Onregverdig

(Ek het hierdie Blog Donderdag klaar geskryf.  Vrydagmiddag was ek oudergewoonte by Iou, en Saterdag het ek die ontstellende nuus verneem van die grusame moord op haar en Robert…Ek het gisteraand vir Mari gesê, “Vandag plaas ons niks”, maar na ‘n nag van rondrol en min slaap, voel ek anders.  My hart is bitter seer, maar ek dink die boodskap bly dieselfde…)

Dis verskriklik onregverdig dat Robert en Iou so gewetenloos moes sterf.  Dit voel so bitter onregverdig dat die geliefde boer en pa van vier, Billy Te Water, se lewe so skielik en wreed beëindig moes word deur ‘n weerligstraal.  Dis regtig onregverdig dat meer as 11 700 onskuldige mense in Turkye, se lewens geëis is deur daardie verwoestende aardbewing.  

En Donderdagoggend verneem ek dat die gerugte oor Mark Pilgrim se dood fopnuus is!  Dis so onregverdig dat mense hierdie nuus versprei, net omdat dié gewilde radio-aanbieder nie die afgelope paar dae van hom laat hoor het op sosiale media nie.  Gedurende Pilgrim se lang, uitmergelende kankerstryd die afgelope paar maande was hy elke dag nog net ‘n toonbeeld van dapperheid en positiwiteit, ‘n voorbeeld, vir ons elkeen.

Op 23 Januarie sê die Protea-vrouekrieketspan se afrigter, Hilton Moreeng, op nasionale televisie, dat die sterspeler, Dané van Niekerk, “onfiks” verklaar is vir die Internasionale Krieketraad se T20-Vroue Wêreldbekertoernooi.  Wat hy eintlik bedoel het is dat haar vetpersentasie te hoog is.  Hoe onregverdig is dit, komende van hom, wat self maklik-maklik vir die vetsugtige akteur, Brendon Fraser, kon instaan in die Oscar-genomineerde fliek “The Whale”!

Onregverdig.  Mens hoor die woord baie in die fiksheidsbedryf: “Dis onregverdig dat jy so dun soos ‘n graatjie is en ek net vir ‘n bord kos kyk, dan word ek vet.”  “Dis onregverdig dat jou metabolisme vinniger werk as die Chinese werkers in die “Shein”-fabriek, terwyl myne stadiger is as my Oumagrootjie s’n!”

In sy boek “Chronicles of a Last Summer”, skryf Yasmine El Rashidi: “I asked her who would teach me about life being unfair.  She said time…”

Die lewe IS onregverdig. Dit leer elkeen van ons so “met-ter-tyd”.  Vir party mense is die lewe meer onregverdig as vir ander.  Soos die bekende berader Craig D Lounsbrough sê: “I’ve gotten the short end of so many sticks that I could start a bonfire.”

Daar is duisende mense wat blakend gesond is na die Covid-inenting.   Maar die feit is, daar is ook duisende wat na die inenting skielik hartkwale, diabetes en outo-immuun siektes onder lede het.  Dis onregverdig!  Dis dan juis hulle wat gemeen het hulle doen die regte ding om in die ry te gaan staan vir daardie spuit.

Die lewe IS onregverdig.  Dis nie altyd die vinnigstes wat die resies wen nie, nie die sterkstes wat altyd seëvier in die oorlog nie, nie die met wysheid wat altyd kos het om te eet nie, nie die eerlikes wat altyd ryk word nie, en nie die skuldiges wat altyd tronk toe gaan nie…

Hoekom slegte dinge met goeie mense gebeur, weet of verstaan ek nie.  Chantelle de Wet beskryf dit so oulik in haar Blog, “Onregverdig”.  Sy sê: “Ek beskou myself as ‘n goeie mens, tog gebeur daar gereeld slegte, onregverdige dinge met my.  My broodjie val met die gebotterde kant grond toe, al het ek geld aan die man op die hoek gegee.  Ek help die ou tannie oor die straat en daag dan laat op vir die gratis pizza in die personeelkamer!”

Ek en jy, ons weet die lewe is onregverdig.  Ons almal leer dit van kleins af. Party kleuters sal altyd meer geld van die tandemuis kry, party witbroodjies sal altyd beter punte kry, party boelies sal altyd wegkom met moord, en party middelkinders sal altyd voel hulle word afgeskeep.

Die lewe IS onregverdig. Daar sal altyd maerder, slimmer, ryker, en mooier mense wees.  Daar sal altyd iemand wees wat meer karamelsous oor sy roomys kry, daar sal altyd iemand wees met minder liggaamsvet, daar sal altyd iemand wees met ‘n meer moderne selfoon, mooier tekkies, of ‘n groter motor.  En al is jy hoe maer of hoe mooi of hoe slim, eendag is eendag, dan voel jy onregverdigheid aan jou eie bas.  Dis hoe die lewe werk.

In sy boek “Princess Bride” skryf William Goldman: “Who says life is fair, where is that written?”

In 135 jaar van liga bofbal, kon slegs 20 gooiers die perfekte wedstryd speel.  Op 2 Junie 2010 draf Armando Gallarraga uit vir die Detroit Tigers, en hy speel fantasties – Sterk oppad om die 21ste speller te word met ‘n perfekte wedstryd, toe maak die skeidsregter ‘n fout.  In dié spel, soos meeste ander, kan die beslissing van die skeidsregter nie omgeswaai word nie.  Daardie dag, ten spyte van die flater, sien duisende toeskouers hoe Galarraga kalm bly, en nie sy teleurstelling wys nie.  Inteendeel, hy simpatiseer met die skeidsregter! Ongelooflik.  Soveel integriteit.

Die lewe skuld jou nie ‘n perfekte wedstryd, ‘n duur paar Adidas-tekkies, ‘n Airfryer of ‘n huisie by die see nie.  Die lewe skuld jou nie gesondheid, geluk of glimlagte nie. Die dice, soos Adam Small sê, val nie altyd net reg nie, maar dit is wat jy daarvan maak.”

As die lewe ons onregverdig behandel, het ons een van twee keuses – ons kan bitter wees.   Of beter.  Soos Gallaraga.

Abi Daré beskryf in haar kragtige boek, “The girl with the louding voice”, hoe die 14-jarige Adunni, ‘n meisie van Nigerië, droom van skoolgaan en opvoeding en geleerdheid.  Deur haar oë ervaar mens die lewe se onregverdigheid, maar beleef ook hoe Adunni weier om op te gee totdat sy haar stem vind.  Adunni bring ook by ons tuis dat ons nooit geloof moet verloor nie, ook nie in ons eie vermoëns en drome nie.

“The world is only as fair as you can make it.  It takes a lot of fight.  A lot of fight.  But if you stay in here, in your little cave, then that is one less fighter on the side of fair…”

Die lewe IS onregverdig.  Ek voel skaam dat Iou se lewe hier in ons land so onregverdig beëindig moes word.  Hierdie is nie eens haar hartsplek, of haar mense nie.  Die onregverdigheid rondom haar en Robert se dood, kan nie met karamelsous of tekkies vergelyk word nie.  Hulle was goeie mense.  Iou was my vriendin.

“There are things that we don’t want to happen but have to accept, things we don’t want to know but have to learn, and people we can’t live without but have to let go.” Author Unknown

Groot ding vir elkeen van ons om te verwerk, hierdie.  En nou kan ek ook nie wegskram van die vraag nie – hoe gaan hierdie groot stuk onregverdigheid my maak: bitter?  Of beter?

Mirna (0827790507)

3 comments to “Onregverdig

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Elmarie says:

    Dankie vir hierdie wyse woorde!
    Jy is spesiaal
    Elmarie Celliers

    • Mirna says:

      Dankie Elmarie. Waardeer dit!

  2. Colette Barnard says:

    Dis baie erg dat die moorde gebeur het. Dit was onnodig en mens voel kwaad en magteloos. Dit kan met enige een gebeur. Jyt mooi geskryf en dit kan jou onderkry of nie. Mooi gesè en dit laat mens dink