Om ‘n held te wees…

Die groot opskrif op die voorblad van Beeld het almal van ons Vrydag aan die hart geruk: “Ontvoerde seuns: ‘n Hele skool bid…”  Ek word vanoggend wakker en my eerste gedagte is aan daardie 4 pragtige seuns en hul ouers…

Ons kuiers met Eswee en Mariné is deesdae seldsaam en spesiaal, maar ons groet altyd met die blye vooruitsig van ‘n volgende kuierkans.  Ek kan my nie indink hoe dit moet voel om te weet dat jy al 4 jou pragtige kinders dalk NOOIT weer kan sien nie…

Volgens Yusuf Abramjee, ‘n teenmisdaad-aktivis, is hierdie een van die heel eerste kere dat kinders van ‘n ryk sakeman in ons eie land ontvoer word.  Dis dae soos vandag wat ek wens mens kon die wêreld verander, maar ons kan net bid, saam met die hele Curro Heuwelkruin in Polokwane en die hele land dat die Moti-nagmerrie ‘n gelukkige einde sal hê, soos die kinderontvoeringflieks van Liam Neeson se “Taken” en Denzel Washington se “Man on fire.” 

Maar die Moti-ontvoering is nie `n Hollywoodskietskoptreffer nie en ons is realisties genoeg om te weet dat hierdie krisis, soos elke ander, net deur ons Groot Held ontlont kan word.

Maar hoekom skryf ek oor held-wees vandag?  Daar`s ‘n paar redes…’n Onlangse onderhoud met die vriendelike motiveringspreker en skrywer, Robin Sharma, ook in Beeld, tydens ons Kaapkuier by Marine het my aandag getrek.  Ek het daar en dan op die lughawe, voor ons terugvlug, Sharma se nuutste topverkoper “The everyday hero manifesto” gekoop.

Sharma het dié boek in Februarie 2020 begin skryf, en tog verwys hy nie een keer in sy boek na die Covid-pandemie nie.  Ek kry nogal skaam, want vir ten minste vyf  maande verlede jaar was dit omtrent al waaroor ek kon skryf!

Sharma verduidelik dat hy doelbewus nie daaroor geskryf het nie.  In die onderhoud gesels hy oor een van die grootste lesse van heroïsme, die les van laat gaan.  Hy verwys na die groot spirituele meesters in die geskiedenis – hul kon in `n wêreldoorlog wees, of hul geliefdes verloor, of hul gesondheid, maar hul het vredig gebly ten spyte van elke tragedie…

Maar, dis veral wat hy skryf oor gewone mense, soos ek en jy, wat so inspirerend is.  Luister net bietjie: “Those who lead quieter lives – good souls who do hard jobs, with a noble resolve to do them well, who work with smiles on their faces and grace in their hearts, those are everyday heroes…”

Ek het al begin dink dat ek die woord heldin deesdae dalk te maklik rondgooi.  Maar nou weet ek, ek mag maar mense my heldinne noem. Elke Sondag wil ek vir Mari skree, “Jy’s my heldin!” wanneer sy my pragtige weeklikse skedule aanstuur en so getrou my Blog oplaai.  Sonnet is kort-kort my heldin want sy oorlaai die studio met Mizpah-geskenkbewyse.  Rochelle is elke 5 weke my heldin omdat sy keer op keer seker maak ek sal nooit met muisvaal haartjies na my graf hoef te gaan nie.  En Juanita red keer op keer my ingroeitoonnael van ‘n groot ramp… Elke Saterdag wanneer ek my verwonder aan die Challenge-lede se kreatiwiteit met hul Mini-Challenges, wil ek op die dak klim en uit volle bors jubel, “Julle is my heldinne!” (Daarom, as jy ‘n Challenge-lid is, WhatsApp ek is Mirna se heldin voor 20:00 Sondagaand vir n welverdiende ekstra punt!)

Ek is omring met duisende heldinne en helde wat my bekertjie daagliks laat oorloop en my hart uit sy nate laat bars… Maar om ‘n regte egte held te wees, een wat mense uit gevaarsituasies help?  Dis veel meer gekompliseerd as die “Redding Internasionaal” en “Ouma kom help” tv-stories van ons kleintyd.

Die sielkundige Philip Zimbardo beweer dat 1 uit elke 5 mense vir die titel “held” kwalifiseer…Hy sê ook dat mens kan leer om meer heldhaftig op te tree, minder handjies gevou te sit en minder passief toe te kyk.  Zimbardo sê elkeen van ons het ‘n innerlike held, partykeer moet ons s’n net bietjie wakker geskrik word.

Wat ‘n lekker gedagte dat daai prins wat die draak verslaan en die prinses se hart verower het, dalk ook sy rol ingeoefen het deur ou tannies oor die straat te help!

…‘n Spul ander sielkundiges het in ‘n onlangse navorsingsprojek oor heldhaftigheid gaan kers opsteek by die Pixar-filmstudio in Amerika.  Die Pixar-skeppers het verduidelik dat ‘n goeie film waar kykers met die held kan identifiseer, gewoonlik uit drie bedrywe bestaan.  In die eerste bedryf word die held uitgekies en voor sy groot uitdaging gestel.  Gewoonlik is die uitdaging bo sy vuurmaakplek.

In die tweede bedryf eksperimenteer die held met oplossings, wat meestal misluk…En in die laaste bedryf moet die held wys uit watter staal hy gemaak is en die probleem oplos, of sy status as held prysgee…Dan word hy hier met sy tekortkominge konfronteer, die wonderwerke gebeur en hy herskryf sy storie…

Ons weet nie hoe die Moti-seuns se storie gaan eindig nie, of hul ouers ‘n losprys gaan betaal en of hul gered gaan word nie?  Ek hou die nuus met `n valkoog dop. 

Maar ek en jy, ons kan helde wees.  Ons het die voorreg om elke dag ons stories te herskryf as ons bereid is om ons onvolmaaklikhede in die gesig te staar en ons innerlike krag te herontdek. 

Ek het vanoggend ons motiveringsvideo vir week 6 aan ons Challenge-lede gestuur, maar wil graag hierdie minuut met almal deel, want ons het nodig om herinner te word dat ons eers die helde in ons eie stories moet word. 

Mel Robbins, bekende Amerikaanse skryfster sê: “Start now... where you are.  Start with fear… with pain.  Start with doubt… with your hands shaking.  Just… start.”

Luister wat sê sy nog:

 

Mag jy hierdie week soos ‘n held voel

Mag jy die heldedade om jou in die klein dingetjies sien
Mag jy nooit ophou glo en bid en glimlag nie

Nooit ophou glo dat God goed is nie

Nooit ophou hoop nie

Nooit ophou droom van helde nie

Mag jy self ‘n heldin wees

Met ‘n mantel van verwagting en liefde

En geloof dat die son môre weer sal skyn

Mirna

082 779 0507

6 comments to “Om ‘n held te wees…”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Karen says:

    Mirna,
    Jy is my heldin en duiselde ander se heldin. Jy inspireer en motiveer en is ‘n wonderlike voorbeeld van positiwiteit.
    Dankie vir die blog heldin 🦸‍♀️ 💕

    • Mirna says:

      Karen! Dankie! Jy maak my dag!

  2. Tracey says:

    Net wat ek nodig het….die lewe vat ‘n draai met jou ..Dan…kom jou heldin en wys jou jy is die heldin van jou eie lewe jy kan die verander en makliker maak …dankie Mirna my Heldin…

    • Mirna says:

      Baie dankie, Tracey! Waardeer jou! En trots op wat jy in 2021 vermag het!

  3. Comien says:

    Wow ❤️ Dankie vir die Mirna, jy is awesome !! Jy is vir seker my heldin! Jy doen soveel klein alledaagse dingetjies so awesome, dankie dat jy my altyd so welkom laat voel, dit gee my die motivering om aan te hou probeer tot ek al die passies ken en my ritme kan vind. Dit wat jy doen en bou is baie spesiaal, uniek en so lekker om deel van te wees!

    • Mirna says:

      Baie dankie, Comien.
      Dis `n groot voorreg om jou in die studio te he. Waardeer jou mooi woorde!