
Dis altyd vir my ‘n grote…die eerste Blog van ‘n nuwe jaar. Die drie en ‘n bietjie weke weg van die studio het verby gevlieg, en ek is so opgewonde om môre weer pens en pootjies deel te word van die woelige oefenroetine in ons geel plekkie. (Al weet ek voor my siel daardie eerste paar dae gaan ons weer soos stokmannetjies skuifel, en met moeite opstaan en gaan sit. Lekker!)
…Op 31 Desember herinner Dana Snyman ons dat 2022 die jaar was toe ons kwaad was – vir Malema en Charlize Theron en byna elke week vir iemand anders. Dit was die jaar, toe loadshedding “hopeshedding” geword het, en ons knaend vir mekaar gevra het, “Op watter vlak is ons nou?” 2022 was die jaar toe ek vir die eerste keer nóg vyf minute vroeër moes opstaan om ‘n ander roete studio toe te ry, net oor die slaggate te veel geword het, en ek menigmaal in die pikdonkerte moes spook om die kragopwekker aan die gang te kry vir die 5.10 klas… Wie sou ooit kon dink dat sonpanele in 2022 dié statussimbool sou word?
Dit IS seker te vroeg om te vra hoe die nuwe jaar sover vir JOU voel. Oor een ding stem ons almal saam – die beurtkrag en slaggate gaan nie minder word nie, en anderpad kyk gaan nie help nie, want dan skryf jy twee bande af. Hoop gaan wraggies nie makliker word in 2023 nie.
Maar wat ek eintlik wil vra, is: Wil jy hê jou lewe moet bietjie anders lyk in 2023? Wil jy vir die soveelste keer dinge so bietjie anders probeer doen?
Ek weet nie van jou nie, maar ek is laaaankal nie meer een vir nuwejaarsvoornemens nie. Net nou die dag hoor ek iemand sê: “As ek deur die jare al my voornemens nagekom het, was ek vandag een van die mooiste, maerste, rykste, geleerdste, mees interessante, mees belese en berese, positiefste mense op aarde. Kortom, ‘n wonderwerk.
Nee, pappie. Teen dié tyd weet ons mos dat voornemens die nare gewoonte het om tjoef-tjaf agternemens te word, nes elke jaar die manier het om verbasende draaie met ons te loop, amper asof die jaar voornemens met óns het.
En tog belowe ons onsself elke jaar so in die stilligheid – Hierdie jaar gaan ek bietjie meer oefen, bietjie minder wyn drink, bietjie meer tyd aan my stiltetyd afstaan, bietjie minder vloek, bietjie minder praat, bietjie meer luister, bietjie meer glo.
Net so bietjie. Dit bly eintlik die geheim. Ons hoef nie al ons grense te verskuif op een slag nie, net een tree op ‘n slag gee, een minuut op ‘n keer leef. Ek dink ek het al tot vervelens oor klein treetjies geskryf, bloot omdat ek die fantastiese effek daarvan eerstehands beleef. Ek sien hoe vroue in ons studio jaar na jaar die vrugte pluk van een treetjie op ‘n slag – geduldig bly, dag vir dag, die proses en hulself vertrou. Bietjie vir bietjie. En as jy weer kyk het hulle berge versit…
In haar boek “Maybe you should talk to someone” skryf die Amerikaanse psigoterapeut, Lori Gottlieb”: “One foot, then the other. Just take a step. And when you’ve taken that step, take one more. Eventually you’ll make it to the shower. And you’ll make it to tomorrow and next year too. One step. The only courage that matters is the kind that gets you from one moment to the next.”
Dramaturg Emily Acker het gesê solank ons lewendig is, het ons ’n kans om oor te begin en dít is waar die geheim lê; nie in die groot gebare nie, maar in die daaglikse klein oorwinnings.
Hoor net hoe mooi beskryf Ané Kotze dit op haar “Kaalwoorde” Instagram-blad:
“begin weer by een
een tree vorentoe
een ja wat jou lewe verander
een oomblik waar jy jouself kies
een minuut waar jy braaf is
een rede hoekom jy genoeg is
een fout wat jou nie definieer nie
jy het net een lewe
as dit te swaar of te veel word
begin net weer by een…”
Sjoe.
Daar word blykbaar van Rolls Royce motors gesê: “A Rolls Royce never breaks down, it only fails to proceed…” Elke nuwe jaar laat ons op ‘n manier glo dat daar iets beters vir ons kan wees. Maar daar’s nie kortpaaie nie, net ons elkeen se unieke eie pad. In 2023 gaan ons ingesteldheid vir die soveelste keer bepaal of ons gaan vorentoe beur, of die aftog gaan blaas, sal aanhou probeer of die handdoek gaan ingooi, oop sal wees vir nuwe geleenthede en uitdagings, of gaan vasval in die verlede.
Een tree…soms is dit al wat jy nodig het. Een tree vorentoe is die een wat jou uitendelik by jou eindbestemming bring. Een tree agteruit gee perspektief, `n weer besin. Een tree in `n ander rigting kan lei tot nuwe ontdekkings, `n ander haarstyl, `n beter resep, `n mooier pad werk toe, `n gesonder leefstyl of wegstap van wroeg. Een tree nader kan lei tot vrede of vergifnis, dit kan `n tweede kans beteken, met `n tree nader kan jy sê dankie, asseblief, geluk of voorspoed. En dit kan `n vreemdeling verander in `n vriend…
My wens vir jou in 2023 is hoop – hoop om te glo dat die beste nog voorlê, hoop om jouself te wees en nie jou drome te laat vaar nie, hoop om jou sin vir humor te behou, hoop dat jy jou seëninge sal tel, een vir een, hoop om regtig bietjie meer te oefen, hoop vir nuwe teer in ons mooi dorp se slaggate, maar veral hoop dat elke slaggat in jou hart sal heelword, en, hoop om een tree vorentoe te gee in vertroue, al gee jy kort-kort twee agteruit. Een tree.
Tussen bang en bly is daar net een tree – en dis ‘n tree wat net jy kan gee.
Mirna
0827790507
Has one comment to “EEN TREE…”
Jippp kani wag nie✔️✔️✔️