
Ek verwys nou nie na die tong-in-die-kies kinderboek nie, hoor. Dié kostelike boekie “Hoe jy enigiets kan doen”, leer jou kwansuis hoe om ‘n krokodil te uitoorlê, ‘n vliegtuig te land, ‘n igloe te bou, hoe om deur papier te loop, en hoe om jou vriende te beïndruk deur te sweef.
Daar’s miljoene ydel dingetjies in die lewe waarvoor elkeen van ons, sonder om te blik of te bloos, ons voortande sal gee – ‘n Somerlyf in ‘n bikini, ouer word sonder plooie, ‘n huisie by die see, ‘n kaartjie om ‘n Wimbledon-eindstryd te beleef, of sommer net ‘n week sonder beurtkrag. Ons sal enigiets doen daarvoor. Of sal ons? Vandag wissel ek bietjie gedagtes oor juis hierdie sinnetjie wat elkeen van ons so verspotmaklik uiter: “Ek sal enigiets doen…”
Ek is nie ‘n groot aanhanger van Radio Raps se Jonathan nie – hy’s dikwels net te vloekerig en te ligsinnig. Maar nou die dag luister ek een van sy meer ernstige monoloë raak, waarin hy sê: “Ons sê te maklik dat ons enigiets sal doen.”
Jonathan vertel hoe hy ‘n ruk gelede, op sy roete oppad huis toe, elke dag dieselfde boemelaar by die verkeerslig teëgekom het. Wat hom opgeval het, was dat die ou elke liewe keer met ‘n sigaret in die mond staan en bedel het. Toe Jonathan nou die dag by die rooi verkeerslig stilhou, is die boemelaar dadelik by. “Ek sal enigiets doen vir R20, meneer”, sê die ou vir Jonathan.
Terwyl Jonathan ‘n R20-noot in die boemelaar se hand stop, dink hy by homself – hier’s ‘n bedelaar wat elke dag vir ure in die bloedwarm son staan en vra vir aalmoese. Hy sê hy’s bereid om enigiets te doen, maar hy’s nie eers bereid om sy sigarette te verkwansel vir ‘n ekstra geldjie nie…
Ons almal sê heeltemal te maklik dat ons enigiets sal doen! Ek is self skuldig – net ‘n paar weke gelede het ek hier, in my Blog, geskryf dat ek enigiets sal doen om net een keer weer met my pa te kan gesels. Maar enigiets doen? Nee, ek is dan nie bereid om met hom plekke te ruil nie.
Ek weet dis sommer net ‘n sêding, nes die idioom van jou voortande vir iets gee, maar nogtans. As ek weer sien, dan het ek dit gesê.
Ek sal enigiets doen, maar ek kan steeds nie belowe dat ek hierdie Desember saam met die kinders daardie groot swaai in die Moses Mabhida stadion gaan aanvat nie. Ek sal enigiets doen, maar ek weet nie of ek ooit die moed sal hê om met ‘n valskerm uit ‘n vliegtuig te spring nie. Ek sal enigiets doen, maar ek sal regtig nooit vir iemand ‘n anonieme brief skryf nie. (Ek sal enigiets doen, maar ek sal nooit in ‘n Fitness Challenge ENIGE lid doelbewus bevoordeel of benadeel nie…)
“Ek sal enigiets doen om ‘n paar kilo’s te verloor”, hoor ek gereeld voornemende lede se versugting. Enigiets, sê jy. “Ja, maar 5uur in die oggend is net te vroeg en te koud vir my om te kom oefen”. “Ja, maar moet net nie vir my vra om minder witbrood te eet nie.” “Ja, maar ek weier om afstand te doen van my rooiwyntjie elke aand….” Mmm, enigiets se voet in ‘n visblik, hoor!
Selfs die Amerikaanse musikant, Meatloaf, sing: “I would do anything for love, but I won’t do that.” Tot vandag is niemand regtig seker waarna die legendariese sanger verwys in sy lirieke nie, maar die boodskap staan – “you would not do ANYTHING.!” I would not do ANYTHING. And we would not do ANYTHING.
Dis maar hoe ons aan mekaar gesit is, ons mense. Te gemaklik in ons gemaksones. En dis waarom ons nie letterlik ENIGIETS sal doen nie. Carolyn Gregoire skryf so mooi: “Humans are creatures of comfort. Our comfort zone is our natural, neutral state – a place where stress and anxiety are minimal, where we know what’s coming next and we can plan accordingly.”
Mark Twain het gesê, die enigste een wat wel van verandering hou, is ’n nat baba wanneer die doek geruil word. Sommer net verlede week sê iemand in Clicks: “Mirna, jou oefeninge is nou net wat ek nodig het,” maar in dieselfde asem sê sy, “ek bly te ver…” Ek antwoord haar nie eens terug nie, vertel haar nie eens van die Zoom-opsie nie, want ek kan sien sy’s nie ernstig oor daardie kammakastige oefenry nie.
Maar dis nie altyd luiheid of gemaksones wat ons terughou nie, soms is dit net bietjie vrees vir die onbekende. In sy boek, “You can’t afford the luxury of a negative thought”, sê die bekende Amerikaanse skrywer, Peter McWilliams: “The road to positivity is strewn with the abandoned vehicles of the faint-hearted.”
Ek sê nie ons moet in die pad gaan lê en kyk of die trokke gaan uitswaai nie, of kaal in die straat hardloop, of die Bloukransbrug se bungee-sprong gaan aandurf nie. Ons hoef nie. Ons moet net ons persoonlike vrese besweer, daardie bangmaakgedagtes en Goliatte wat ons terughou en ons keer om voluit te leef.
Ek en jy, “ons is mos tot alles in staat deur Hom wat ons die krag gee.” Ek is doodseker terwyl jy hier lees is daar iets wat jy ook moet klaarmaak, want jy is presies waar jy moet wees. Ek ook. En of dit nou binne, of buite ons gemaksones is, ons moet net gaan, en doen, dit wat vir ons gegee is.
Mirna
082 779 0507