Spieëltjie, spieëltjie…

…My vrees vir naaldwerk is in standerd 7 gebore, in mevrou Kriel se Huishoudkundeklas.  Sy was kwaai, blêrrie kwaai, en ek het maande sonder tal my praktiese werk huis toe gesmokkel, sodat my ma kon red wat te redde was.  Mevrou Kriel het regtig nooit geglimlag nie, geen grimering gedra nie, en ons elke Donderdag geïrriteerd ingewag in haar kliniese wit uniform en bruin Green Cross skoene, ‘n reuse frons op haar gesig.

Niemand het dit ooit gedurf om vrae te vra of geselsies aan te knoop nie.  Nodeloos om te sê, toe Marina Prinsloo dit daardie Donderdagoggend waag om te sê: “Juffrou lyk mooi vandag”, het mevrou Kriel gebulder: “Ag, moet nou nie k€k praat nie, man…!”

Huishoudkunde was nooit ‘n oorweging toe ek moes besluit oor vakkeuses nie, en ek het tot in matriek draaie om daardie sentrum geloop.  Tot vandag toe kan ek nie ‘n soom insit nie.

…As ek nou terugdink, wonder ek, was mevrou Kriel se kwaaigeit net ‘n front om ons op ons tone te hou?   Was sy darem vriendeliker by die huis tussen haar mense, en wat het deur haar gedagtes gegaan wanneer sy soggens in die spieël kyk?  Ek wonder.

…Dit was Michelle se idee dat ons bietjie met ‘n spieël-foto afskop in ons New Year Challenge wat 6 Februarie begin, en ek moet sê, Adele het haarself oortref tydens ons fotosessie verlede Desember.  Haar unieke spieëlfoto is ‘n meesterstuk, en Mari se plakkaat asemrowend mooi!.

Maar hoekom ‘n spieël vir ons tema?  En wat bedoel ons as ons sê, hierdie eerste Challenge van die jaar gaan oor “me, myself and my mirror image…? 

Dis eintlik eenvoudig – Dis weer ‘n nuwe jaar, en jy besef Nuwejaarsvoornemens het alles te doen met hoe moedeloos jy dikwels is wanneer jy na jouself in die spieël kyk.  Die dubbelken.  Die moeë oë.  Die grys haarwortels, die aartjies, die dun lippe, die selluliet en die frons-plooie.  Jy weet waarvan ek praat.

Die ding van ʼn spieël is, maak nie saak waarvoor jy hom gebruik nie, hy jok nie!  As ek in die spieël kyk en ek sien my oë is nog vol slaap, dan is hulle vol slaap. As die spieël drie nuwe sonvlekke uitwys, dan kan ek weet daar is drie nuwe sonvlekke en dan help dit nie dat ek in ʼn ander spieël gaan kyk, of my gesig hoopvol uit ʼn ander “hoek” bekyk nie  Ons spieëls wys maar net wat hulle sien. 

(Mens moet darem nou nie vir moeilikheid soek en die mikrogolf se deur as ‘n spieël gebruik nie.  Almal in die studio sê ook: “Bly weg van die tweede spieël regs in die studio – jou bobene lyk verseker twee keer groter as wat hulle is.)

Sonder ‘n spieël kan niemand van ons oor die weg kom nie.  Dit help om ons oogomlyner perfek aan te wend en ons hare wat uit plek is reg te trek.   Maar ons kan op ons koppe staan, daardie duur Lamelle-serums, laserbehandelinge, Plexr, en botoks kan nie regtig die spore van ouderdom briek nie, en ons spieëls wys dit al te gretig uit.

Maar dis JUIS waarom ons, ons spieëlbeeld die wegspringplek wil maak vir ons elkeen se eie reis in 2023.  Om sommer hier, vroeg-vroeg in die nuwe jaar, eers weer ‘n slag vrede te maak met ons weerkaatsings – presies met dit wat ons is, en sien.

Dit laat my dadelik dink aan hierdie oulike vertelling waarop ek afgekom het:

“So droom ek mos laasnag ek het ‘n ander lyf. Moenie my vra hoe het dit gebeur nie. Sover ek kan onthou moes ek met ‘n ander vrou geruil het. Was dit maar so maklik! Ek was erg opgewonde in my droom, ek kon weer my voete sien, ek kon rotse uitklim, en ek kon saam met iemand anders ‘n stoel deel.

Winkels toe was natuurlik my eerste prioriteit. Daar aangekom gryp ek die klein nommertjies van die rakke af. Sulke pikante goedjies. Ek dink ek het party van daardie klein nommertjies gesien toe ek laas op laerskool was! Dit is spaghetti-strêppie-toppies, bloesies wat my middeltjie wys, en jeans wat lekker op die heupe lê. 

Maar wat ‘n skok toe ek in die spieël kyk. Ek het nie net die lyf gekry van die ander vrou nie, maar ook haar hare! Ek kan niks daarmee uitrig nie. Maak nie saak of ek gel, “tease”, draai, blaas, spuit of stryk nie.

Asof dit nie genoeg is nie, sit daar hare op plekke wat ek nie gedink het hare kan sit nie. In my droom het ek besef geen haarverwyderaar sal die onooglike hare op die mees delikate plekke verwyder nie. Miskien dalk net die tussen my tone.

Dis toe dat ek begin paniekerig raak. Sê nou maar net die ander vrou wil nie my lyf teruggee nie. Wat gaan ek dan maak? Ek was nog so besig om rond te hol in my drome, toe dat ek besef dat ek eintlik heel tevrede was met my lyf. Ek het ten minste geweet hoe om my hare te hanteer, en ek het nie hare op snaakse plekke gehad nie.

Genadiglik skrik ek toe wakker. Eerste beweeg my hande bewerig oor my ronde heupe, my maag en my tone. Met ‘n glimlag vee ek oor my deurmekaar hare en ek sug en wil sommer sing, “my lyf is weer myne!” Nog nooit was ek so bly om myself te sien nie!

Vanoggend is ek sommer diep dankbaar vir alles aan my. Skete, pyne, velle, rolle, grys hare, lelike voete, en geswelde bene in die hitte. Elke sentimeter van my lyf is MYNE!! Saam met die blydskap weet ek ook dat ek nooit, nooit weer sal wens dat ek iemand anders se lyf kan hê nie.

Sexy klere of “te not”!’

Dis tyd dat ons almal in 2023 vir ‘n slag minder krities na onsself kyk, ophou om onsself met almal te vergelyk.  En ophou sê: “Yuk, ek is vet en lelik. Ek skaam my vir myself.” 

Nee, mag jy vrede maak met jou hele self.  Jouself vierkantig in die oë kyk en jouself sien vir wie jy regtig is, jouself aanvaar nes jy is. 

In die woorde van die mooi lied, “The story”:

“All of these lines across my face
Tell you the story of who I am
So many stories of where I’ve been
And how I got to where I am…”

En dan, ou mattas, dan moet jy besluit.  Wil jy jouself verbeter?  Voel jy dis nodig?  Wil jy graag beter en gesonder voel.  Dan kan jy en gaan jy dit doen, vir jouself en jou eie gesondheid.  Nie oornag nie.  Ook nie eers oor ses weke nie.  Dag vir dag.  Tree vir tree.

En wie weet, dalk staan jy op ‘n Oujaarsaand hoopvol voor ‘n spieël en dink aan Derek Walcott se bevrydende gedig “Love after Love”:

The time will come

when, with elation

you will greet yourself arriving

at your own door, in your own mirror

and each will smile at the other’s

welcome,

and say, sit here.  Eat.

You will love again the stranger

who was your self.

Give wine.  Give bread.  Give back

your heart

to itself, to the stranger who has

loved you.”

Mirna

082 779 0507