Mirna's Snow man

Winter wonderwêreld…

Ek weet daar is baie wintersmense, maar ek is nie een van hulle nie.  Ek hou nie van koud kry nie.  Finish en klaar.  Maar hierdie winter, vir die heel eerste keer, was my ingesteldheid van die begin af so ‘n bietjie anders.  Dis nie dat ek geweier het om te sê ek kry koud nie, ek’s nou nie Engel Gabriël nie!  Nee, ek het net vroeg-vroeg besluit ek gaan nie heeltyd oor die koue kla nie.  Daar was in elk geval nie tyd nie!  Ek was te onrustig oor die hele Eskom-kragsituasie om oor die koue ook nog te bekommer.  Almal het ons so bang gepraat oor fase 8-beurtkrag en die “grit” wat sommer net kan ingee en wat dan…?

Ek het dit vir niemand gesê nie, maar ek was stilletjies besorg oor ons voortvarendheid om, oudergewoonte, ‘n 12-week lange Winter Challenge aan te bied, en het myself kort-kort afgevra: “Was hierdie besluit nie bietjie te optimisties en windgat nie…”?  Wel, hier is ons vandag op die vooraand van week 10 – net ‘n hanetreetjie, en dan is ons wraggies daar…!

Daar was gelukkig nooit regtig tyd om hare te kloof oor die koue en die krag nie – danksy die lede se determinasie, en Jacqueline en Michelle se woema en entoesiasme, het ons die weke kaf gedraf.  Een na die ander.  Net soos na die opheffing van grendeltyd destyds, het ek hierdie winter se oefen in die studio nie as vanselfsprekend aanvaar nie, was dankbaar vir elke vroegoggend se opstaan met ligte wat aangaan, elke lid wat opdaag, en elke oefensessie, kragopwekker of te nie.

“Toe die wêreld stil gaan staan” het ons in 2020 saam met Karen Zoid gesing, in daardie tyd toe Covid ons almal onverhoeds, eensklaps ingeperk het.

…Hierdie week het elkeen van ons op die Hoëveld vir ‘n paar uur gevoel hoe die wêreld weer so bietjie tot stilstand kom.  Jonk, oud, klein en groot, almal het die weerburo se beloftes van sneeu, vir dae met afwagtende arendsoë dopgehou.  En wraggies, Maandag het die sneeuvlokkies begin neersif.  Eers net so huiwer-huiwer, en toe eensklaps, het die sneeu soos vars spookasem ons wêreld in ‘n spierwit sprokieslandskap omtower.

Dit het laas in 2011 in Ermelo gesneeu, so vir die meeste kinders was regte sneeu ‘n kosbare eerste belewenis.  Van koudkry was daar nie eens sprake nie, die verwondering om sneeu te voel, te proe, en dit te hoor knars-knars onder ons voete, was doodeenvoudig net te wonderlik.

Dit was Maandagmiddag.  Ons het die studio vroeg gesluit, die aand- en vroegoggendklas gekanselleer, en ons oorgegee aan hierdie eenkeer-in-‘n-leeftyd suiwer, sintuiglike sieraad.  Carien was so gaaf om hierdie spesiale foto’s te stuur van ons mooi studio, afgeëts teen die helder, wit sneeu.

Ons lede vertel van hul kinders se opgewondenheid – die sneeuballe gooi, sneeumanne bou, rol en baljaar in die sneeu.  Ek het my verkyk aan al die Facebook-foto’s!  Dit was voorwaar ‘n dag wat vir ewig in elke kind se grootword geheue gegiet is.

Ons eie kinders kon nie glo dat hul dit misloop nie – Eswee sê in Johannesburg was die “vlokkies” net vlietend, en in Stellenbosch het Zander en Mariné foto’s gestuur van hul sonskyndag.  Nicole was hier, en sy het presies verwoord wat ek gevoel het – die Heilige atmosfeer.

…Vir my was die skielike stilte tasbaar oorweldigend – dit was ‘n anderse stilte, een wat ek nog nooit voorheen ervaar het nie.  Dis verseker waarna die bekende fotograaf, Antoinette van Kleef, verwys wanneer sy sê: “When snow falls, nature listens.”  Dit het gevoel of mens moet saggies praat, asof ons so ‘n klein biejie nader aan God gekom het as op ander dae.

Onophoudelik het die hemelse witgoud geruisloos bly val – so vreedsaam, so stilletjies.  Ek dink ek verstaan wat die jong Amerikaanse skryfster, Rachel Cohn, bedoel met haar woorde:

“I love snow for the same reason I love Christmas – it brings people together while time stands still…”

Maandagnag was ysig koud.  Dinsdagoggend nog kouer – die sneeu het kniediep gelê, die stilte was nog tasbaar, en oppad studio toe het ek my verkyk aan al die verskillende sneeumanne in tuine en op die sypaadjies.  Danksy ons Challenge was almal weer op hul pos in die 7.30 klas, en ek en Jacqueline was net-net betyds om ‘n sneeuman vir die studio te bou.  Letta het ywerig hand bygesit.

Die uitdrukking “witter as sneeu” het vir my hierdie week sommer weer nuwe betekenis gekry.  Die sneeu was amper nes ‘n reënboog, so propvol Belofte.  Maar daar was ook iets anders wat die sneeubedekte wêreld in my kom wakker maak het – vir ‘n paar uur was dit net die sneeu, die stilte en die vrede.  En dit het my kom herinner aan die sterk Alomteenwoordigheid van ons Skepper – ek het skaam gekry dat ek die laaste paar weke soms kleingelowig begin wonder het, waar is Hy dan terwyl ons paps so hulpeloos siek is?  Hy IS hier.  Hy was nog altyd hier, en ek weet Hy bly wonderbaarlik in beheer.   

…Teen Dinsdagmiddag het die meeste van die sneeu gesmelt.  Van ons studio se sneeuman het net ‘n klein hopie ys oorgebly.  Die woorde van Marie Beynon Lyons het onwillekeurig in my kop kom maal: “We have only this moment, sparking like a star in our hand…and melting like a snowflake.  Let us use it before it’s too late…”

Ons moenie wag vir die winter om verby te gaan voor ons begin oefen nie.  Ons moenie dink daar’s nog lekker baie tyd om by ons ouers uit te kom, en land en sand te gesels nie.  Ons moenie die son en die maan en die sneeu en die wolke as vanselfsprekend aanvaar nie.  Ons moet nooit dat Eskom ons ontmoedig om ‘n Challenge aan te bied nie.  Ons moenie dat die koue ons ontmoedig om aan een deel te neem nie.  En ons moet definitef nie wag vir sneeu om mooi herinneringe vas te vang nie.

Mirna

082 779 0507

PS (Baie dankie aan elkeen wat die laaste klomp weke met soveel omgee uitgevra het na ons pappie.  Ek was gister lank by hom – hy is nou in Willow Haven se sorgeenheid, daar waar hy en Theresa woon.  Ons paps het nie regtig ‘n lewensverwagting nie.  Maar gister was sy ogies helder, ek weet hy het my gesien.  Ek het vir hom Dozi se “Ver in die Kalahari” gespeel, en Carike se “Timothy”.  Hy het ‘n paar woorde gefluister vir my, maar ek kon nie mooi hoor nie.  Ek verwonder my aan Theresa se geduld en onvermoeide sorg en liefde.  Sy laat weet ons elke dag hoe dit gaan.  Dis nou een dag op ‘n slag, en vertroue in die Groot Sorger se Plan.)

8 comments to “Winter wonderwêreld…”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Anthonie Botha says:

    Hi Mirna, dankie weereens vir jou gereelde blog; altyd inspirerend.
    Hy het ons Witter as sneeu gewas deur Sy bloed wat vir ons gevloei het; mooi week vir jul!

    • Mirna says:

      Ja, Anthonie, wat ‘n wonderlike wete. Dankie dat jy gelees het!

  2. Shereen Dindar says:

    Hi Mirna this is such a beautiful and inspirational post! It echoed all the sentiments I felt as I remember whispering that night to my husband in the stillness of that beautiful evening as the snow fell down! I felt like a child rejoicing with peace and joy in my heart as I too built a snowman and enjoyed playing and blasting my husband with snowballs!
    Life is indeed beautiful if we just take a moment to appreciate what our Creator has bestowed us with. I am reminded of a quote from the Quran: ‘For which of the Favors of Thy Lord do Ye deny?’
    I am Grateful for the blessings we enjoyed and will always treasure those memories as we are not promised a Tomorrow but can enjoy the present moment of this precious Life!
    With Gratitude
    Shereen Dindar

    • Mirna says:

      Wow, thank you Shereen for your beautiful words. I really appreciate you!

  3. Cheryl says:

    En ook vir n rukkie het almal gelag. En soos kinders weer gespeel.

    • Mirna says:

      Verseker, Cheryl!

  4. Colette Barnard says:

    Die sneeu klink na n wonderlike ervaring. Die stilte as dit sneeu moes besonders gewees het! Dis mooi fotos

    • Mirna says:

      Dit was besonders! Nie iets wat julle maklik in Pongola sal beleef nie!