjie makliker raak. En sy gaan verseker inskryf vir ons Summer Challenge wat die 18de September begin.
…Ek weet, Elsabé se verhaal klink amper te goed om waar te wees. Ek weet, want ek ervaar elke dag vroue se stryd teen daardie verdomde, hardnekkige kilogramme. Ek weet dis nie maklik nie. Ek sien vroue wat gewig verloor, dit weer optel, dit weer verloor, dit weer optel…Dit sal altyd maar vir meeste ‘n ewigdurende stryd bly. Onophoudelike, harde werk…
Daarom juis, het ek gedink ons moet Elsabé se storie hier neerskryf. Om te onthou, en onsself te herinner dat dit wat onmoontlik voel, doenbaar is. So, op haar stil manier, doen Elsabé haar ding, en is ‘n daadwerklike inspirasie vir elkeen van ons. ‘n Bewys dat groot dinge hier, reg onder ons oë, kan gebeur. Dis nie net die Rebel Wilsons en Chrissy Metz’e wat suksesverhale van gewigsverlies is nie. Jy het nie ‘n Winter Challenge of “Biggest loser” of “Die Groot Afskud” nodig nie – as jou kop reg is, kan jy dit doen. Jy moet net sê: “Genoeg is genoeg”, en dit bedoel…
Soos Jyoti Patel skryf in haar boek, “The Awakening”: “Sometimes you reach a point when enough is enough. Sometimes, you have to be done, just done, and nothing else…”
…En dit het my laat dink aan daardie woordjie – “genoeg”. Ek en Theresa staan Saterdagoggend langs my pa se bed. Van die sterk, gespierde Pa-lyf van ons is daar nou amper niks meer oor nie. Ons paps se oë kyk, maar ek weet nie meer hoeveel hy regtig waarneem nie. Hy probeer nie meer praat nie. En ons kan maar net wonder – Wanneer gaan sy broos liggaam sê, “genoeg is nou genoeg…?”
Genoeg…wanneer is genoeg, regtig genoeg? Tania Smit skryf op haar Facebookblad: “Wanneer jy met jou Weet voor jou Wonder kan gaan staan, en met jou Dapper voor jou Bang, daardie dag sal die dag wees wanneer genoeg uiteindelik vir jou genoeg sal wees…”
Sjoe, dit is nogal ‘n mondvol…Vir my lê die raakste beskrywing van genoeg in die vertelling van die pa wat afskeid neem van sy dogter op die lughawe, en sê: “Lief jou my dogter, ek wens jou genoeg”, en sy groet terug: “Ek wens Pappa ook genoeg…”, en gee hom ‘n drukkie.
‘n Vrou wat dit gehoor het, vra nuuskierig vir die Pa “skuus Mnr, ek het gehoor hoe groet jy en jou dogter mekaar, wat beteken hierdie ‘ek wens jou genoeg’ wat julle vir mekaar gesê het?”
Ag Mevrou, dis ‘n tradisie wat al generasies in ons familie is. As ons mekaar só groet, dan weet ons dat ons bedoel:
- Ek wens jou genoeg son om jou lewe op te helder.
- Ek wens jou genoeg donker om die son meer te waardeer.
- Ek wens jou genoeg lag om die trane mee af te vee.
- Ek wens jou genoeg trane om die vreugde mee te vier.
- Ek wens jou genoeg voorspoed om jou lewe te verryk.
- Ek wens jou genoeg teëspoed om jou lewe te begryp.
- Ek wens jou genoeg liefde om haat weg te dryf.
Mevrou, dit beteken baie dinge, sê hy, maar helaas sê ons dit vir mekaar: “Ek wens jou genoeg ‘hqllo’s’ om die ’totsiense’ nie hartseer te maak nie. Ek wens jou genoeg ’totsiense’ om te kan uitsien na die ‘hallo’s’.
Genoeg. Dit beteken iets verskillends vir elkeen van ons. Vir my is die toppunt van genoeg om vir Zander en Mariné en Eswee en Nicole almal onder een dak te hê, en dit gebeur sowaar die 8ste September, oor twee wekies, net hier, in Petstraat!
My wens vir jou, op hierdie mooi Sondag terwyl die genoeg oral lê, is: Genoeg gesondheid om die week ten volle aan te pak. Genoeg armte om elke sent te vier. Genoeg rande om nog ‘n vleisie te kan braai. Genoeg verveeldheid om die opwindende dae te koester. Genoeg pret om hard uit jou maag te kan lag. Genoeg vasberadenheid om weer te begin oefen. Genoeg selfliefde om saggies te wees met jouself. Genoeg geduld om die wintervetjies geleidelik af te skud. En genoeg vertroue om te kan sê: “Genoeg is nou genoeg…”
Genoeg. Ek is genoeg. Jy is genoeg. “Ma”-genoeg. “Vrou”-genoeg. “Mens”-genoeg. Kom ons leef die genoeg…
Mirna
082 779 0507