Die Papegaai se storie moes al lankal geskryf word, maar daar het net elke week eers iets anders voorgeval…
Daar was nog altyd hierdie prentjie in my kop van ‘n foto op ‘n regte egte treinspoor vir ons Winter Challenge se bemarkingsveldtog – daardie bekoorlike, uitgerekte ysterbaan wat met soveel belofte die verte in kronkel, is vir my so bietjie simbolies van die 13 week-reis van ons Challenge. Dit hou daardie tikkie onsekerheid in, maar in dieselfde asem soveel belofte vir mooi toekomsdrome! En toe word my droom waar, want ons het ‘n bekwame fotograaf, Jana, en, Michelle en Riaan het die mooiste treinspoor op hul pragtige plaas…
So is ons, dis nou Jana, ek, Carien, en Jacqueline, met Michelle agter die stuur van hul 4×4 bakkie, een lieflike Vrydagmiddag in April plaas toe, gepantser met balle en Rebounders en gewigte en kameras en toerusting en lipsiffie en splinternuwe Sweatgear broeke. Michelle het vooraf gewaarsku, dis net die 4×4 Ford Ranger, en natuurlik Die Rooi Papegaai, die Jansen van Rensburgs se windgat Beach Buggie, wat ons ongehinderd deur die nat spruitjie sou kon bring. Vir ons doeleindes sou die Rooi Papegaai nie daardie dag werk nie, tensy ons bereid was om pikswart van die modder anderkant uit te kom…Ons was in goeie hande, want Michelle het nog nooit met die bakkie in die berugte spruit vasgesit nie. Never say never, né?
Om ‘n baie lang storie bietjie korter te maak – daardie Vrydagmiddag hét ons vasgesit – daar’s mos ‘n eerste keer vir alles – maar ek dink nie dit was Michelle se bestuursvernuf wat haar in die steek gelaat het nie. Ons kan dit definitief toeskryf aan die abnormale swaar vrag! Ons het nie net vasgesit nie, ons het daardie wit bakkie meters diep BEGRAWE onder die modder. Gelukkig het Riaan en die buurman tot ons redding gekom – ons is vooruit met die Rooi Papegaai, en Riaan was binne ‘n paar minute byderhand met ons vrag in die Ford Ranger – dié het natuurlik gelyk asof hy ‘n smerige Muddy Warrior race agter die blad het.
Die petalje was ‘n heerlike, onverwagte ysbreker, en Jana het die mooiste foto’s geneem. Ons het dae agterna nog lekker saam gegiggel oor die klein krisis wat eintlik ‘n groot Rooiletterdag vir elkeen van ons geword het.

Jy sien, ‘n mens kry krisissies, jy kry “krisisse” in aanhalingstekens, en dan kry mens krisisse en…KRISISSE. My “krisis” in aanhalingstekens het ook onlangs, nie so lank gelede nie, kop uitgesteek. Dalk was dit meer soos ‘n klein misverstand…
…Dit was ‘n Woensdagoggend in Maart, en ek het niksvermoedend by die huis voor my rekenaar gesit toe Schalk bel, hoogs bekommerd: “Wat is jou krisis, Mir, wat gaan aan? Wat is daar wat jy my nie vertel het nie?”, wou hy onrustig weet. Uit die veld geslaan het ek hom probeer gerusstel dat ek regtig onbewus was van ‘n krisis in my lewe…(jul weet ek haat die M-woord, maar ek gaan dit vandag MOET aanwend om die identiteite van my vriendinne te beskerm…😅)
Schalk het verduidelik dat “M”, diep besorg, vir Ronel en Berdine gebel het, nadat ander “M” vir haar gesê het ek het ‘n krisis…🙈Uit die aard van die saak het my twee skoonsussies uitgereik na Schalk want hul was bekommerd. Ek kon glad nie die krisiskluitjie by die oor uitbring nie, totdat ander “M” daardie middag toevallig laat val, ‘ek sou trots wees op haar want sy het Power Pump-klas bygewoon’.
Dis toe dat die krisisding in plek val. Ander ander “M” het verduidelik aan die lede dat die opname nie kan voortgaan nie want ek het ‘n “krisis”. Dié “krisis” in aanhalinstekens was dat ons GoPro-kamera in my kantoortjie toegesluit was en Schalk lughawe toe is om Mariné af te laai – en die kantoorsleutel is aan die motor se sleutel. Natuurlik was al die lede salig onbewus hiervan, en my afwesigheid op die verhogie het “M” en ‘n paar ander lede onrustig gestem. Eintlik het ek sommer net die geleentheid benut om die middag af te vat en vir die eerste keer in ‘n lang tyd ook nie die volgende oggend vroeg oopgesluit nie. Vir “M” was dit egter ‘n bevestiging – Mirna het ‘n krisis.
Ek weet “M” en ander “M” en ander ander “M” en Berdine en Ronel gaan nie aanstoot neem oor hierdie Blog nie, want dit gaan alles oor omgee, en hoe bevoorreg is ek dat daar soveel mense is wat begaan is oor my welstand.
Die Amerikaanse digter Henry Wadsworth Longfellow het jare gelede gesê: “Thy fate is the common fate of all; into each life some rain must fall, and some days must be dark and dreary.”
Al was my “kamera-krisis” nie ‘n regte krisis nie, is dit ongelooflik om te weet dat daar vriendskap en kameraderie en omgee is in ‘n krisis, hoe klein of groot. Dit laat my dink aan IL de Villiers se vertelling in sy boek “Wat dra my deur ‘n krisis?”
“’n Britse soldaat wat op die strand by Duinkerken vasgekeer was, is na hy weer veilig in sy vaderland terug was, oor hierdie verskriklike krisissituasie ondervra: ‘Wat het jy gevoel toe jy daar so oop en bloot op die sand gestaan het, met die diep blou see voor jou, die Duitse troepe agter jou en die Duitse vliegtuie bo jou?’
“Ek het ‘n vreemde gevoel gehad’, het hy geantwoord. ‘Ek het gevoel dat elke soldaat op die strand my broer was.’” “Daar is broederskap in lyding, en in hierdie broederskap lê dikwels die krag om te oorwin in die krisis, wat dit ook al mag wees”, skryf Izak de Villiers. Feit is, vriende het ‘n verbintenis tot ons geluk, en wil daar wees in ons ongeluk.
Maar ek het ook van voor af besef, as ons nie gaan sê nie, gaan hulle nie altyd weet nie, en dan gaan hul nie altyd kan uitreik nie. Die afglope week moes Helen en Michelle en Jacqueline en Carien en Annelize bontstaan want ek het herstel van ‘n klein kniekrisis – hoe bevoorreg is ek dat die studio se roetine glad en onverpoosd kon voortgaan. Dankie julle!
…Een of ander tyd beland elkeen van ons in ‘n regte KRISIS, want dis die lewe. Dit vat net een ongenaakbare insident, een hartverskeurende ontdekking, of een berg van teleurstelling om ons te kom platslaan. Want ons is almal net mense.
Ons moet dan die telefoon kan optel en hulp vra. Of ‘n WhatsApp stuur, of ry en sê ons soek tissues en koffie. Ons moet dit kan doen, kan raad vra, en die mense om ons toelaat om soos ‘n wolk onder ons te kom saampak en ons op te lig.
Hoor net hoe mooi beskryf Nataniël dit in sy Kaalkopboek: “As die wa vasval, moet jy afklim. Daar kom altyd weer een verby. Trots dra jou deur baie, onafhanklikheid vat jou ver, hardegatgeit selfs bietjie verder, maar op ‘n dag wys die lewe jou iets wat jy nie ken nie. Daar is mense met wysheid, ander met geduld, ander met deernis, liefde en gebed wanneer ons s’n tekort skiet. Jy moet net vra.”
Mag jy hierdie winter elke klein krisis in ‘n Rooiletterdag omskep, nie voel dat jy heeltyd alleen jou kasteel moet bou, jou vlag alleen moet waai en net oor jou eie koninkrykie wil regeer nie. Dit het ‘n “krisis” in aanhalingstekens gekos om die uitgestrekte hande om my raak te sien. Dit, en ‘n rooi papegaai…
Mirna
082 779 0507
Has one comment to “Die Rooi Papegaai”
Baie mooi stuk. Ek het dit geniet!