Vandat ons twee blondies se kuiertjies in Ermelo so seldsaam geword het, het ek ‘n ongeskrewe reël om so min as moontlik tyd voor my rekenaar deur te bring tydens daardie uitsonderlike naweke wanneer hulle wel bietjie kan huis toe kom. Daarom het ek verlede naweek van my weeklikse ritueel afgewyk en nie ‘n Blog geskryf nie – (mmm, ek weet, jy’t dit nie eens agtergekom nie), maar in elk geval, Eswee en Mia het kom kuier! Soos altyd was ons kuiertjie kort, maar so spesiaal. En nee, Eswee het nie sy mooie Nicole vir Mia verruil nie – Mia is Eswee se liewe Duitse Herdershond, en sy is al vir ‘n volle week onder ons sorg terwyl Eswee in die Kaap is…
Wie sou nou kon dink dat Mia en ons bejaarde Jack Russell, Bailey, hierdie week die inspirasie vir my Blog sou wees?!
Dit het als begin by verlede Saterdagmiddag se luilekker kuier in die welkome lentesonnetjie, daar op die trappe om die swembad, en Mia en Bailey se eindelose wedywering om eerste die tennisbal te vang. Balgooi vir Bailey was nog altyd ‘n ononderhandelbare ritueel in die Bothma huishouding. Wanneer Mia, wat ewe balbedinges is, bykom, raak dinge ingewikkeld. Nodeloos om te sê dat Bailey gewoonlik die afspit delf, en na eindelose probeerslae, gefrustreerd en moedeloos kop onderstebo in die braaiplek gaan lê…
Maar toe, Saterdag, sommer net so, verander die verwoede baljaag wedywering in ‘n speletjie waaraan ons ons verwonder…Mia jaag die bal, Bailey hardloop gedweë agterna, Mia kom plons op die gras neer met die bal tussen haar voorpote, en laat Bailey toe om dit op te raap. Bailey bring die bal vir Eswee, Eswee gooi, en altwee hardloop. En skielik is daar vrede, met dié “ritueeltjie” van vang en bring en loslaat en wag, wat homself oor en oor herhaal. Dis toe dat my gedagtes die loop neem oor rituele…
Kyk, ‘n mens kry miljoene soorte rituele – van Godsdienstige en kulturle rituele, tot die uitgerekte rituele in die Engelse koningsfamilie verlede week, voor die ontslape koningin uiteindelik môre ter ruste gelê word. Daar is sportsterre se spesifieke rituele wanneer hul meeding, en lawwe rituele, soos dié van sekere stamme in China, waar die mans so ewe hul vroue oor brandende kole moet dra. Dit voorkom blykbaar natuurrampe en help die vroue om pynlose arbeid te verrig! Gmpf! Bid jou aan!
…Vandag verwys ek meer na elkeen van ons se eie ou ritueeltjies waarmee ons die dag begin, deurgaan, en eindig. Daar’s rituele wat elkeen van ons al vir jare doen, toe oë, sonder om te dink, soos tandeborsel en grimeer. Maar mens is nooit te oud om te leer nie, ook nie om jou brein se paadjies te herprogrammeer nie, en sommer met albei hierdie alledaagse rituele, het ek onlangs iets geleer wat ek nooit geweet het nie. Twee weke gelede sê my tandarts (skuus dis bietjie grillerig) dat mens nooit daai laaste tandeborselskuim in jou mond met water moet uitspoel nie – oeps, nie geweet nie! En drie weke gelede, tydens Lizelle se “MUD”-grimeerdag, leer ek vir die eerste keer dat jy jou onderlaag eintlik laaste moet aanwend. Oeps!
In haar boek “The Elegance of the Hedgehog” skryf Muriel Barbery: “A simple ritual takes its place at the heart of our ability to see greatness in small things. And in this there’s beauty to be found – in small things that aspire to nothing, yet know how to set a jewel of infinity in a single moment…”
Soos kosmaak vir baie mense ‘n ritueel is, so is oefen vir my – dis soos asemhaal, ‘n suurstof waarsonder ek nie kan leef nie. Dis wat my op ‘n hoër frekwensie plaas, dis waar ek my stem kry, my plek vind, en my hart uitstort. Aah, en die musiek, o die liewe, mooie musiek! Dalk is dit waarna Joseph Campbell verwys wanneer hy sê:
“Your sacred space is where you can find yourself again and again.”
Elke mens se rituele is uniek en spreek tot sy of haar eie verstaan en belewenisse…Of dit nou ‘n jaarlikse kers aansteek is as ‘n huwelikherdenking, ‘n tattoo wat twee mense se liefde vir mekaar verklaar, ‘n weeklikse kaal swem onder die sterre om die lewe te vier, of ‘n Alkoholiste Anoniem medalje wat ‘n jaar se soberheid herdenk…elkeen het sy plek. Selfs daardie eerste koppie koppie koffie in die oggend is ‘n ritueel.
Rituele is onlosmaaklik deel van ons, en veral in elke gesin – onmisbaar. Ek stem een honderd persent saam met die bekende psigiater, dr Eugene Ahlers. Hy sê: “Rituele bou eenvoudige herinneringe, dit maak ‘n huis ‘n tuiste, en ‘n gesin ‘n hawe.”
Ek onthou daardie gereedmaak vir slaaptyd toe Eswee en Mariné klein was, met stories en badtyd en nagsê en Kinderbybel en rug kielie, en die saam eet om die tafel, van vroeg af, elkeen met ‘n vaste sitplek. Nou nog. En ek weet dit is waarheen die kinders terugkom wanneer hul huistoe verlang, na elkeen van hierdie bakens van stabiliteit waaraan hul toe vasgehou het, sonder dat hul eers daarvan bewus was.
In sy boek “The Death and Life of Charlie St Cloud” skryf Ben Sherwood oor die karakter, Tess Carroll: “These were her rituals, the routines that made her feel alive and connected. Without them, where would she be? Lost…”
Dit is vandag dag 7 van Mia se kuier in Petstraat. Ek kan sien sy verlang na Eswee, maar die balritueel duur voort en daar’s vrede op ons werf. Bailey weet dalk dis net ‘n kwessie van tyd voor hy weer alleenreg op die tennisbal het. Dis net Chloe wat haar lyfie skaars hou en die dae aftel voor sy weer sorgvry op die warm stene kan gaan rol, sonder om te vrees vir een van haar nege lewens.
…Het jy al ooit gedink oor jou ritueeltjies, hul bietjie in heroënskou geneem, afgestof, en van voor af waardeer? Moenie jou rituele van leef, doen en stilword gering ag nie, want elkeen van hul is meer-as-bloot-gewoontes van jou alledaagse bestaan!
Soos die Belgiese kunstenaar, Erik Pevernagie, skryf: “Let us not neglect rituals. They can be the watchdogs for the survival of our mental health, warning us when a well-oiled functioning of our life story is about to disrupt. Rituals can be safeguards hindering us from stumbling into the abyss of nothingness. Rituals can be anchor points providing guidance on our potholed path for the future.”
Mirna
082 779 0507
PS: Maandag begin ons Summer Challenge – daardie langverwagte, opwindende 9-week lange ritueel van hard oefen, mooi eet en klasse tel! En volgende naweek is Mariné se kombuistee en Nicole se 21ste verjaarsdagpartytjie in Pretoria. Dan skryf ek verseker nie ‘n Blog nie!
2 comments to “RITUEEL…”
Mirna, dankie dat jy jul Viervoetiges met ons gedeel het, Mia, Chloe en Bailey klink kosbaar!
Ek besef sommer dat ek ‘n paar rituele het, wat maar ‘n bietjie “uitsgespoeg” kan word en daar is ‘n klompie, wat verseker kan doen met ‘n nuwe lagie onderlaag….!
Rituele is iets wat ek nog nie so aan gedink het nie. Baie mooi gesè en ek gaan my rituele meer waardeer. Jul geniet die honde!