Teen die tyd dat jy hierdie skrywe lees, het die meeste stof rondom die Will Smith-oorveeg lankal gaan lê. Maar dit het die hele week by my gespook. Eers was ek verontwaardig, amper eintlik kwaad vir Will oor sy gedrag…Schalk het bly skerm vir hom en gesê ons ken nie al die feite nie, maar een ding is seker – as ons ooit enigsins getwyfel het in die sterk betekenis wat skuil agter die idioom “’n klap in die gesig”, dan is dit na Sondagaand se 94ste Oscar-toekennings behoorlik uit die weg geruim…
Iemand merk op, “As dit nie was vir die Will Smith-klap nie, het die Oscars in elk geval ongesiens by my verby gegaan.” Ek self het ook nie mooi tred gehou nie, maar teen vanoggend is die berugte video waarin akteur Will Smith vir Chris Rock ‘n tamaai, taai, vet klap gee, op daardie verhoog, al meer as 16 miljoen keer op YouTube gekyk.
My oupa het altyd gesê: “Jy draai net die ander wang as jy nog ‘n keer gebliksem wil word”, maar Oupa het die Tweede Wêreldoorlog oorleef, en my ma het gesê Oupa was daarna net nooit weer dieselfde nie.
As mens kyk met hoeveel waardigheid Chris Rock daardie onverwagse veeghou hanteer het, sou ons amper dink hy was ook van plan om die ander wang te draai. Maar agterna besef ons die man was bloot net te geskok vir woorde – Rock het tydens die prestige geleentheid grappenderwys verwys na Will Smith se kaalkop vrou, Jada Pinkett Smith, en haar GI Jane genoem – onbewus van haar stryd met alopesie (‘n immuunsiekte wat haarverlies tot gevolg het).
Die ergste van alles is dat dit intussen aan die lig gekom het dat Chris Rock nie eens die teks uitgedink het nie, die sêding was die programvervaardigers se idee, en die ander ding wat my pla, is dat Will Smith aanvanklik net so lekker saamgelag het vir die “kwinkslag”…
…Sedert die opspraakwekkende voorval het duisende memes, grappies en spotprente die lig gesien, en vurige debatte het intussen uit die gebeure voortgevloei – was Will Smith se optrede geregverdig? Of was hy totaal buite perke om sy humeur so te verloor?
My plek is nie om kant te kies nie, maar ek kan nie anders as om saam te stem met akteur Jim Carey nie: “That video is going to be there forever, and it’s going to be ubiquitous. That insult of Smith is going to last a very long time…”
Ons ken almal die wyse woorde, “Daar is vier dinge wat nooit ongedaan gemaak kan word nie – die klip nadat dit gegooi is, die woord nadat dit gesê is, die geleentheid nadat dit misgeloop is, die tyd nadat dit verby is”, en ja, jammer Will, daar’s ‘n vyfde ding – die klap nadat dit uitgedeel is…”
Vir jare reeds is ek ‘n vurige aanhanger van Will Smith – sy motiveringsvideo’s en aanhalings het ek al tot vervelens toe in my Challenges gebruik om lede aan te spoor. Dis seker te verstane dat Will se optrede ons respek vir die ou geknou het, en dit staan kop en skouers uit bo die blye feit dat hy Sondagaand sy heel eerste Oscar-toekenning ontvang het. Vir lank gaan ons net die klap onthou, saam met die kru taal waarmee hy Chris Rock luidkeels toegesnou het ten aanskoue van die hele wêreld.
Jip, ek was op die punt om Will Smith af te skryf, toe lees ek hierdie aanhaling van die Italiaanse aktrise, Jessica Moore, raak: “Behind every trigger is a wound in our past.” Ek besef Schalk is reg, ons ken nie die hele storie nie.
Dis net hartseer om te dink dat ons dalk volgende jaar hierdie tyd nie Will Smith se krokodiltrane en uitgerekte verskonings gaan onthou nie, net die vet, taai klap. Maar mens weet nooit, ons samelewing is so effe bipolêr – ons lag en huil en maak grappies en kla en droom en raas en raak stil en raak kwaad en vrees en vloek en bid en skel…alles in een dag.
Die Deense filosoof Soren Kierkegaard, het meer as ‘n eeu en ‘n half gelede al opgemerk dat die mensdom deur die kragte van twee pole beweeg word: plesier en pyn. Die soeke na gemak en plesier en die wegvlug van potensiële ongemak en pyn, beïnvloed die rigting waarin ons beweeg. Amper soos ‘n magneet, die een kant trek en die ander stoot.
“Maar dis nie al nie”, sê Kierkegaard, “veral by mense wat hulle lewens as betekenisvol beleef is daar ‘n dieper beweegrede. ‘n Hardkoppigheid om die regte ding te doen ongeag die pyn of plesier wat dit mag inhou. Die vryheid van die individu lê juis daarin om moeilike innerlike keuses te maak te midde van eksterne druk. Selfs ‘n dooie vis kan stroom af swem . . .”
Ons almal se oë is seer geluister, seer gesien, seer gehoor. Ons is op gekyk aan al die seer van die wêreld, seer bekommer oor die oorlog, die brandstofprys, die virus en al die geweld en baklei. Ons kan nie bekostig om nog met mekaar en onsself ook te baklei nie. Die lewe is te kort.
Dalk maan die hele Will Smith-debakel ons almal weer tot selfondersoek. Die hele wêreld braak gal oor daai onvanpaste taai klap, maar is dit maar okei dat ons bure in Petstraat 67A elke naweek klokslag eenuur mekaar verskree totdat die kleuters histeries is? Is Ukraine se geweld regter erger as die geweld in ons huise, net omdat ons dit op die nuus sien? Is Rusland se oorlog belangriker as die oorlog in ons koppe? Maak Will Smith se skande meer saak, net omdat die televisie daarvan praat en Huisgenoot daaroor skryf?
Daardie stryd wat jy voer in jou kop, oor jou gewig, jou egskeiding, jou vervreemde familielid – wat vuur hierdie oorlog aan? Hardkoppigheid? Ego? Selfverwyt? Is al die wroeg en baklei die moeite werd?
Is al die aanstoot werklik, of het dit net in jou eie gemoed ontstaan? Is Pinkett Smith regtig verwond deur Chris Rock se opmerking, of het Will Smith net oorreageer? Dalk som Tania Smit dit die mooiste op in haar onlangse Blog wanneer sy skryf: “Miskien begin oorlog bloot by die onvermoë van een mens om hulle in die skoene van die ander een te sit. Die onvermoë om stil te bly. Te luister. Te dink. Weer stil te bly. Te luister. Te dink. Tot die ander een voel jy hulle kant verstaan…”
Ek en jy, ons moet ophou om onsself so klein soos sandkorreltjies te maak – ons is nie so gering nie. Maar laat ons hard daaraan werk om ander ook nie kleiner te maak, net sodat ons groter en meer magtig kan voel nie. Die taai klappe wat ons uitdeel gaan lê nie altyd in rooi strepe op ander se wange nie – soms is dit ook opgesluit in skerp woorde en moedswillige stilswye.
Will Smith het jammer gesê – vir Chris Rock ook. Ek hoop uit my hart hy’t dit bedoel. Of is hy dalk bang sy goue beeldjie word teruggevat? Vir nou moet ons hom die voordeel van die twyfel gee, en stil bly. Luister. Dink.
In die woorde van Soren Kierkegaard: “I found I had less and less to say, until finally, I became silent, and began to listen. I discovered in the silence, the voice of God…”
Mirna
082 779 0507