Die slim ouens, én ek, sê dat klasse soos Step en Cardio Fun Alzheimer se siekte voorkom, omdat dit konsentrasie aanwakker en die brein se grysstofvolume stimuleer. Almal wat hierdie klasse gereeld bywoon sal saamstem, jy kan nie bekostig om te beplan wat jy vir aandete gaan maak of wat jy nodig het by Pick ‘n Pay nie, jy kan jou nie bekommer oor die kinders of wonder wanneer jou tandartsafspraak is nie, nee gedurende daardie 45 minute, kan jy aan niks anders dink as die volgende beweging van die roetine nie…
…Party kere is dit moeiliker as ander om te fokus. Want dink kán ons almal mos baie goed doen – bedink, uitdink en oordink. Hoe dan ook anders? Met gemiddeld 6000 gedagtes per dag, is ons mense heeltyd aan’t dinke.
Dis Mark Twain wat meer as 100 jaar gelede al opgemerk het: “What a wee little part of a person’s life are his acts and his words! His real life is led in his head and is known to none but himself. All day long, the mill of his brain is grinding, and his thoughts, not those other things, are his history…”
“All day long”, skryf Mark Twain, maar van ons beste gedagtes, idees en oplossings bedink ons mos juis in nagtelike wakkerlê ure. En hoe kan die slaap mens nie soms ontwyk wanneer jou koppie so oortyd werk, en jy jou dinke lê en dink nie.
Maar laat ons glad nie vandag vergeet van die ligter, dromerige kant van dink nie, daardie lekker tye wanneer jy jou gedagtes vrye teuels gee! Soos die kunstenaar Herman van Veen dit kostelik beskryf in sy kinderboek “In jou gedagtes”:
“In jou gedagtes kan jy orals wees, in die hemel sonder om eers dood te gaan, en hop-hoppetie-hop oor die Himalajas. In jou gedagtes kan jy wees net wat jy wil, en ook alles word. Soos ‘n walvis wat kan vlieg. Of ‘n rob wat kan lees. In jou gedagtes kan jy doen wat jy glad nie kan doen nie. Jy kan hê net wat jy wil, en begryp wat jy nie verstaan nie. En weet dat die tyd net ‘n grappie van die son is.”
Ons weet egter, die realiteit rondom ons gedagtes is nie heeltemal so eenvoudig nie. Maar Mark Twain is reg, dis ‘n feit – ons gedagtes bepaal eintlik ons hele lewe – en in ons koppe word ons so dikwels ons eie grootste vyande en boelies…Wanneer jy dink dat jy waarskynlik nie ‘n kilogram kan verloor gedurende die Fitness Challenge nie, dan sal jy waarskynlik nie. Wanneer jy dink dat dit onmoontlik sal wees om sonder pynpille te leef, dan sal jy waarskynlik in der ewigheid nie loskom daarvan nie. En wanneer jy dink dat jy niks het om te bied nie, dan sal jy waarskynlik nooit ‘n verskil maak nie.
Elke een van ons kan getuig van uitdagings wat ons al in ons gedagtes gewen of verloor het.
In haar artikel “Using your thoughts to change your life and the world” skryf Lynne McTaggart dat menslike gedagtes en intensies ‘n fisiese “iets” is, met ‘n merkwaardige krag om ons wêreld te verander. Elke gedagte wat ons het is tasbare energie met die mag om te verander.
Ek is nie altyd mooi seker of my Challenge-lede om die regte redes na die weeklikse motiveringsvideo kyk wat ek Sondae stuur nie – bedoelende. of hul net soek na die versteekte ekstra puntjies, en of hul soms tyd maak om mooi daarna te kyk en te luister en dalk ‘n brokkie inspirasie put uit dit wat ek weekliks met soveel sorg aanmekaar slaan. Ek weet nie, maar ek weet dat ek verlede week, op die vooraand van week 12, wou hê dat hul hulself net bietjie op die skouer moes klop vir ‘n fantastiese klomp weke, tot dusver. Ek het nooit iemand hoor kla oor ‘n klas in die koue, donker oggende nie, of iemand hoor grom dat ‘n Mini-Challenge te veel gevra is, of dat vier klasse ‘n week onmoontlik is in die Wintervakansie nie.
‘n Mens sien nie regtig videosnitte van mense wat hulself in die openbaar bedank nie, maar toe ontdek ek ‘n 2018-YouTube video van die kunstenaar Snoop Dogg. In hierdie video lewer die bekende kletsrymer sy toespraak nadat hy ‘n ster op die Hollywood “Walk of Fame” ontvang het. Hy sê:
“Last but not least I want to thank me for believing in me, I want to thank me for doing all this hard work. I want to thank me for having no days off. I want to thank me for never quitting. I want to thank me for just being me at all times.”
Voorbarig en arrogant, wil ons dink met die eerste oogopslag. Maar eintlik sê Snoop Dogg net hardop wat elkeen van ons meer dikwels behoort te dink.
Ons hoef dit nie hardop te sê nie, maar ons moet dit dink. Want, dis tyd dat elkeen van ons met die grootste Mooi voor ons gedagtes gaan staan.
Luister net hoe fyn beskryf Tania Smit “dink”:
“Daar is net een plek in die hele wye wêreld wat net aan jouself behoort, en dis jou kop – jou gedagtes. Mens se hart is soos ‘n wilde woestynperd, wat jou op looptou neem agter liefde en pyn en geluk en teleurstelling aan, met jou wat met die beste wil in die wêreld agterna moet kom. Want ‘n hart laat hom nie voorsê nie, dis jou voel. En dis okei.
En mens se lyf is ‘n uitleen – vir werk, en kinders liefhê, en manne ondersteun, en gunste doen en mense aanry en kos maak en oefen en die lewe leef.
Maar jou kop is jou dink…JOU dink. Dis jou plek van vrede, jou plek van rus, jou ruimte. En dis jou plek waar jou Glo begin (of eindig). Daarom, vergewe jouself, prys jouself, droom mooi van vorentoe, en gaan saggies met jouself om. Lewe.
Plant ‘n blomtuin in jou kop, een wat mooi maak, en lekker voel, en geluk bring. En wat jou meer laat word, nie minder nie.” Dis mooi, né!
…Mag jy jou gedagtes vrye teuels gee.
Mag jy weet dat jy ‘n verskil kan maak.
Mag jy glo dat jou gedagtes jou wêreld kan verander.
Mag jy in die argiewe van jou gedagtes stukkies geluk vind.
Mag jy elke dag meer word, niks minder nie..
Mag jy eendag ‘n Stepklas bywoon.
En mag jy altyd aan’t dinke bly.
Mirna
082 779 0507
2 comments to “Aan’t dinke”
Baie mooi gesê, Mirna! Mag ek van nou af en altyd net ń blomtuin groei instede van onkruid gedagtes…..
May my “committee” always be in sync…., especially when it is something for the better…..!