Dis ons goeie vriend, André, wat so ‘n paar weke gelede tydens sy 70ste verjaarsdagviering op die mooie houtdek van Tolderia, met dié kwinkslag vorendag gekom het: Na 10 jaar se getroude lewe bars die vrou uit in trane! “Wat nou?”, vra die man. “Jy’s nie meer bedagsaam nie!” snik die vrou. “Miskien nie, maar ons is darem nog snags saam”, sê die man…🤣
Die woordeboek sê bedagsaamheid is om ander mense in ag te neem voor jy optree. Ek besef dis nie altyd uit moedswilligheid dat ons dinge doen wat ander mense irriteer nie. Baie keer is ons onbedagsaam bloot omdat ons so bietjie in ons eie wêreldjie vasgevang is. Ek wil nie graag oor die negatiewe kant van bedagsaamheid skryf vandag nie, maar ons almal ken dit…
Daar’s duisende voorbeelde – die onnadenkende fliekganger wat sy springmielies en Slush Puppies so verorber, dit klink behoorlik soos ‘n wasmasjien met ‘n oop deur! Die irriterende vrou in Mug and Bean wat kliphard ‘n gesprek voer met haar selfoon se luidpsreker aan, die ontaktvolle ou wat sy meisie afsê met ‘n WhatsApp, die selfsugtige buurman wat sy vullis op JOU sypaadjie kom dompel, of die onbeskofte windlawaai wat jou met sy klip-en-kluit-opskoppende 4×4 op die grondpaadjie in die wildtuin, vervaard verbysteek.
Ons moet seker in ag neem, wat vir een mens uiters onbedagsaam voorkom, is natuurlike gedrag vir ‘n ander. Ek dink mevrou Etiket, tannie Emsie, kry ‘n hartaanval as sy sien hoe ek op ‘n Vrydagaand die geurige pizzadriehoek uit die Butr-boks lig terwyl die mozzarella-kaas in sulke goue drade agterna trek, en sy kry sekerlik die stuipe as sy hoor dat ek die pap wat saam met die braaivleis bedien word, veel eerder met botter en suiker eet! Maar ons moenie die fout maak om “goeie” etiket met bedagsaamheid verwar nie.
…Ek dink die laaste tyd baie oor bedagsaamheid, miskien oor ek so baie van dié besonderse karaktereienskap in ons studio ervaar – die boksie met Kleenex tissues op die hoekkassie, waarvan almal gebruik, maar wat net nooit opraak nie – as ek weer sien, het een van ons lede dit met ‘n nuwe vervang…Dis al lankal nie meer ‘n geskrewe reël dat al die matte en gewiggies na klas bygedam moet word met lappe en saniteerder nie, maar almal doen dit steeds. Wanneer ons soms tussen klasse die tamaai Zoompyp weer moet ophys nadat ons ‘n klas verfilm het, is dit ‘n woordelose, bedagsame spanpoging en geskarrel van drade oprol, stoeltjies bêre en rekenaar terugbesorg, in ‘n japtrap. Almal help.
Maandae is Marie altyd slaggereed om almal se Rebounders terug te hang op die ysterrak, danksy Rethia of Carien hoef ek nooit my eie stepkassie te bêre nie, en Helen ontferm haar oor elke nuweling…Ek ervaar selfs bedagsaamheid in die manier waarop almal mekaar se staanplekkies in die studio stilweg respekteer.
Behalwe nou natuurlik vir die legendariese Racheltjie de Beer-heldedaad, is daar vir my geen mooier voorbeeld van bedagsame optrede nie, as dié van die Spanjaard, Ivan Fernandez Anaya. Dié ongelooflike gebeurlikheid het tien jaar gelede al plaasgevind, maar die wêreld kan steeds nie uitgepraat raak daaroor nie. Tydens dié marathon-wedloop in Burlada, Navarre, het Anaya, wat tweede gelê het in die pylvak, gesien hoe die voorloper, die Keniaan Abel Mutai, 10meter voor die wenstreep tot stilstand kom. Mutai was verkeerdelik onder die indruk dat hy reeds die wenpaal bereik het.
Vir Anaya sou dit verspotmaklik wees om Mutai verby te steek om self die goue medalje in te palm, maar nee – hy het Mutai letterlik van agter gestoot sodat hy steeds eerste kom. Ongelooflike bedagsaamheid!
Maar word mens met bedagsaamheid gebore of is dit iets wat mens by die huis leer as jy klein is? Het dit iets met basiese goeie manière te doen? Kan iemand wat van nature ongeskik is, ooit bedagsaam wees? En kan bedagsaamheid by ‘n goed gemanierde mens kort? Ek vra, want ek’s nie heeltemal seker nie.
Ek weet net dat bedagsaamheid die wêreld ‘n beter plek maak. Oral. Altyd. Bedagsame mense is daar nog genoeg, mense met harte so vol soos oorlaaide minibus-taxi’s oppad Moria toe vir die Paasnaweek. Mense wat ons herinner dat daar nog soveel hoop is vir hierdie land van ons – die oom wat met die petroljoggie Zoeloe praat, die veiligheidswag van ACSU se flits in die nag voor jou huis, die hartchirurg wat vir die oom van die Noordweste sê, “Dis reg oom, ek doen daardie klep vir Oom gratis.”. Ek lees van Oom Japie van Strydenburg, ‘n engel in ‘n insleepbakkie wat gestrande reisigers in sy buitekamer herberg gee, en van Trevor Nyakane se pa en stiefma wat Trevor wou verras, en die aand voor sy eerste rugbytoets in hul bakkie buite die stadion oornag het.
Die 92-jarige Amerikaanse skrywer, Thomas Sowell, het onlangs gesê: “Politeness and consideration for others is like investing pennies and getting dollars back.”
Maar eintlik verwag bedagsaamheid niks terug nie, dis daardie ware, onvoorwaardelike liefde van 1 Korintiërs 13. Bedagsaamheid is nie pronkerig nie. Die nie flambojant of uitspattig nie. Dis nie bloot ‘n emosie nie en dit kan nie sommer op Instagram vasgevang word, of op Facebook verwoord word nie. Bedagsaamheid lê opgesluit in klein dingetjies, “liefdes-werkies”, soos die Deense filosoof, Soren Kierkegaard dit noem.
In sy boek “One minute can change a life” skryf Steve Goodier: “What if today you gave yourself permission to be outrageously kind? What if you extended as much good will and kindness as you can possibly muster to every person you meet? And what if you did it with no thought of reward? I’m sure of one thing: it will be a day you will never forget.”
Ek en jy het bedagsaamheid broodnodig. Elke stukkie bedagsaamheid, of ons dit gee of ontvang, maak van my en jou ‘n meteoriet in die donker. Ek dink dis waarna Steve verwys in ‘n onlangse Facebookplasing wanneer hy sê: “Sit die ligte aan op jou aanloopbaan want ‘n engel soek ‘n plek om in jou hart te land…”
Mirna
082 779 0507
Has one comment to “Bedagsaam…”
Baie mooi gesê, Mirna!! Om bedagsaam en vriendelik te wees, kos jou niks…❤️😍🙏🤗