Godin van die lewe

Die Amerikaanse aktrise Merle Dandridge het onlangs gesê: “As women, we have superpowers.  We are sisters.  We are healers.  We are mothers.  We are goddess warriors.”

Sjoe, lekker mondvol.  En ek weet darem nie.  Die wêreld waarin ons vandag leef, is `n tawwe een met meer uitdagings as ooit tevore.   Die media het `n manier om ons elke dag te herinner hoe volmaak ons NIE is nie – hoe lank ons hare nié is nie, hoe maer ons nié is nie en hoe mooi ons nié is nie.  Die res van die wêreld probeer ons oortuig dat jy nié volkome vrou is as jy nié getroud is nie, en ook nie as jy nié `n ma is nie.

Vir die geringste voel jy `n mislukking as jou maagvet nie wil wegsmelt nie, as jy vergeet om die telefoonrekening te betaal en as jy vir twee weke in `n ry dieselfde spyskaart opdis vir die gesin.  En intussen maan die selfhelp-ghoeroes ons vroue om ons innerlike godin te vind!

Wie en wat is sy ooit, hierdie innerlike godin?  Is dit om uiterlik mooi te voel soos Afrodite, die griekse godin van skoonheid?  Nie so maklik soos mens ouer word nie, né?  Ek glo daar`s sekere geleenthede in elke vrou se lewe wanneer sy nie anders kan as om beeldskoon te voel nie – op jou sestiende verjaarsdag, die dag van jou matriekafskeid, tydens jou belydenis aflegging, natuurlik op jou troudag, en dan tydens jou kinders se doopseremonies en uiteindelik wanneer jy die voorreg het om langs hulle te staan op húl matriekafskeide en troues.  Ek kyk al die oumas so en besef `n vrou word onmiddeliik `n godin die dag wanneer haar kleinkinders gebore word!

Maar wat van al die dae tussen hierdie Rooilettergeleenthede?  Ek het nogal lag gekry vir Tania Smit se onlangse Facebook-plasing.  Sy vertel van daardie klein nommertjie in haar laai wat haar oorgewig lyfie help om soms twee nommers kleiner te raak.   Met kleur en geur beskryf sy die gespook om in dié “body suit” te wrimmel en hoe haar “cleavage” na `n groot gespook asemrowend lyk omdat haar boude by haar boezem uitpeul.  Met gekneusde bo-arms, “ge-grassburnde” ore en longe sonder asem, maar met hope selfvertroue voel sy dan soos `n godin wat op `n wolk van pragtig swewe, tot sy weer later uit dié gedoente, kleiner as `n “babygrow”, moet worstel…

Ek dink ek is dalk met baie min tevrede, maar ek voel elke keer soos `n godin wanneer ek op my verhogie klim in die studio, ek voel soos `n godin wanneer Eswee, Mariné en Schalk my `n stywe drukkie gee en sê hoe lief hulle vir my is, en selfs wanneer ek so af en toe alleen stad toe ry vir `n bederfdag, voel ek baie ryker as Lakshmi, daardie Hindoe-godin van rykdom…Gisteraand het ek soos `n regte godin gevoel toe sangeres Irene-Louis van Wyk in vervoering raak oor ons “Tekkies Brand”-weergawe op die Rebounder.  Sy`t dit onmiddellik gedeel en teen vanmiddag het 17 152 mense al daarna gekyk.  Ongeblêrrielooflik!

Maar, laat ons maar eerlik wees met mekaar, `n vrou voel nie elke dag soos `n godin nie.  Daarom glo ek met my hele wese dat ons vrouens so klein bietjie sagter op onsself moet wees.  Dis okei om soms die hele dag in jou pejakkies rond te loop.  Dis okei as jy te moeg is om te gaan oefen, moet dit net nie verdomp as `n verskoning gebruik nie.  Dis okei as ons ons foto`s Photoshop en soms wegneemetes bestel. 

Vir gewone vrouens soos ons om soos godinne te voel het ons nodig om die gode en die modern wetenskap te bedank vir klein wonderwerkies soos Wonderbra`s, korsette, vals wimpers, botoks en 24uur-lipstiffie, want so word ons Aspoestertjie-pampoene ook bietjie koetse. 

…Maar vandag, terwyl ek so skryf oor godinne, kan ek nie help om te dink aan Lauren Dickason nie – daardie mamma van Nieu-Seeland wat sewe dae gelede haar drie pragtige dogtertjies vermoor het.  En ek kan nie help om jammer vir haar te voel nie, want nes Medea, die Griekse godin wat haar kinders vermoor het en gedwing is om telkens haar lewe oor en oor te beleef wanneer sy sterf, weet ek dat Lauren Dickason nooit sal vrykom van die tralies wat hierdie moord om haar toegespan het nie.  Vir die res van haar lewe gaan sy elke dag daarmee moet saamleef en elke dag daaraan herinner word, nes Medea.

En ons weet nie of sy regtig die drie dogtertjies met kabels verwurg het nie, ons weet niks van haar omstandighede of haar depressie af nie, ons is net opnuut herinner dat as ons nie sorg dat ons innerlike reservoirs gereeld herlaai word nie, dan verdwyn ons.

Laura Dickason se storie herinner ons dat ons nie te bang moet wees om hulp te vra nie, dat ons nie altyd so sterk is as wat ons dink nie, dat vrouwees menswees is, en dat genesing eers kan begin as ons onsself toestemming gee om vir ons innerlike self te sorg.

…In haar boek “Aphrodite`s daughters” skryf Jalaja Bonheim: “Women’s stories are as powerful, inspiring, and terrifying as the goddess herself. And in fact, these are the stories of the goddess. As women, we know her because we are her. Each woman, no matter how powerless she might feel, is a cell within her vast form, an embodiment of her essence, and each woman’s story is a chapter in the biography of the sacred feminine.  We achieve true wholeness only by embracing our fragility and sometimes, our brokenness…”

Is dit nie wonderlik om te weet dat om godin van die lewe te wees, niks te make het met die nommertjies op ons badkamerskaal of die grootte van ons klere nie.  Godin wees beteken vrou wees – en ek en jy kan besluit wie ons wil wees.  En as ons dan moet kies, mag ons liewers kies om soos Esther te wees, daardie Bybelse aspoestertjie.

Want toe sy voor `n vuurproef te staan gekom het, het sy instinktief hierdie beleid beoefen:

Loop tot waar jy kan sien, en as jy daar kom, sal jy verder kan sien…

Mirna

082 779 0507

 

14 comments to “Godin van die lewe”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Mariette says:

    Mirna jy skryf so mooi!!

    • Mirna says:

      Dankie liewe Mariette!

  2. Naslia says:

    Beautifully said

    Thank you

  3. Natasja says:

    Pragtig 💕 Jy skryf so mooi.

    • Mirna says:

      Dankie Natasja dat jy lees!

    • Lenie van Zyl says:

      Mirna jy moet iewers ‘n boek skryf met al jou artikels in. Ek bestel die eerste een!
      Jy het ‘n skryftalent ver bo die gemiddelde!

      • Mirna says:

        Baie dankie dat jy soveel vertroue in my het, liewe Lenie! En dat jy lees!

  4. Cheryl says:

    Baie mooi dankie.

    • Mirna says:

      Dankie Cheryl!

  5. Luche says:

    Dankie

  6. Colette Barnard says:

    Mooi woorde!

    • Mirna says:

      Waardeer jou, Colette!

  7. Karen Cilliers says:

    Mooiste skrywe, soos altyd… 🌹

    • Mirna says:

      Dankie Karen!