Too good to be true

Te goed om waar te wees…

My ouma het altyd gesê: “As iets te goed klink om waar te wees, dan is dit…”  En Ouma was selde in haar lewe verkeerd.  Soos met hierdie kamstige nuwe inspuiting vir gewigsverlies wat nou op almal se lippe is, teen ‘n allemagtige R5000 per maand…”Eet net wat jy wil en sien die vetjies nog steeds wegsmelt”.  Nee, pappieee, daar’s nie kortpaaie nie.

As dit te goed klink om waar te wees, dan is dit.  Gewoonlik.  Behalwe partykeer, wanneer die lewe ons verras met onwaarskynlike ongeflippenlooflikhede wat ons voete onder ons uitslaan en ons opnuut laat besef – die lewe is een groot wonderwerk!

Ons Valentynsdag in die studio was ongeblêrrielooflik, ‘n see vol vrolike, vriendelike vroue en volgepakte klasse van baie vroeg tot laat.  Amper te goed om waar te wees.  Donderdag sien ek die EHS se Valentynsbal-foto’s op Facebook, hoe lekker om weer dié prentjie te kan indrink – ‘n menigte maskerlose tieners, met breë, onspanne glimlagte, opgedollie in die mooiste uitustings, gesellig om ronde tafels!  Te goed om waar te weees!

Die ongelooflike amper-te-goed-om-waar-te-wees dingetjies is eintlik elke dag om ons, maar dié week se Woensdag was die kersie op die koek. Michelle het gesê ek mag hul boorstorie met julle deel. 

Dit het so gebeur…

Woensdagmiddag kom Michelle oudergewoonte vroeg studio toe vir haar Kids Rebounding klas, maar ek sien dadelik die kommer wat oor haar gesiggie geskryf staan.  “Ons boor vandag vir water op die plaas”, verduidelik sy.  “Maar die boor is al amper op 70m, en daar’s nog nie ‘n druppel nie.  Kurkdroog.”

Sy giggel effens verleë: “Ons het nog een opsie.  Riaan het gehoor van ‘n oom in Bloemfontein, wat sommer so oor die foon die water op ‘n mens se grond kan uitwys.  Ek het maar ver gestaan toe Riaan die oproep maak na oom Willem Bester, want die gedoente klink vir my heeltemal te goed om waar te wees…”

“Hou my asseblief op hoogte”, vra ek.  Maar ek raak besig en ons gesprek is by die een oor in en die ander uit.  Dis eers toe ek na 7uur die studio se deur agter my sluit en huis toe ry, wat ek die boodskap sien: “Die water stroom!  Op 17m!  Oom Willem van Bloemfontein se gat!”

Eers dog ek Michelle bedoel oom Willem se ghwar, hul’t water gekry in ‘n ander boorgat, maar nee, die boorspan het duisende liters water raakgeboor presies daar waar oom Willem Bester oor die telefoon vir Raan beduie het.  Al die pad uit Bloem.

En hy was baie presies, het vir Riaan lank laat stap op die plaas, dan regs dan links, seker gemaak dis Riaan se 12uur en die regte Noord, totdat hy op ‘n kol beduie het, “Stop! Gee een groot tree agtertoe met jou regtervoet, nou met jou linkervoet, presies daar, ja, net daar.  Boor. Voor 20m gaan jy ‘n sterk aar kry, dan moet jul dieper boor.  Voor 40m gaan jy nog ‘n aar raakboor.  Jy staan op baie water, ou seun…”

Dit het ook net so gebeur.  Donderdagoggend laat weet ‘n vreugdevolle Michelle: “Nou gestop op 33 m, die gat gee 3000 liter per uur.  Ons is werklik dankbaar.”

Intussen het ek gaan Google en wraggies, oom Willem het selfs ‘n Facebook-blad – “Willem Wêreldwys, Waterwys – Waterwys is my passie en gawe wat JHWE my gegee het. My suksesse is my advertensie. Met ‘n strike rate van naby 100%.”

So, dalk het die Hillsong pastoor, Judah Smith, ‘n groter punt beet as Ouma wanneer hy sê: “It seemed too good to be true.  That’s Grace.”

Riaan en Michelle se boorgat-wonderwerk het my kop baie besig gehou die week.  Ek kon nie wag om dit vir Eswee en Mariné te vertel nie.  Hulle het uitroepe van verbasing gegee, en ek het net geweet, dis waaroor ek hierdie week moet skryf, al het dit op die aarde niks met oefen te make nie.  Of dalk het dit?

Want George Bernard Shaw het jare gelede geskryf: “Miracles, in the sense of phenomena we cannot explain, surround us on every hand – life in itself is the miracle of miracles…”

Die manier waarop ons elke week ons vol program van 21 klassies vlot en volspoed kan aanbied in die studio, is ‘n wonderwerk.  Ons Challenge-lede moes hierdie naweek bietjie terugvoer gee oor die vordering wat hul maak met hul doelwitte in ons Challenge, want ons is nou halfpad – al daardie positiewe energie wat na my Samsung toe gestroom het, van ons Ermelo-lede, vanuit Middelburg en selfs so ver as Somerset-Wes, is groot wonderwerke vir my.

…Ek het so lank gebid vir uitkoms in die studio, vir ‘n passievolle instruktrise om my werklas te kom minder maak, nie net met sommer klasgee nie, maar wat met dieselfde trots en ywer as ek elke dag op daardie verhogie kan klim en die studio bejeën asof dit hul eie is.  En skielik het ek nie een nie, maar sommer drie fantastiese vroue in my spannetjie wat soos ‘n vangnet omvou – Carien, Michelle, Jacqueline – julle is wonderwerke.

Ek het verlede naweek die voorreg gehad om die son te sien ondergaan in die majestieuse Mjejane, en het amper gewens ek kon daardie teerste pienk met ‘n lint toedraai en onder my kussing bêre.  Ek het twee fantastiese skoonsussies wat eintlik vriendinne is, en dis net so ongeblêrrielooflik.  Vrydagaand het ek vir die eerste keer in maande oorgeslaap by my ousus Delien in Pretoria – ek sien haar eintlik so min, maar die manier waarop ons sommer net altyd die drade kan optel en aangaan waar ons laas opgehou het oor ‘n glas wyn en ‘n Spur-burger, is altyd ‘n kosbare wonderwerkie.

Ek kyk na die foto’tjie van Carien se pasgebore kleinseun op haar WhatsApp profiel – ‘n volledige nuwe mensie op ‘n ou aarde. ‘n Wonderwerk.  Steve vertel in die week van Charlie, die mak krokodil in die Bush of Africa Lodge wat kom as jy hom roep, en ons einste Michelle se gans het verlede week vir die heel eerste keer ‘n stuk blaarslaai uit haar hand kom eet.  Die wêreld waarin ek en jy elke dag so vanselfsprekend asemhaal en beweeg, is propvol wonderwerke, ons moet amper aspris wees om dit te mis.

Oom Willem Waterwys sê sy gawe is ‘n Godgegewe een.  Ons is nie almal met amper bomenslike talente soos syne gebore nie, maar op die ou end gaan dit oor hoe ons leef.

Soos die slimme Albert Einstein opgemerk het: “There are two ways to live our life.  One is as though nothing is a miracle…the other is as though everything is a miracle.”  En ek en jy, ons is almal lopende wonderwerke, met ‘n “strike rate” van 100%, want ons is hier.

En wanneer selftwyfel so wil-wil begin byt aan jou, beaam vir ‘n slag hierdie woorde van die Persiese digter Mahsati Abdul:

“I am too good, and I am true.”


Mirna
082 779 0507