Die lewe IS ‘n sprokie!

O jitte, ek weet wat jy dink – dat ek vandag hierdie hele Bloginskrywing aan Zander en Mariné se troue gaan wy.  Ek sou kon, ja, maklik, ek sou ‘n hele boek oor daardie sprokiesdag kon skryf, maar ek ken my plek, en ek weet teen hierdie tyd is jy dalk al tot vervelens toe moeg vir die foto’s wat ek oral geplaas het…

Vir in geval jy nie weet hoe die WhatsApp “status”-ding werk nie, en vir in geval jy nie groot is op sosiale media nie, hier is ‘n paar van Neis-hulle, én ons, se droomdag-oomblikke…

…Elke kraai dink natuurlik sy eier is die witste, en elke ma glo sekerlik haar dogter is die mooiste, maar as ek so luister na al my vriendinne en oefenmaats en Facebook vriende, dink hul ook Mariné het asemrowend gelyk.  Ek het haar nog nooit so gelukkig gesien nie, en ek sal Zander altyd dankbaar wees vir die liggie wat hy in ons Neis se oë en hart kom aansteek het.  Ek en Schalk is so dankbaar vir hierdie spesiale laaitie wat ons ryker geword het verlede Vrydag, daar by die fabelagtige Belair Pavillion in Paarl.

Tracy, dis nou Zander en Mariné se “wedding planner”, (skuus maar daar’s nie vir my ‘n ander woord om dié merkwaardige eienaar Van “Trunk Events” te beskryf nie!).  Sy het belowe dat die ster-jasmyn die eerste week in November sou blom, buite én binne.  Dié Jasmyn groei teen die unieke onthaalarea met sy staalpilare en glasdeure.  En het dit nie geblom nie!  Dit IS soos iets uit ‘n sprokiesboek.

Toe Mariné en Schalk, voorafgegaan deur haar borrelende strooimeisies, kort na drie tussen die dramatiese waterfonteine afgestap kom na die kerkie met sy klimop plante, het die trane sommer vrylik gevloei. 

Dit was ‘n volmaakte dag, met ‘n pittige seremoniemeester (ons eie Eswee), gasvrye kelners, die lekkerste kos en ‘n asem-snak-oomblik toe Zander vir Mariné hoog bo sy skouers lig op die aangrypende Stephen Sanchez-lied “Until I found you”.  Toe het ek gedink, nou’t ek alles gesien en ervaar, ek kan nou maar doodgaan…

Vir ons was dit eintlik ‘n sprokiesweek, daar, eers in die mooie Stellenbosch, en later in die week op die Laborie Wynlandgoed in die hartjie van Paarl, met sy ongelooflike uitsig oor die du Toitskloof berge, die Kaaps-Hollandse herehuis, stokou akkerbome en rye groen wingerde, omring met kosbare vriende en familie.  En ons liewe Nicole. Almal het heeltyd gewaarsku dat die week en die dag gaan omvlieg, en dit het, maar dit was doodeenvoudig onbeskryflik.

…In die heel laaste episode van die 2013-reeks “The Office” sê Andy Bernard: “I wish there was a way to know you were in the good old days before you actually left them.”  En ek wonder as ek en jy eendag terugdink aan die goeie ou dae, hoeveel sprokiesdagoomblikke ons sal kan herroep…

Dis maklik om die Rooiletter-sprokiesdae van ons kinders se verjaarsdae, hul mylpale, hul matriekafskeide en ons eie, troudae en huweliksherdenkings, oorsese reise en spesiale vakansies te onthou, maar wat van die gewone dae…?  Is ek naïef as ek sê dat alles in die lewe as ‘n feeverhaal onthou kan word?  Ek dink nie so nie – ek is vas oortuig dat dit ons juis help om die lewe in sy eenvoudigste en mooiste vorm te sien, dit beter te verstaan en dit te koester.

Dit laat my dink aan die roman “Ek wens, ek wens” deur Zirk van den Berg.  Dit handel oor Sebastian Walters, ’n man met ’n voorspelbare loopbaan – so voorspelbaar soos die onvermydelike reëlmaat van die dood.  Sy lewe is die toppunt van saai.  Hy woon saam met sy vrou, Helen, en twee tienerkinders, Josh en Katrina.  Hy is sielsongelukkig in die huwelik, én het ’n slegte verhouding met sy kinders. Na ’n kwarteeu as lykbesorger by White Lily Funerals dink hy daar is byna niks van die dood wat hom nog kan laat skrik of mislik voel nie. Sy lewe is een groot, grys, eenvoudige, en ongelukkige bestaan.

Seb se eentonige wêreld verander egter wel op ’n dag nadat hy met die sonderlinge agtjarige seun, Gawie (kort vir Gabriël), in aanraking kom. Ek wil niks bederf nie, en daarom wil ek nie te veel uitwei oor die besonderhede van dié seuntjie se impak op Seb se lewe nie, maar met die verskyning van hierdie klein wese bring hy vir die hoofkarakter ’n soort tyding.

En dit laat Seb met die vraag: “As ek net een wens het, waarvoor sal ek wens?  ‘n Ander werk, ‘n klomp geld, beter verhoudinge met die mense om my?  Wat is vir my belangrik?  Wat wil ek die graagste in die lewe hê?”

En jy? Wat gee betekenis aan JOU lewe? En hoe kan jy verhoed dat jy vasval in die versmorende alledaagse voorspelbarheid van wat jy is, of wat jou omring?  Ek dink ek en jy, ons moet self besluit om ons wêreld elke dag in te kleur, self besluit dat ons gaan weier om afgestomp en hard te raak, self besluit om te weier dat ons lewens been-there-done-that momente word, weier om moed op te gee, en weier om die gewone dae as net-so-vaal-soos-gister te beskryf.

Want as ons gelukkig is kom die son môre weer vir ons op, die voëls is weer vol karakter en gesels, ons lywe is weer in staat om te step en te sweet en te beweeg en te dans.  Ons het weer ‘n kans om opgewonde te raak, weer ‘n kans vir vrede voel, veilig voel, vreugde voel.  Weer, let wel weer.  Nie alweer.

In “Verses of Happiness” skryf die Amerikaanse filosoof, Debasish Mridha:

“Life is a fairytale if we know how to write the story.

Life is a fairytale of courage, fear, failure, persistence, and triumph.
 Dreams, desires, destiny, and difficulties in life make it a magical and meaningful fairytale.”


Nie elke geleentheid vra vir ‘n sprokiesrok, fleurige tafels vol blomme, en pragfoto’s nie.  Dit beteken nie dis vaal en vervelig nie.  Nie elke dag het ‘n feeverhaaleinde nie. Dít beteken nie ons moet ophou soek na ‘n gelukkige einde nie.  Ek dink dit kom dalk hierop neer – ons moet ons drome laat wei, al torring daar realiteite aan ons binneste. 

Die goeie ou dae is NOU.  En die lewe IS ‘n sprokie. Al wat nodig is, is ’n greintjie beskeie hoop, soos dié van Seb Walters.

Mirna

082 779 0507

2 comments to “Die lewe IS ‘n sprokie!”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Colette Barnard says:

    Dit was n besondere mooi troue en Marinè het pragtig gelyk. Jy het ook baie mooi gelyk en die ander ook. Die rose en venue is pragtig! Die stukkie gee mens inspirasie en dankbaarheid kom sterk deur. Baie geluk met jou lieflike dogter se troue in die mooiste Kaap

    • Mirna says:

      Baie dankie Colette!