
(I know that this week’s Blog is supposed to be an English one, but this one is written from my heart, not my mind, and I hope you’ll understand…)
Ek het die spelling vir Oiu se naam op die “Roopsai Thaimassage”-plakkaat in haar masseringskamer gesien – Iou – dit was nogal destyds vir my vreemd, die “I O U’- spelling, amper soos I owe you, maar ek is gesteld daarop om ‘n naam reg te spel, so ek het volstaan met Iou.
Tot ek die pragtige voorbladartikel van die Hoëvelder hierdie week lees met hul verwyings na Oi, en in Danny se uitnodiging na die roudiens kry ek die bevestiging – dis eintlik “Oiu”, of te wel Bang-on Roopsai.
Ek en Oiu het nie oor en weer gekuier nie, maar ek was klokslag, elke Vrydagmiddag daar, tensy een van ons ander verpligtinge gehad het. Ek het vir Oiu ontmoet in Maart 2020, ja reg binne-in daardie woeste Maart van streng grendeltyd. Die studio was gesluit, ek het drie Zoom oefenklasse per week aangebied, en my linkerskouer het begin lol.
Danksy Louise het ek ‘n afspraak by Oiu gekry – ek dink sy het ook maar die geldjie verwelkom in daardie vreemde tyd toe alles tot stillstand gekom het. Behalwe dat ek nie ‘n woord kon verstaan wat Oiu sê nie, en net ons altwee se ogies uitgesteek het bo die maskers, was die twee ure daar by haar een groot marteling. Die enigste woorde wat ek kon uitmaak, was “kom, bietjie, bietjie”, en “promplem”. Jip, ek het
geweet daar is ‘n promplem in my skouer, en ek is huis toe met rooi gehuilde oë, en pimpel-en-pers arms.
Maar ek het die volgende Vrydag weer gegaan, en die een daarna, en weer. Die eerste vyf kere daar in Oiu se masseerkamer het ek soos ‘n groot sissie letterlik omgehuil, maar geleidelik het die verligting oor my gespoel, nie net in my skouer nie, maar sommer oraloor. My lyf het nie meer blou geword nie, my energievlakke was hoër, en ek en Oiu het mekaar se taal, en harte, begin verstaan. Die term “healing
hands” het vir my nuwe betekenis begin kry.
Ek besef, Oiu het my lyf beter geken as ekself. Sy het altyd opgemerk as ek ‘n kilogram verloor het, en het baie kere ‘n seer spier ontdek sonder dat ek nodig gehad het om haar daarvan te vertel. Daar’s baie soos ek, wat die diepste waardering vir Oiu se gawe gehad het. Dit was duidelik Saterdag tydens haar
roudiens – sy was geliefd, en was altyd bereid om meer te gee as te ontvang. Oiu het haar talent en passie onbaatsugtig uitgeleef. Sy het nooit die horlosie dopgehou nie, wou nooit hê mens moet ekstra betaal nie, en haar kenmerkende giggel laggie was so aansteeklik…Jacqueline en Michelle het ook verskeie kere by Oiu ingedraf met ‘n pyn of twee, en ek het met groot vrymoedigheid baie lede na
haar verwys.
…Hierdie was een van die moeilikste weke van my lewe. In Beeld van 6 Februarie skryf Louise Karsten: “Wanneer iemand vir wie jy lief is sterf, is daar ‘n stukkie van jouself wat doodgaan.”
Om hierdie slegte tyding te verwerk was nie maklik nie. Dit het gevoel soos daardie keer na die Voortrekkerkamp in standerd 4, toe ek lugpypontsteking gehad het en vir ‘n paar dae net vlak kon asemhaal. Donderdagmiddag merk ek op in stepklas: “Jul is almal so ernstig en uitdrukkingloos vandag…” Skuus julle, ek besef dis eintlik ek wat ernstig en uitdrukkingloos was…
Die enigste ligpunt was Woensdagmiddag se Cardio Fun sessie – almal se glimlagte en entoesiasme in die vrolike mintgroen toppies was aansteeklik, ons het ons harte en longe uitgedans, en vir 45-minute van alles vergeet. En Eswee en Mia het kom kuier. Die afgelope paar dae het duisende scenario’s oor daardie Saterdag se gebeure in my kop afgespeel, ek het Kaptein Corné Kemp wat saam ons oefen en verlede
Saterdag uitgeroep is na die moordtoneel, mal gemaak met vrae, en ek het gereeld in die nag wakker geskrik met ‘n beklemming om my hart.
Ek moes myself kort-kort dwing om op te hou dink aan die afgryslike gebeure wat Saterdag daar in Oiu-hul se woning afgespeel het. Ek moes vrede maak met die feit dat sekere vrae onbeantwoord sal bly…Het Oiu daardie Saterdag na die masseerkamer gevlug? Het die moordenaar eers vir Robert oorval? Hoekom is hul so grusaam om die lewe gebring? Hoekom moes sy, wat altyd die veiligheidshek gesluit het en so versigtig was, ‘n slagoffer word? Hoekom moes dit juis nou gebeur, enkele weke voor Oiu die voorreg sou hê om haar seun en kleinseun, na baie jare, in Thailand te besoek. Sy was so opgewonde en vrolik oor die vooruitsig…Het ek ooit genoeg vir Oiu gesê dat ek haar waardeer?
Dis vir my ondenkbaar – hierdie tragedie net hier, in ons straat, skaars ure nadat ek by Oiu was. My hart gaan uit na Eugene en Bianca en Tracy, want ek weet dat Oiu die kinders grootgemaak en aanvaar het het as haar eie.
…Ek het nooit baie gepraat tydens my en Oiu se sessies nie – op ‘n Vrydagmiddag twee uur is my lyf gedaan en al my woorde redelik opgebruik na ‘n week van volspoed in die studio. Maar, soos ek en Oiu mekaar beter begin verstaan het, het sy ook haar menswees met my begin deel en soms haar hart uitgestort. Sy het my vertel van die swaar aanpassing in ‘n vreemde land met ‘n vreemde taal, en hoe sy
geleidelik haar plekkie en selftrots gevind het.
Haar sin vir humor was kosbaar, en ons het baie ligte oomblikke gedeel. Een Vrydag het sy per ongeluk van die breë masseerbed afgeval en ons het gelag dat die trane loop. Sy sou gereeld verwys na ons studio se oefenvideo’s wat sy slaafs volg op Facebook, en sy het een Vrydagmiddag trots aangekondig dat sy begin oefen het. “I hang the window, teacha.” Toe ek vraend na haar kyk het sy demonstreer – op die diefwering geklouter en op en af gewikkel. Oiu het my nooit op my naam genoem nie. Ek was “teacha”. Ek dink sy’t baie van haar kliënte “teacha” genoem…
Ek het haar net een keer sien huil – dit was ‘n Vrydagmiddag in November.
Daardie dag is ek letterlik huis toe met snot en trane, maar ek het haar laat begaan…Dis die minste wat ek kon doen.
Oiu het verlede Vrydagmiddag oudergewoonte saamgestap hek toe om my af te sien. Ons het altwee gewuif, met ‘n glimlag. Min het ons twee geweet, dit sou die laaste keer wees. Ek dink aan die woorde van Moira Rogers: “The two hardest things to say in life is hello for the first time and goodbye for the last.”
‘n Vrou word elke drie uur in ons land vermoor. Ek weet ons durf nie toelaat dat ons deur haat verswelg word nie. Ek weet ons durf nie vergeet hoekom ons hier is en waarheen ons oppad is nie. Ek weet ons enigste troos in lewe en in sterwe is dat ons met liggaam en siel aan ons getroue Verlosser behoort. Ek weet…
Maar dit bly swaar.
Oiu:
You disappeared like a candle that someone blew out, and I’m left with smoke that stings my eyes, and the memory of your beautiful light. I wasn’t ready for you to leave, dear friend.
But I’ll brave this bitter grief, and I’ll try to understand…
Mirna
082 779 0507
9 comments to “Vir Oiu, vir oulaas”
😪😪😪Ai Mirna, ek voel jou seer! Ek hoop jou eina sal met tyd gesond word en dat jou hart weer sal glimlag. Dankie vir wie jy is in ons almal se lewens. Weet net dat jy ‘n Oiu is in my lewe met die oefeninge, liggaamlik en emosioneel♥️♥️
Sjoe dankie Linda. Dis groot woorde. Waardeer jou!
Dis tragies en n pragtige stukkie wat opgedra is aan Oiu. Ek het haar ontmoet by ons Errie reunie. Sy was vriendelik en op haar plek. Dis hartseer
Dankie Colette, waardeer jou woorde.
Dear Oiu,
When I saw you, my heart felt warm. Thank you for your open heart … thank you for sharing it with all of us. You will be remembered 🙏 May you rest in peace
Thank you Sarita.
Ek het haar nie geken maar jy skryf so mooi van haar sy moes verseker ñ spesiale mens gewees het….ek huil saam met jou……
Dankie Antonette
My deepest c condolences to the family and her friends and to you dear mirna
❤️ God grant her family peace and contentment