Die laaste keer wat ek die voorreg gehad het om saam met Theodora te kuier, was op André se boot by Tolderia. Daardie dag het sy nog so geskerts dat sy `n paar kilo`s moet verloor en haar aansteeklike borrellaggie het die mooi April sonskyndag langs die dam nog verder opgehelder. Theodora het `n verskil gemaak.
…En skielik, sommer net so, is Theodora ook weggeruk deur Covid. Vergewe my, Gerda, maar jou skrywe op Facebook wil ek graag hier deel, want dit is waarlikwaar die heel mooiste getuigskrif vir Theodora:
“Hoe sê ‘n mens vaarwel aan Theodora as jy net nou die dag nog, na ‘n drie-uurlange kuiersessie gesê het: ”Dankie vir die lekker kuier”?
Daar is soveel aangename onthoudinge: veldskool in 1993, kuiers in die personeelkamer en op die stoepe. Jy kon maar weet: waar Theodora was, is daar gelag.
Haar manier om ‘n storie te vertel, was uniek. Tydens ‘n oueraand het sy vir die pa gevra waarom die kind haar nie kom vra het toe sy die werk nie verstaan nie. Die kind het gesê sy was bang. Theodora het toe gesê sy het nog nooit ‘n kind gebyt nie. Daarop antwoord die pa: ”En as sy jou byt, sal Pappa haar terugbyt”.
Netbalkursusse saam met haar was uniek en ‘n fees. As buurvrou by die skool, het ons tussen periodes lekker saam op die stoep gekuier. Jou besondere manier van dinge doen en hoe om met kinders te werk, sal ons altyd bybly.
Theodora, ek – en almal wat vir jou lief is- gaan jou vreeslik mis. Rus sag by Jesus en Cules en jou ouers, my liefste vriendin. Mag God al jou hartsmense in die moeilike tyd vertroos…”
Ek kan nie anders as om vandag te dink hoe Covid die afgelope paar maande kom plunder het hier, in ons dorp, onder ons mense nie. Ek dink aan ons eie lede, Elma, Linda, Talana, Amanda, `n klomp ander dalk ook, waarvan ek nie eers weet nie, wat geliefdes aan Covid moes afstaan. Annebie, Elmi en Gosia, wat hul mammas en skoonma ook in hierdie tyd verloor het. En, dan is daar Annelize, Lindi, Elsie, Esmarie, Gosia, Annebie, Linette, Maryka, Ayesha, Bilkish, Shelley en Ina, wat self ook kennis gemaak het met die virus.
Innig dankbaar is ons oor almal wat volkome herstel het, en ons bid elke dag vir elkeen wat die nagevolge nog aan hul lyfies voel. Ek is so dankbaar dat feitlik al ons lede wat gedurende die Winter Challenge siek geword het, die Challenge kon klaarmaak.
…Ek weet hoe dit voel om `n nabymens aan die dood af te staan, maar ek kan nie saampraat oor die verwoesting van Covid nie. Iemand het onlangs in haar Blog geskryf: “Dood ruk ’n gesin. Jy kyk anders na mekaar. Jy kyk anders na die lewe. Jy besef hoe verganklik alles eintlik is. Jy vra vrae, maar jy is eintlik meestal net stil.”
Die Britse digter, Derek Walcott beskryf dit fyn in hierdie gedig:
“You prepare yourself for one sorrow,
but another comes.
It`s not like the weather,
You cannot brace yourself.
The unreadiness is all.
It`s sea-deep,
earth-deep,
love-deep.
The silence.”
…Dis teen die tyd ou nuus dat Covid-19 en al sy trawante ons op `n ontstellende manier bewus kom maak het van hoe kortstondig die lewe is. Maar Gerda se mooi getuigskrif van Theodora se lewe het my opnuut laat besef dat die beste getuigskrifte in die wêreld nie velle getikte papier is nie, maar die spore wat ons agter laat, dié wat ons in ander mense se harte trap.
Die ding is net, hoe ek en jy onthou gaan word, is ons besluit. Jy onthou seker die ware verhaal van Alfred Nobel wat een oggend die koerant oopgemaak het en sy eie doodsberig gelees het? Die joernalis het mos die verkeerde persoon beet gehad in die artikel en was onder die indruk dat dit Nobel self was wat gesterf het.
Die berig het breedvoerig beskryf hoe Nobel onthou sal word vir die ontdekking van dinamiet en hoe daardie ontdekking reeds duisende mense se lewens gekos het. Nobel was geskok oor die berig en het besef dat hy nie om daardie redes onthou wou word nie.
Die res is geskiedenis. Alfred Nobel is uiteindelik op 63-jarige ouderdom oorlede, maar voor sy dood in 1896 het hy bykans sy hele rykdom in `n fonds geplaas om jaarliks erkenning te gee vir grootsheid op die gebied van wêreldvrede. Is dit nie wonderlik om te dink dat almal Nobel vandag onthou, nie vir die verwoesting wat uit sy werk voortgevloei het nie, maar wel vir die grootste prys vir vrede op aarde…
Hoe my en jou herinnerpoeletjiesonthou eendag vir ander gaan lyk, is regtig ons besluit. En terwyl ons nog lewe en terwyl ons nog gesond is, moet ons nie toelaat dat Covid ons vreesagtig en verward laat lewe nie, hoe moeilik dit ook al is. Want die lewe bly ons geskenk, al is dit kort. Te kort.
Te kort vir getjipte borde en melerige appels en droë roosterbrood, flou koffie en saggies lag. Te kort vir baklei en uitstel en wroeg en wag. Te kort vir griewe en wrokke en kwaad bly. Te kort om al die lekker, mooi betekenisvolle dinge te bêre vir eendag. Te kort om in die bed te bly op `n Maandagoggend in plaas van om te gaan oefen. En te kort om nie `n verskil te maak nie.
En ek weet, ons is nie op die aarde geplaas om onthou te word nie, ons is hier om vir die ewigheid voor te berei. Maar, terwyl ons hier is, kan ons mos maar “damn well” net sowel `n verskil probeer maak.
Theodora, jy het `n verskil gemaak. Ons sal jou altyd onthou.
Mirna
082 779 0507
6 comments to “Om `n verskil te maak…”
Spesiaal Mirna……
Sterkte
Dankie Rethia.
Mooi geskryf Mirna,
Leef elke dag voluit en maak ‘n verskil. Lewe is kort.
Liefde 🥰
Dankie Karen.
Dis baie mooi.Die lewe gaan so gou verby
Dankie Colette, ai, dis waar. Maar mense soos jy maak die beste van elke dag!