WOW

‘n Winter vol “WOWs”

Ek weet, ek weet…Ek weet die korrekte Afrikaanse woord vir “wow” is sjoe, maar in die lewe propvol wonderlike wow-oomblikke, is “sjoe” doodeenvoudig net te lig in die broek.  Ek meen, ek sê “sjoe” wanneer ek in ‘n goeie bui is wanneer die krag ontydig afgaan reg in die middel van ‘n stepklas!

“Wow”, fluister ek kliphard binnetoe verlede Vrydagaand toe die kragtige Safair-Boeing se wiele ligvoets die aanloopbaan verlaat, die miljoene stadsliggies binne oomblikke in klein vuurvliegie-spikkels verander en ek skaars ‘n uur en veertig minute later vir Zander en Mariné omhels in Kaapstad.

“Wow”, snak my asem toe die vriendelike winkelassistent Saterdag, daar by die mooie Wedding Boutique naby die Waterfront, Mariné se droomrok vir die eerste keer oor haar fyn lyfie glip.

“Wow”, jubel my hele wese toe ons twee blondies Dinsdagaand hierdie WhatsApp vir my en Schalk stuur…

WhatsApp van die twee blondies

“Wow”, pronk my borskas van trots toe ek Vrydagmiddag by die studio kom en Carien, Jacqueline, Michelle en Janke daar aantref, kliphard aan die oefen vir hul “Group fitness” FitPro praktiese eksamen die volgende dag.  En hul het die soete vrugte gepluk, dubbel en dwars – almal het met vlieënde vaandels geslaag!

Carien, Jacqueline, Michelle en Janke

“Wow”, glimlag my hart van oor tot oor na week 2 van ons Winter Challenge, en die ywer en entoesiasme van al die 85 deelnemers sover!  Dis fantasties!

Vir ons studio was daar die afgelope week twee groot “wow”-momente.  Ons YouTube-kanaal het vir die heel eerste keer die 30 000 ure merk gehaal – in eenvoudige taal beteken dit dat die wêreld nou al 30 000 ure lank na ons oefenvideo’s gekyk het, of, hopelik vir 30 000 ure saam geoefen het!

Verder het ek, na ‘n lang Zoom-vergadering met Lee en Nerice van FitPro, die groen lig gekry om van nou af self potensiële instrukteurs op te lei in ons eie studio!  Wow!

Dis doodeenvoudig onmoontlik om hierdie asem wegslaan, hoendervleis, lam knieë, voel-of-ek-sweef-knyp-my-kan-dit-wees oomblikke af te maak met ‘n doodgewone “sjoe”.

…Die woord “wow” IS Engels, maar dis amper meer ‘n geluid as ‘n woord.  Dit is eerder ‘n versamelklank wat reg laat geskied aan momente van verstomming, verrukking en verwondering wat ons lewens inkleur.  Volgens die aanlyn Etimlogie Woordeboek is “wow” van Skotse herkoms, en dateer al die pad terug na die 16de eeu!

Ons almal ken die bekende gesegde dat die lewe nie gemeet word aan die aantal asemteue wat ons neem nie, maar aan die oomblikke wat ons asem wegslaan.  Ek dink onwillekeurig aan Izelde se sonsopkoms foto oppad studio toe ‘n paar weke terug… 

Izelde se sonsopkoms foto oppad studio toe

En Rethia se sonsondergangfoto een middag voor stepklas…

Rethia se sonsondergangfoto

Die Amerikaanse digteres Alice Fulton het onlangs opgemerk: “While you’re alive there’s no time for minor amazements.”

Wow…Het ons nie almal nodig om maar so af en toe net weer herinner te word aan die “wow”-dinge om ons nie?  Om net weer bietjie grootoog te kan sien, ruik, proe en voel, asof vir die eerste keer.  Weer bietjie opgewonde te raak oor die klein dingetjies, en veral nie toe te laat dat die goor dae ons lewensvreugde steel nie.

Jip, ek sê veral in vet letters, want vandag behoort ek myself so bietjie op die vingers te tik – ek is skuldig presies hieraan.  Die super-bloedmaan van Mei 2022 het hierdie week heeltemal by my verby gegaan, en dit net oor my kredietkaartdrama.  Maandagoggend bel Nedbank – hulle vra of ek ‘n transaksie van R6444 by ene Samsung Electronic aangegaan het…Ek sê”nee”, hul beveel aan dat ek my kredietkaart onmiddellik stop, en belowe om my deur te skakel na die bedrog-afdeling.  Maar “deurskakel” in bankterme beteken mos “ons sny jou summier af probeer maar weer terugbel, en teen die tyd dat ek ondersoek instel op my banktoepassing, is my kredietkaart reeds gestroop.  R0 is my balans, met ‘n vet syfer in die rooi – daardie transaksie van R6444 het sommer sewe keer woerts na mekaar afgegaan.

Hul’t als gevat wat hulle kon.  Dié gedoente was omtrent al waaroor ek hierdie hele week kon praat en dink en tob en protesteer, en wonder…hoe het dit gebeur?  En gaan Nedbank ooit die geld terugbetaal, het ek teen Vrydag nog gewonder?  (Na duisende skietgebedjies en honderde oproepe, het ek Saterdagoggend uiteindelik gesien die fout is reggestel…) 

…Wat op aarde is die teenoorgestelde van “wow”, dink ek skielik.  In Engels is dit alas, aw of boo.  In Afrikaans is die mooiste woord waaraan ek Maandag kon dink…”bliksem”.  Maar “sjoe” is seker beter.  (Sien, dis waarom dit nie “wow” ook kan wees nie.)

Ek het daarom besluit om hierdie Sondag juis oor al my “wow’s” te jubel, bloot om hierdie “bliksem”/”sjoe”-ding wat my so onverwags betrap het, te troef. 

Darren Hardy stel dit so mooi in sy boek “Jumpstart your life”.  Hy sê: “In all areas of your life, look for the multiplier opportunities where you can go a little further, push yourself a little harder, last a little longer, prepare a little better, and deliver a little bit more.  Find as many opportunities for “wow” as you can, and the level and speed of your accomplishments will astonish you…and everyone else around you…”

En daarom verklaar ek, op hierdie 22ste dag van Mei, dat hierdie winter, wat nou in volle vaart op ons is, vol “wow-wonder-werklikhede” gaan wees.

Al is als kamma-dood.  Al sê die doemprofete dat dit die koudste winter in 100 jaar gaan wees.  Al wen die Blitsbokke nie al hul wedstryde nie.  Al moet ons nog maskers dra.  Al skyn die son nie elke naweek nie.  Al kos brandstof ‘n fortuin.  En ja, al is elke dag nie maanskyn en rose nie .

…Dit gaan van my en jou afhang hoe ons gaan terugkyk op die winter van 2022 – dik, moedeloos, verkluim en de bliksem in? Of dankbaar, fiks, vervuld en propvol sjoes.

Mirna

082 779 0507

5 comments to “‘n Winter vol “WOWs””

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Rethia says:

    Sjoe, só spesiaal Mirna💐

    • Colette Barnard says:

      Dit is gelukkige tye vir jou! My gemoed voel ligter na ek dit gelees het. Pragtig!

  2. Rialette says:

    Ek moet verseker meer kere “sjoe” sê ipv “my goeie bliksem” ….dankie hiervoor.

  3. Esmarie Botha says:

    W O W ! ! !

  4. Susan says:

    What a wow”story Mirna, you really live this word, congratulations to Carien, Michelle and Jacqueline on their achievements, God is Great!!! 🙏👌😍