Hoeveel kos ‘n wonderwerk…?

Ek het al baie oor wonderwerke geskryf, want ek glo in hulle – onvoorwaardelik, soos in Coverderm se onderlaag, daardie eerste koppie koffie in die oggend en Stepklas op ‘n Donderdagmiddag.   Ek glo dat wonderwerke gebeur – grotes, kleintjies, onsigbares en sigbares.  Toe my mammie in 1991 met kanker gediagnoseer is kort na ek begin skoolhou het by die EHS, het die dokters haar nie ‘n kat se kans gegee om te oorleef nie, en tog was sy vier jaar later, op my en Schalk se troudag, blakend gesond.

Ja, die wrede siekte het wel skaars twee jaar daarna ons mams van ons weggeruk, sonder dat een van ons sussies haar geheime gemmerbierresep kon neerskryf, sonder dat ons nog ‘n keer, vir oulaas, saam in Ballito se see kon swem en sonder dat sy vir Eswee of Marinè kon ontmoet.  Maar sy was, wonderbaarlik, vier ekstra jare vir ons gespaar.  ‘n Wonderwerk.

Skaars ses maande gelede het elkeen van ons geglo dat dit ‘n wonderwerk sou kos om weer maskerloos te leef, `n groot skare op Wimbledon te sien, die volkslied te hoor weergalm in ‘n volgepakte Loftus, vrylik rond te beweeg en die lewe as normaal te ervaar.  En hier’s ons nou…’n Wonderwerk.

Die eenvoudigste manier om ‘n wonderwerk te beskryf is seker om te sé, “jy wonder hoe dit werk…”  Dis iets buitengewoon wat gebeur – ‘n onmoontlike gebeurtenis wat verwelkom word met vreugde en verligting!

En tog is daar baie mense wat glo dat wonderwerke nie bestaan nie, dat jy slegs na ouens soos die profeet Josua in Lagos kan vlieg as jy ‘n wonderwerk wil sien.  Die Amerikaanse president, Thomas Jefferson, was so sinies, hy het blykbaar in 1804 ‘n skeermeslemmetjie gevat en al die wonderwerke uit die Bybel gesny. (Dit moes hom ‘n rukkie besig gehou het, sou ek sê!)

Maar waarom praat ek vandag al weer oor wonderwerke?  Want ‘n paar dinge het die afgelope paar dae gebeur…Tannie Elsa, ons 86-jarige erelid, stap Maandagoggend babbelend by die studio se deur in.  Sy is so pas terug van haar besoek aan Mongolië en kan nie uitgepraat raak nie.  Sy vertel van die nomadiese leefstyl, die groen gras, en die vriendelike mense, maar sy vertel ook van haar besoek aan een van die tempels, en die Mongoliërs se onwrikbare bygeloof dat, as jy een keer kloksgewys om die Bhuddistiese wenspaal loop, al jou wense gaan waar word…Ag hoe fantasties sou dit wees, man, so ‘n luilekker rondtetjie en dan die geduldige wag vir die wonderwerk, lekker handjies gevou? Mmmm, bietjie te goed om waar te wees…

…Verlede week moes ons Challenge deelnemers die volgende aanhaling stuur vir ‘n ekstra punt: “The moment you’re ready to quit is usually the moment before a miracle happens.  Don’t give up…”

Ina stuur die aanhaling en merk droogweg op: “Ek wag vir daai “miracle” om te “happen”.  Ek tik haar lekker op die vingers en sè: “Ina, het jy vergeet jy’t gistermiddag jou hoogtevrees besweer, op die hoë muur van jul braaiplek geklim, en op een been die groot bal gevang vir jou Mini-Challenge punt?  Wonderwerk se Moses!”

Ek besef elke dag dat daar ‘n bitter fyn lyn is tussen handjies gevou sit, of rustig om ‘n wenspaal stap, teenoor aksie neem en in geloof wag en bid vir ‘n wonderwerk.  Soms moet ons bereid wees om die stuurwiel so bietjie te laat los vir die volmaakte wonderwerk om te gebeur.  En ander kere moet ons ‘n tree of twee gee, in geloof.  Soos met die storie van klein Tessa wat ek gister ontdek in ‘n stokou “Lig”-tydskryf:

Tessa was agt jaar oud toe sy hoor hoe haar ma en pa oor haar klein boetie Andries praat. Al wat sy geweet het was dat hy baie siek was en dat hulle glad niks geld gehad het nie. Hulle moes na ‘n woonstel verhuis omdat haar pa nie meer geld gehad het om die dokters en die huis te betaal nie. Net ‘n baie duur dokter kon haar boetie se lewe red en daar was niemand wat bereid was om vir hulle die geld te leen nie. Sy het gehoor hoe haar pa vir haar ma sê dat net ‘n wonderwerk haar boetie kan red.

Tessa het na haar kamer gegaan, ‘n konfyt botteltjie uit die wegsteekplek uit haar kas gehaal, en al die geld wat binne in was op die vloer uitgegooi en versigtig getel.   Daarna het sy by die agterdeur uitgeglip en na die apteek op die hoek gestap.

“Wat wil jy hê?”, wou die apteker ongeduldig weet, terwyl hy die gesprek met sy broer wat kom kuier het, onderbreek.

“Ek wil met oom gesels oor my broer”, antwoord Tessa in dieselfde geïrriteerde stemtoon as die apteker.  “Sy naam is Andries, en hy het iets slegs wat in sy kop groei en my pa sê slegs ‘n wonderwerk kan hom red.  Ek wil ‘n wonderwerk vir hom koop, Oom.  Hoeveel kos ‘n wonderwerk hier by julle?”

“Ons verkoop nie wonderwerke hier nie, meisie, ek is jammer ek kan jou nie help nie”, het die apteker in ‘n baie sagter stemtoon geantwoord.

Die apteker se broer, ‘n welgeklede middeljarige man, was ontroerd deur die klein meisie se pleidooi.  Hy het om die toonbank gestap, by Tessa gehurk en gevra: “Hoeveel geld het jy by jou?”

“Tien rand en vyf-en-vyftig sent”, het Tessa geantwoord, skaars hoorbaar.  “Wel, wat ‘n toevalligheid is dit nou nie”, het die man geglimlag.  “Tien rand en vyf-en-vyftig sent – die presiese prys van ‘n wonderwerk vir klein boeties…”

Hy het Tessa se geld in die een hand geneem en haar hand in die ander en gesê: “Neem my na waar julle bly.  Laat ons kan sien of ek die soort wonderwerk het wat jy benodig…”

…Die man was ‘n neuro-chirurg en het binne ‘n paar dae die operasie kosteloos uitgevoer – nie lank daarna nie was Andries terug by die huis en blakend gesond.  Tessa se pa het een aand, lank daarna, bespiegel oor die onkostes van die operasie.  Tessa se ma het gefluister: “Daardie operasie was ‘n wonderwerk.”

Maar Tessa het geglimlag, want sy het presies geweet hoeveel ‘n wonderwerk kos – tien rand en vyf-en-vyftig sent en ‘n reusetree dapperheid.

Hier is daai fyn lyn waarvan ek gepraat het – Tessa kon so ‘n paar keer kloksgewys om die lamppaal in die straat geloop het, en gehoop het vir die beste.  Of sy kon haar kop snikkend onder haar kopkussing begrawe het.  Sy het nie…

Ons kan ongelukkig nie, soos Tessa, ons wonderwerke koop vir tien rand en vyf-en-vyftig sent nie.  Maar, soos Tessa, kan ons ook nie net droom van wonderwerke en handjies gevou sit nie.  Die lewe vra bietjie meer van ons – planne maak, groei, leer, vooruitgaan. 

“When you need a miracle, be the miracle”, het Steve Jobs gesê.  “You need to do something different to expect a miracle”, het die Russiese pastoor, Sunday Adelaja onlangs bevestig.

“Then, your transformation will be the miracle”, beaam die Amerikaanse skryfster, Holly Lynne Payne, in haar boek “The Kingdom of simplicity.”

As iets die moeite werd is om te doen, is daar ‘n wonderwerk opgesluit, selfs in die neem van die eerste tree.

Mirna

082 779 0507

Has one comment to “Hoeveel kos ‘n wonderwerk…?”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. rethia says:

    Sjoe Mirna….. lekker loop die trane nou….. dankie, ek het díe nou nodig gehad!
    R10.55c se geloof het ek…., want wonderwerke is ‘n werklikheid, wat ons soms in ons daaglikse doen en late van vergeet!