Vadersdag 2023

Jy wonder seker oor die vreemde foto wat hierdie Blog vergesel..  Kom ek verduidelik…

Ons Pa is ‘n Kalaharikind, en vir baie jare het hy ons grappenderwys probeer wysmaak dat “Ver in die ou Kalahari” eintlik die volkslied is.  Pa het ons sy bekoorlike sandwêreld gaan wys sommer vinnig-vinnig na hy ons ontmoet het.  Daar op die familieplaas, het hy ons dorpsjapies bekend gestel aan boerbrood en tuisgemaakte botter, sandduine, kameeldoringbome, boesmans, vroegoggend ritte op tweespoor diepsandpaadjies, boerbokke, en karakoelskape.  Die Kalahari het ‘n vreemde stilte, ‘n tydloosheid, wat ‘n mens nie in woorde kan omskryf nie.  Daar kom mens agter dat jy eintlik bittermin nodig het. (Baie jare later het Oupa Stoffel ook vir Schalk, Eswee, Mariné en Hannah die Kalahari gaan wys.  In Eswee se bedkassie is nou nog ‘n botteltjie vol rooisand.)

Hierdie foto, wat ons Pa destyds geneem het naby Askham, was as kleuter my grootste nagmerrie.  Vandag is dit een van my kosbaarste besittings.  (Ja, die vettie boemstieks wat ‘n veltie daar kap, is ek!)  Ek onthou dat ek daardie dag vir Pa gesê het dat hy my nie mag afneem nie.  Pa het hoog en laag gesweer hy korrel vir die aalwyn in die agtergrond…

‘n Skyfievertoning was ‘n jaarlikse instelling vir die Burger-gesin.  Groot was almal se plesier, behalwe myne, toe die foto daardie Kersfees sy opwagting maak teen die wit muur van ons Danie Cravenstraat woning.  Elke jaar het my pa belowe die skyfie is nie meer deel van ons vertoning nie – elke jaar het ek lewensgroot op die potjie gepronk.  Later het ek maar net saamgelag.

Ons pa het met behulp van Theresa en Neresa onlangs sy lewensverhaal geskryf.  Elkeen van ons kinders het ‘n eksemplaar gekry.  Pa vertel dat hy as Kalahariseun, in sy hoërskooljare daar op Upington, vir die eerste keer ‘n teerpad en ‘n trein gesien het, en ook toe vir die eerste keer ‘n roomys geproe het… Dit maak vir my sin dat een van ons pa se gunsteling sêgoed nog altyd, was:

“Beskeidenheid is soos onderklere.  Broodnodig op die regte plekke maar onbetaamlik sodra jy dit begin vertoon….”

…Ons het nog nooit ‘n groot ophef van Vadersdag of Moedersdag gemaak nie.  Dis maar altyd ‘n gewone Sondag, soos elke ander dag.  Met ‘n oproep, ‘n briefie, ‘n boodskap, ‘n sjokolade of ‘n mooi bos blomme, en natuurlik beesstert.

Maar vandag kraak my hart van seer omdat ons pa nie vandag ons oproepe kan beantwoord nie.  Hy sal waarskynlik nooit weer kan nie.  Vir al ons kinders, en bowenal vir Theresa, voel die gebeure van die laaste drie weke heeltemal onwerklik.  Ons was oortuig dat ons Stoffie na daardie slegte val op die sypaadjie net ‘n heupoperasie sou moes ondergaan – nie een van ons was voorbereid op die geweldige beroerte in die hoësorgeenheid nie – dit het ons pappie verlam gelaat het, van sy neus tot by sy tone.

Dis nog nie moontlik om te weet hoeveel Pa registreer wanneer hy sy grysblou oë oopmaak en vir ons kyk nie.  Ons weet nie hoeveel hy kan verstaan wanneer ons met hom praat nie.  Hy kan nie terug gesels nie, sy arms is leweloos, sy liggaam slap.  Theresa en Delien sê  hy’t Dinsdag hartseer gelyk, asof hy begin verstaan dat hierdie ding, wat met twee van sy susters gebeur het, hom nou ook getref het, in die oortreffrende trap. 

Pa het die laaste jaar dikwels met Theresa hieroor gesels, en selfs in Oktober verlede jaar ‘n amptelike “Lewende Testament” opgestel.  Hy het so sterk daaroor gevoel dat hy nie onwaardig wou ly nie, en het versoek dat sy lewe nie verleng moes word as hy kunsmatig aan die lewe gehou word nie.

Maar hy is nie gekoppel aan masjiene nie.  Hy kry suurstof en buisvoeding.  Maar hy is verlam.  Ons pa, wat nooit van hoofpyn gekla het nie, en nooit siek geword het nie.  Ons pa wat grappies kon uitryg, uit volle bors kon sing, in restaurante geskerts het met die kelners, en altyd spontaan “o jou moer” hardop uitgeroep het wanneer hy geskrik het.

Ek het my pa nie baie keer in sy lewe kwaad gesien nie, en by hom het ek nooit pak gekry nie – hy’t daardie takie dubbel en dwars aan my ma oorgelaat.  Ek dink hy’t besef sy’s kwaai genoeg vir hul albei se part.

Die Amerikaanse skrywer, Mark Slouka, het onlangs gesê: “I lost my father this past year, and the word feels right because I keep looking for him. As if he were misplaced. As if he could just turn up, like a sock or a set of keys.”

Ek dink vandag aan duisende kinders in ons land wat Pa-loos is.  Wat nie hul toekomsdrome met hul pa’s kan deel nie, want hulle weet nie eens waar hulle is nie.  Duisende ander kinders weet nie eens wie hul pappas is nie.  Vandag, op 18 Junie 2023, Vadersdag, dink ek aan elke enkelmoeder wat vir ‘n afwesige pa moet instaan.  Ek dink veral aan elke kind wat vandag ook verlang na ‘n liefdevolle pa wat nie meer hier is nie.  Maar ook aan hulle wat na jare herenig is met hul pa’s.  Aan Schalk en elke pa vir wie hul kinders hul wêreld is, gelukkige Vadersdag.  Aan elke stiefpa wat eintlik ‘n regte pa is, soos Pa Stoffel, gelukkige Vadersdag.

Ons Pa is nie oorlede nie, maar dit voel of ons hom reeds verloor het.  Neresa sê Pa het 100 grappies geskryf.  Ek sou wat wou gee om hom net een daarvan te hoor vertel.  Ek sou so graag vir hom Zander en Mariné se trouvideo wou wys.  Ek sou graag vir hom weer wou dankie sê vir al die aande wat hy ons van die motor af bed toe gedra het, selfs al het hy geweet ons maak of ons slaap.

In “The Book Thief” skryf Markus Zusak: “Sometimes I think my papa is an accordion. When he looks at me and smiles and breathes, I hear the notes.”

Dis vir my ondenkbaar om te dink dat ons pa waarskynlik nooit weer sal breed glimlag of alleen asemhaal nie.  Vandag, op Vadersdag, blaai ek deur sy outobiografie.  Ek lees en maak my oë toe – probeer sy stem hoor.  Pa skryf: “Die lewe het my herinner aan die voltooiing van Sudoku.  Daar is sekere reëls wat jy moet toepas.  Jy pas die reëls toe volgens jou interpretasie, maar dan kom jy op ‘n punt waar jy besef jou interpretasie kom nie ooreen met wat die groot Opsteller in gedagte gehad het nie.”

Pa se slotsin in sy boek is…”My kinders is my trots.  En daar is ‘n spesiale plek in my hart vir elkeen van my kleinkinders….”  Vandag is hierdie ons enigste troos.  En of ons wil of nie, ons sal die Groot Opsteller moet vertrou met Sy Sudoku-Plan vir ons paps.

Ek weet ek het nie vandag ‘n woord oor fiksheid geskryf nie, maar hierdie is baie belangriker as enige oefensessie.  As jy so gelukkig is om vandag jou pa se stem te kan hoor, bel hom.  As hy naby is, gooi vir hom ‘n ribbetjie op die kole, of vat vir hom ‘n stuk biltong.  Nie oor dit Vadersdag is nie.  Net oor hy jou pa is.  En jy sy trots is.   

Mirna

082 779 0507

3 comments to “Vadersdag 2023”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Linda Labuschagne says:

    Ai Mirna, ons dink aan julle♥️ Dit bly swaar, na 13jaar dink ek nog elke dag aan my ouers. Jare na my Pa se dood het ek telkemale met my foon in my hand gestaan om hom te bel en gou ‘n grappie te deel wat ek geweet het hy sal geniet😪

    Sterkte en liefde vir julle♥️

    • Mirna says:

      Dankie Linda!

    • Mirna says:

      Dankie Linda, waardeer jou woorde!