
Een oomblik nog het ons liewe ou Bailey die tennisbal vervaard gejaag, die volgende oomblik het hy terug gehinkepink op drie beentjies – ligament geskeur, aldus die veearts, en ‘n operasie is sy voorland.
Een oomblik nog, sommer nou die dag, in November 2022, het ek die legendariese tennisster, Rafael Nadal in ‘n onderhoud hoor sê: “I’m excited about 2023 and looking forward to defend my title at the Australian Open.”
Die volgende oomblik, skaars twee maande later, is ‘n teleurgestelde Nadal sommer in die tweede ronde van die Ope uit die toernooi geboender, toe hy in skoon stelle teen die ongekeurde Mackenzie McDonald verloor het. Ek haal my hoed af vir Nadal – nooit het hy sy seer heup as verskoning vir sy swak vertoning voorgehou nie – inteendeel, hy’t McDonald geloof vir sy goeie spel…
Intussen het die media berig dat dié besering Nadal tot twee maande op die krukkelys kan hou…Asof verlede jaar se rib-, maag- en voetbeserings nie genoeg was nie…
Sien, dis die ding van ‘n besering – jy sien hom nie kom nie. Een oomblik is jy perdfris, die volgende oomblik is jy op die krukkelys.
Ek kan nie eintlik anders as om die somber onderwerp van “pyn” aan te roer hierdie week nie – ons New Year Challenge skop môre af, en dit help nie ons kyk net anderpad nie. ‘n Swetterjoel van ons lede is die afgelope klomp weke in ‘n stryd teen tyd gewikkel om betyds van hul beserings te herstel… Daar’s Gosia se hak, Carien se heup, Chané se been, Rethia se skouer, Marie se hand en, en, en… Dan praat ek nie eens van al die Zoom-lede van wie se kwale ek nie eens bewus is nie, en hulle wat hulle pynpakkies al vir ‘n geruime tyd so stil-stil-swyg-swyg saamdra.
Vir ‘n verandering is ek self so ‘n bietjie beseringvry (wil dit nie te hard sê nie), maar ek hét al my kwota van einas dubbel en dwars gehad – ‘n knie, ‘n hak, ‘n nek, ‘n skouer, ‘n oog en ‘n dyspier – en ek, meer as enige iemand anders weet – dis net genade as mens nog kan doen wat jy so graag gewoond is om te doen.
Die vraag is – hoe op aarde praat ek nou die lotjie kranklikes moed in? Of is dit enigsins nodig om hulle te bemoedig? Want ek sien elke liewe een van hulle is vasbeslote dat hul hierdie 6-weke Challenge gaan kaf draf, en dit lyk nie of hulle van stryk gebring gaan word nie. Opgee en kop uittrek is nie deel van hulle woordeskat nie, en ek is so trots op elkeen van hulle.
…Pyn is nou maar eenmaal onlosmaaklik deel van elkeen van ons se lewens, en selfs as jy fisies ongedeerd deur die lewe gaan, is daar die emosionele seerkry waarvan niemand kan ontsnap nie. Ek sien hoe pyn geskryf staan op Melinda en Elsabé se gesiggies – hulle moes elkeen die laaste paar dae afskeid neem van hul seuns wat oorsee gaan werk…en vir amper ‘n jaar al lê die trane vlak wanneer ek Carina uitvra na haar pa se gesondheid. Hy is regtig siek, en ek het nie eintlik trooswoorde nie.
Dis die Britse skrywer CS Lewis wat eendag opgemerk het: “It’s so much easier to say, ‘My tooth is aching’, than to say, ‘My heart is broken.’”
Pyn is om ons. Oral. Altyd. En sy lêplek vind hy in oud en jonk, sterk én swak. Ons lyk nie een dieselfde nie, ons trek nie dieselfde aan nie. Ons het verskillende loopbane en verskillende oefenvoorkeure, maar daar is een ding wat ons almal in gemeen het – ons weet hoe dit voel om seer te kry.
Almal van ons weet hoe dit voel om ons kleintoontjies te stamp, op lego-blokkies te trap en eina te gil. Ons ken die pyn van op ‘n skaal klim na ‘n lang, luilekker vakansie, en ons het omtrent almal al die pyn van tandesny, van die fiets afval en wortelkanaalbehandelings ervaar.
Pyn het Nadal sy 23ste Grand Slam-titel gekos, pyn het ‘n stokkie gesteek voor sanger Justin Bieber se wêreldtoer, en pyn het Quinton de Kock uit die beslissende eendag-wedstryd teen Engeland gehou.
“Pyn is hierdie aarde se vyfde seisoen”, skryf Nataniël in een van sy Kaalkoppe. “Pyn is God se fokusinspuiting”, skryf Steve Hofmeyr op sy Facebookblad. “Hy vra my, of ek dit bedoel as ek sing: ‘kom haal my dan as U dink my tyd is hier.’”
Ons het nie almal seer hakke, knieë, dybeenspiere, elmboë of skouers nie, maar ons is almal draers van pyn. Vir party skete bring Arcoxia, ys, inspuitings, masserings of Transact-pleisters verligting. Vir die meeste seerplekke, ook die van die hart, gaan dit net oor geduld, gebed, tyd. En omgee.
Onlangs lees ek ‘n artikel met die titel “Everyone around you is grieving. Go easy”, deur John Pavlovitz. Dié Amerikaanse skrywer vertel hoe hy op die dag van sy pa se dood, piesangs in ‘n kruidenierswinkel moes gaan koop. Kort-kort moes hy homself herinner: “Dit is gekkigheid. My pa is dood en hier is ek besig om piesangs te koop. “
Daar, in die supermark, terwyl die lewe om hom sy gaan gegaan het, wou hy eintlik ‘n plakkaat om sy nek hang wat lui: “My pa is pas oorlede. Wees sagkens met my…”
Pavlovitz vertel verder dat hy tydens sy rouproses, tot die diepe besef gekom het, dat almal om hom in ‘n mate verwond, beseer, uitgeput, of treurend is. Mense dra nie plakkate om hul nekke om te wys hulle het pyn nie, maar as ons met ‘n sagte oog kyk, sal ons die seer om ons raaksien. Ek het ook besef, ek kan nie verwag om elke lid met ‘n skeet na Iou toe te stuur vir ‘n massering nie, maar dit sal help as ek aanhou omgee. Sagkens wees.
Elke mens se seerplek verskil, elke mens se pyndrempel verskil. Nie een van ons is immuun teen pyn nie – maar “pyn” herinner my en jou kort-kort dat “ek” ‘n “ons” nodig het en “ons” ‘n “U” nodig het.
Saggies dra. Geduld. Gebed. Tyd. Omgee. En moed.
”It hurts? Let it hurt. For as you let pain be painful, it is vital you understand that pain is not a symptom of life going wrong. Life IS painful, rewarding, harsh, fair, wonderful, and devastating.
It hurts? Let it hurt. You don’t have to square your shoulders and it doesn’t have to be okay with you. If pain overwhelms you, let it. You don’t have to be brave today. Embrace the pain.”
And then? SURVIVE it…”
Mirna
082 779 0507
Has one comment to “PYNGEDAGTES”
I am gonna survive!