Na afloop van sy oupa se begrafnis sê ’n kleinseun: “My oupa het nie modderspore gelaat nie…” Sjoe, dis groot woorde. Ek is doodseker dié seun het na veel meer verwys as die feit dat sy oupa bedagsaam genoeg was om sy skoene uit te trek voor hy dalkies die huis vol modder trap…Vir hom was sy oupa ‘n rolmodel, ‘n navolgenswaardige voorbeeld.
Vir my was daar nog altyd ‘n groot verskil tussen voorbeeldig wees en voorbeeld stel. Wanneer ons voorbeeldige standerd 2-klasmaatjie in Unitaspark Laerskool, Elmarie Kruger, na pouse klas toe gehardloop het om Juffrou Alida van Rooyen te herinner dat ons moes toets skryf, was sy seker voorbeeldig, maar ‘n voorbeeld wat ons wou navolg? Gmpf. Nooit!
Maar vir wat roer ek hierdie week die tema van voorbeeldig wees aan? Want Stacey het die dink in my kom loskrap verlede Saterdag by Leon en Carien se troue, met ‘n opmerking wat sy grappenderwys gemaak het…(Toemaar, ek het haar voorberei hierop…)
Ons tafel by die huwelikseremonie was die “oefentafel” – Carien se oefenmaats. Toe Stacey opmerk dat ek malvapoeding én wortelkoek eet, sêvra sy: “Maar Mirna, jy moet mos eintlik vir ons ‘n voorbeeld stel…?”
Wat beteken dit, hierdie voorbeeld stel? Dat ek eintlik nie moet poeding eet nie, want ek is die “girls” se aërobiese instruktrise? Hiehie, nee. Dan beteken dit tog dat die predikant ook nie ‘n glasie sjampanje mag lig in die heildronk op die egpaar nie, want hy is die gemeente se leraar…Die ander geneuk is die kwessie van maer wees – het ek Saterdagaand net Coke Zero gedrink en “nee dankie” gesê vir die nagereg, het almal heel moontlik gesê: “Mmmm, DIS hoekom sy so dun is, sy eet nooit!”
Gelukkig weet ek lankal dat voorbeeld stel as fiksheidsinstruktrise en mentor, oor veel meer gaan as een aand se rooiwyn en lekker eet by ‘n huwelikseremonie. Maar, het ek Maandag by die studio opgedaag, 5kg swaarder, dan sou ek definitief sit met ‘n probleem! ‘n Groot een!🤣 Niemand sou dit mis nie, en Stacey sou waarskynlik knipoog vir Linette en Martie!
…My instruktrises weet hoe gesteld ek is op die beeld wat ons uitstraal – die oomblik wanneer jy op daardie verhogie klim om klas te gee, is jy in die openbare oog, en hoe jy lyk bepaal in ‘n groot mate hoe geloofwaardig jy oorkom as fiksheidsinstruktrise. Dis ongelukkig ‘n harde werklikheid in ons bedryf.
“Practice what you preach”, lui die Engelse gesegde. Jip, ek weet, daarom het ek nog nooit tydens enige InBody assessering vir enigiemand gesê dat alkohol en suiker verbode is nie. Ek sê wel, luister net na jou lyf se ingeboude kilojoule sakrekenaar! Minder kilojoules in as uit. (Neis, jy’t ons mooi geleer!)
Iemand het eendag gesê, “Ek wil graag ‘n voorbeeld wees vir my kinders, nie ‘n verduideliking nie.” In my beroep is dit ewe waar. En ek wil graag, altyd, ‘n voorbeeld wees vir my lede, nie ‘n verduideliking nie. Ek het nooit Stacey se “vraag” beantwoord Saterdagaand nie, en wie weet, dalk het Jacqueline en Martie en Liezle en Linette ook gewonder hoe kon ek die pakkie grondbootjies, ‘n hele bord kos, poeding EN wortelkoek verorber? Want my dag het 4uur begin, met 55 pakkies pak in die studio vir ons groot Bounce-A-Thon, kragopwekker uitstoot, seker maak die GoPro se battery is vol, die cd toets, die Bounce-A-Thon aanbied, Mini-Challenge bedink vir die week, almal se klassies tel, nuwe Rebounding klas uitwerk en inoefen, en steproetine vir die volgende week afrond.
Teen die tyd dat ons platgeval het om die tafel vir die troue, was daar 24 000 trotse treë op my Vivosport horlosie. Daar was nie regtig tyd vir ontbyt of middagete nie, so daardie kossies en lekkernye by die troue het sommer regdeur geval.
Maar dalk moet ek ook so bietjie verduidelik waar ek vandaan kom. Ons kinders het grootgeword in ‘n huis waar suiker nie ‘n vloekwoord was nie. Dit was ook nie taboe nie. Vir solank as ek kan onthou was daar ‘n groot, ronde, plastiese visbak propvol lekkers op die eetkamertafel. My ma het nooit gesê dat dit verbode was nie, en die enigste kere wat dié bak se inhoud drasties gesak het, was wanneer ons maats kom kuier het.
Die lekkers was daar, vrylik tot ons beskikking, en daarom het ons regtig nie veel erg daaraan gehad nie. Nodeloos om te sê dat hierdie tradisie voortgeleef het in ons huis ook, en ek is baie seker dis waarom Eswee en Marinê nie een vandag ‘n soet tand het nie…
Die Amerikaanse berader, Craig D Lounsbrough, het onlangs gesê: “Behind you there lays a long series of footprints. And does the nature, direction, and depth of them inspire others to walk in them or run from them?”
Die spore wat ons trap en die voorbeeld wat ons stel IS belangrik. Die voorbeelde wat ons SIEN, beïnvloed ongetwyfeld ook die manier hoe ons ons eie lewenspad loop. Om die lewe reg te leef, is ‘n groot verantwoordelikheid. Of ons dit nou wil weet of nie. Ons kinders, ons lede, ons pasiënte, ons kollegas, ons klante, ons vriende – hulle gebruik dalk ons optredes as riglyne. Hulle weet nie altyd hoe om te maak nie. Daarom kyk hulle maar…
Ons wonder maar almal af en toe oor die voorbeeld wat ons stel. Wat gaan ons kinders onthou? Wat gaan hulle eendag doelbewus anders wil doen? Wat gaan hul stiptelik wil navolg?
Dalk moet ons elkeen weer ‘n keer kyk na die spore wat ons trap. Dalk is dit haastige spore van te veel jaag, of weghardloop. Dalk moet ons vir ‘n slag weer net bietjie stadiger trap, daar, rondom ons mensies, sodat ons goeie spore kan agterlaat vir almal om te volg, nie net daardie spore op die kar se pedale op en af werk toe nie.
“To lead by example is to offer your life as a living diary for others to read”, sê Israelmore Ayivor. En in sy boek “The Practice of Piety” skryf Lewis Bayly: “Een man uit ‘n duisend kan ‘n goeie boek skryf, maar elkeen van ons kan een wees – ‘n ope, invloedryke, inspirerende boek, bloot deur die voorbeeld wat ons stel…”
Minder voorbeeldig wees, minder verduidelikings gee, meer voorbeeld stel. En eendag, eendag, sal niks my meer genoegdoening verskaf as dat my kleinkinders kan sê: “Ons vietse, vreemde, koel Ouma het nie modderspore gelaat nie…”
Mirna
082 779 0507
PS Donderdagoggend vlieg ek Stellies toe, so volgende week is daar nie ‘n Blog nie.
2 comments to “Voorbeeldig?”
🤣❤️
Dankie Mirna, jy het iets aangeraak wat my aanspreek en en my gaan bybly…dit wat Israelmore Ayivor….”To lead by example is to offer your life as a living diary for others to read”….❤️