(* I guess it`s important to reassure my Challenge members that in this Blog today are no hidden phrases for extra points. So, you can all relax. In fact, don`t even read another word today unless you really, really want to. For today I`m sharing my deepest thoughts, and therefore I need to write in my mother tongue.)
Die hele wêreld is die laaste paar dae aangegryp deur Nightbirde – Jane Marczewski, die 30-jarige sangeres, wie se liedjie “It`s Okay”`n staande ovasie en “golden buzzer” gekry het tydens `n oudisie vir die 16de seisoen van “Americas got talent.”
Voordat sy begin sing het, het Nigtbirde aan die beoordelaars gesê dat sy `n kankerlyer is met `n 2% kans op oorlewing. Howie Mandel het aan Jane gesê dat niemand ooit sou weet dat sy aan kanker ly nie, waarop sy geantwoord het:
“Dankie. Dit is belangrik dat almal weet dat ek soveel meer is as die slegte goed wat met my gebeur.”
“Jy kan nie wag tot die lewe nie meer moeilik is voordat jy besluit om gelukkig te wees nie”.
“Living in a dreamland”, was haar byskrif op Instagram met `n foto van haar liedjie heel bo aan die itunes trefferlys.
Hordes van my lede het die video van Nightbirde se aangrypende vertoning vir my aangestuur, en op sosiale media het honderde van my Facebook-vriende haar Blog gedeel. Die einste video het reeds meer as 10 miljoen trefslae bereik. Hoekom het Nightbirde ons voete so onder ons kom uitslaan? Was dit daardie eteriese, outentieke stem? Haar tenger, brose lyfie op daardie groot verhoog? Haar openhartigheid en optimisme? Haar positiewe gemoed ten spyte van die feit dat haar kans op oorlewing so skraal is?
Dit was seker maar `n kombinasie van al hierdie dinge, maar vir my was dit daardie miljoen-dollar glimlag. En wraggies, in `n vroeër Blog op haar webwerf verwys sy self daarna. Luister net hier: “The morning after I heard about the tumors in my body, I staggered down the stairs, gray-faced. My dad met me in the doorway to the kitchen with arms I fell into. He cradled my head and said, `You’ll always be my girl with the million-dollar smile.` I pressed my head even deeper into his chest, and he said it again, `You’ll always be my girl with the million-dollar smile`.”
Ek sal nooit die dag vergeet van my ma se miljoen-dollar glimlag nie. Verstaan my mooi, sy het baie en dikwels geglimlag. En gelag. Ons kon behoorlik lag tot ons huil. Tot groot verleentheid van Delien en Adele het ek en my ma een middag so gelag in die hysbak oppad na my ousus se woonstel in Arcadia, dat altwee van ons die hysbakvloer sopnat gepiepie het.
Nee, daardie Sondag se glimlag was `n ander een. Ek was 17 jaar oud, en dit was my Belydenis van Geloof aflegging in Warmbad se NG-kerk. Dominee Lessing het klaar gepreek en ons het elkeen met `n hardop “ja” geantwoord. Ons het na die gemeente toe gedraai en Dominee het elkeen van ons se Bybelversie voorgelees en ons hand geskud. My versie was Psalm 16:6 – “`n Pragtige deel is vir my afgemeet, ja, wat ek ontvang het is vir my mooi.”
Ek het opgekyk, my ma se oë opgesoek en `n miljoen-dollar glimlag gesien. So, asof sy iets geweet het wat ek nie weet nie. Ek het eers na haar dood oor daardie Sondag gedink en gewonder – Sy was nie met die helm gebore nie. Sy het nie geweet wat die toekoms inhou nie, sy het nooit die voorreg gehad om vir Eswee of Mariné te ken nie. Sy het nooit my pragtige studio gesien nie, sy het soos enige ma maar net die beste gehoop en gebid en gedroom vir haar kinders. Ek dink daardie miljoen-dollar glimlag was `n Nightbirde-glimlag.
`n “You can`t wait until life isn`t hard anymore before you decide to be happy”-glimlag. `n “die lewe is vir my mooi, wat ek ontvang het is vir my mooi, al weet ek nie wat die dag van môre vir my gaan bring nie”-glimlag. `n “Geluk is nie gekoppel aan die aantal seëninge nie, maar aan die houding daarteenoor”-glimlag.
Want om te kan sê wat ek ontvang het is vir my mooi, is nie om te ontken dat daar seer en siekte en krisisse en konflik is nie. As ek dit sê, dan spreek dit bloot iets van die wyse waarop ek die uitdagings hanteer.
Nightbirde met haar miljoen-dollar stem en glimlag, het elkeen van ons kom herinner om weer so bietjie bestek van ons lewens te neem – ons herinneringe, vermoëns, gesondheid en gawes – om lewens van dankbaarheid te lei, nie net wanneer dit goed gaan nie. En ook nie eers wanneer dit goed gaan nie. Want die lewe skuld ons niks nie.
“Nou” is nie altyd lekker nie. “Nou” kan mens lekker boelie. En omdat ons nie weet hoe môre en oormôre lyk nie, moet ons juis ons mooiste miljoen-dollar glimlagte uithaal vir vandag.
Ralph Marston, skrywer en uitgewer van “The Daily Motivator”, het sedert 1996, sonder om een enkele dag oor te slaan, `n dagstukkie met oorspronklike inspirasie publiseer op die webwerf en sy Facebookblad. Onlangs het hy hierdie geskryf: “Happiness is a choice, not a result. Nothing will make you happy until you choose to be happy. No person will make you happy unless you decide to be happy. Your happiness will not come to you. It can only come from you.”
Dit laat my dink aan Edith Egar, wat die uitwissing van die Jode gedurende die Tweede Wêreldoorlog oorleef het. In haar boek “La bailarina de Auschwitz” skryf sy:
“Maybe every life is a study of the things we don’t have but wish we did, and the things we have but wish we didn’t. It took me many decades to discover that I could come at my life with a different question: Not: Why did I live? But: What is mine to do with the life I’ve been given?
It’s the first time I see that we have a choice: to pay attention to what we’ve lost or to pay attention to what we still have.”
Nightbirde het my en jou kom herinner dat ons soveel meer is as ons wonde, soveel meer is as ons stories. Die lewe skuld ons niks. Slegte goed gebeur met goeie mense ook. Ons lewens kan binne `n oogwink verander. Beleef elke oomblik. Jy kry dit nooit weer terug nie – of dit `n “golden buzzer”- oomblik saam met Simon Cowell is of `n lekker stepklas op `n ysige Vrydagoggend. Dit kan met ons beter gaan, maar dit kan met ons slegter ook gaan.
`n Miljoen-dollar gemoedstoestand kan die mensdom se voete onder hulle uitslaan.
En `n miljoen-dollar glimlag kan die wêreld verander.
Mirna
082 779 0507
8 comments to “Miljoen-dollar glimlag”
Spesiaal…….
Dankie Rethia!
Tannie het my van vooraf in trane! Dankie vir hierdie mooi boodskaap vandag! Ek het gister weer gedink toe die ou oom in die woonstel weer die tannie verskree, dat eendag sal ek n verskil in al hierdie vrouens se lewens gaan maak! Ek was gelukkig genoeg om uit so huwelik te ontsnap… Het gister besef my angs is so klein teenoor ander se daaglikse ” battles ” en dat ons moet kies wat ons gelukkig maak!! Ek is gelukkig genoeg om daardiw tweede kaans te kon kry! So dis tyd om die beste daarvan te maak!
Dankie vir wie tannie is, as ek geweet het dat die studio my so baie gaan verander(For the good) dis so lekker vir my siel!
Tannie is n engel
Ek is so bly jy het by die studio aangesluit, Marelize. Weet jy maak reeds `n baie groot verskil!
Baie spesiaal
Baie dankie Louise!
Ons sien mense elke dag by die studio ook sommige is stil en ander het altyd die Million dollar smile.. ons weet nie wat in mekaar se lewens aangaan nie maar ek dink op daai oomblik in daai 45 min in die studio even is ons tyd ons tyd, en net die saamwees beteken dit dalk vir baie mense iets.. met of sonder n million dollar smile. Dankie Mirna.. Dis n baie baie mooi boodskap om oor na te dink..
Dankie Ina, dis baie waar!