Ma, Maarder, Skoonma…

Vrydag was nie net Goeie Vrydag oor ons Paasfees gevier het nie – dit was die heel beste Vrydag ooit.  Vroeg Vrydagoggend het Reinette, Zander se mams, my herinner: “Vandag is die GROOT dag, en Neis vermoed niks…”

Ek is nie baie goed met geheime nie.  Meeste van my oefenmaats weet teen hierdie tyd van Zander en Mariné se trouplanne en datum, maar ek belowe – oor die verlowing se datum en die ring en die detail het ek geswyg soos die graf.   Ja, Reinette het my Februarie al vertroulik ingelaat op die groot geheim en wat Zander alles beplan.  Hy wou die verlowing ‘n verrassing hou, en het daarom die afgelope agt weke haar elke naweek trakteer met ‘n bederfuitstappie – en elke Saterdag het sy gedink “vandag is die dag.”

Toe Zander vir Mariné daarom Vrydag 10uur oplaai onder die voorwendsel van ‘n stappie by Coetzenburg, was sy niksvermoedend.  Die twee het Nagmaal gevier by die houtkruis hoog teen die spits van Stellenboschberg, en daar, tussen die kankerbossies en wilderoosmaryn, het hy uiteindelik die mooiste ring aan haar vinger gesteek.  En nou is dit amptelik – 4 November vier ons bruilof en ons word ‘n seun ryker.  Vir my is daar vandag geen groter blydskap as om Neis se ogies so te sien blink nie…

…Tydens ons onlangse skoolreünie sê Sannie-Esther: “My seun trou 5 Mei, so ek word nou ook ‘n skoonma.”  Ek het so bietjie koue rillings gekry…Sien, dis my ma wat baie jare gelede hierdie saadjie van die skoonma-ding my kom plant het.  Die dag toe ek en Schalk verloof geraak het, was daar nie Facebook of WhatsApp nie, maar sy het almal gebel en gesê: “Ek word ‘n laaitie ryker”.  Sy’t geweier om na haarself as ‘n skoonma te verwys, en al het sy vir Schalk net drie jaar geken, was hy haar laaitie…

Schalk en my ma het ‘n besondere verhouding gehad, en ek weet vir hom was sy ook soos ‘n ma.

Ek moet sê, ek het nog nooit van die woord “skoonma” gehou nie – dit val regtig net nie lekker sag op die oor, of die hart nie.  Die woord “skoonma” laat my dink aan ‘n ongedurige mens, so asof jy die duiwel se eie sussie bykry in jou lewe.  En nou, in my geval ook, die duiwel se sussie word!

Hanlie merk gister op: “So interessant hoe vinnig die era verander waarin gesinne hulle bevind – sommer nou die dag nog was almal op skool, toe studentelewe, en nou is dit al troues.”

Ja, ek moet myself ook kort-kort knyp.  Dit voel soos nou die dag wat Mariné ‘n vuurvliegie in die balletkonsert was, vir die eerste keer “R” gesê het en saam met Eswee op my skoot gesit  het– twee skaam blondekoppies.  Nou raak al ons kinders se maats verloof en Tjoppie het al ‘n babaseuntjie.  Net Vrydag vertel Nicole dat sy en Eswee amper ses troues in die volgende ses maande gaan bywoon!

En is dit nie ironies nie – biljoene der miljoene mense het al verloof geraak deur die eeue, maar die dag wat dit met jou eie kind gebeur voel dit asof hul verlowing die eerste een in die geskiedenis is, en al die opwinding wat gepaard gaan met rok kies en beplan en droom laat mens amper voel of jy self van voor af trou.

Maar vandag se storie gaan regtig nie net oor ons Bothmatjies en Rossouws se blydskap nie – nee, hierdie skrywe wil ek sommer opdra aan al die skoonma’s wat elke dag in my klas is of wat hierdie Blog graag lees. 

Ek wil eintlik sê dankie vir die ongelooflike mooi voorbeeld wat jul stel…Die skoonma’s wat ek ken koop vir hul skoondogters oefenklere, hou saam met hul vakansie, draf graag saam, pas met liefde hul kleinkinders op terwyl hul skoondogters kom oefen, en is rolmodelle vir hul skoonkinders.

Eintlik dink ek dat die dae dat “skoonma” vir duisende mans en vrouens ‘n vloekwoord is, regtig getel is.  Laat my dink aan die seuntjie wat vir sy ouma aan moederskant vertroulik in die oor fluister hoe bly hy is sy’t kom kuier.  Hy fluister: “Nou gaan Pappie ‘n toertjie doen wat ek self nog nooit gesien het nie, Ouma.”

“Wat is dit my kind?”, wil die ouma weet.  “Ouma, Pappa het vir Mamma gesê as Ouma weer kom kuier, klim hy teen die mure uit…”  Ek wonder waarom dit juis skoonma-grappies is wat as een van die staatmakers van komedie bestempel word? (Daar is 29 miljoen trefslae as jy dit Google.)  Is die wêreld regtig nog so vyandig gesind teenoor ons skoonma’s?

Nee wat, dis lekker om te sien dat die ‘monster’-bordjie nie meer outomaties om ‘n skoonma se nek gehang word nie, en verby is die dae dat kinders nie meer veronderstel is om van hul skoonma’s te hou nie.  Ek sien en ervaar hoe Reinette vir Mariné lankal aanvaar het asof sy haar eie dogter is, en soveel te meer het ek gemoedsrus in die wete dat Zander en Mariné hul daar doer in die Kaap wil vestig.

…My ma het van Schalk gehou lank voordat sy sy skoonma geword het.  Ek en Zander en Nicole het van mekaar gehou lank voordat daar `n “skoon” vooraan ons verbintenis gaan kom staan.  En dis ‘n verskriklike groot voorreg.

Ek wil daarom vandag ook graag kom hulde bring aan my ander Ma, Ma Nellie.  Ons het nooit mekaar se drumpels deurgetrap nie, maar ons het ook selde koppe gestamp.  Ons verhouding is nog altyd gekenmerk deur respek, omgee en deernis.  Sy is ‘n wonderlike ma en ‘n fantastiese ouma.  Ma Nellie het vir Schalk groot gemaak en ek het myself deur die jare nog altyd probeer herinner dat God haar ‘n pertinente posisie in sy lewe gegee het.

Soos die Indiese skrywer Amit Kalantri skryf in sy boek “Wealth of Words”: “A mother gives you a life, a mother-in-law gives you HER life…”

Iemand het eenkeer gesê: “There is no way to be a perfect mother-in-law, but millions of ways to be a good one.”

Ek gaan hierdie woorde op my hart dra en altyd onthou, maar eers gaan ek ‘n laaitie bykry!

Geseënde Paas Sondag, vanuit ‘n bibberkoue Ermelo.

Mirna

082 779 0507

PS: Volgende naweek is ek en Schalk en Eswee en Nicole en Zander en Neis vir die heel, heel eerste keer saam in die Kaap, so daar gaan verseker nie ‘n Blog wees nie!

Has one comment to “Ma, Maarder, Skoonma…”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Karen says:

    Hi Mirna
    Baie geluk!!! Dis voorwaar groot opgewondenheid en so waar dat as dit jou eie kind is dan is dit sooooo spesiaal.
    Ons hou ook bruiloft die jaar, my oudste Seun en nuwe toekomstige Liefding dogter trou 1 Oktober.
    Geniet elke oomblik van die beplanning. Jul kan Baie trots wees.
    Xxx