Lig jou ken

Jy is sekerlik, soos ek, ook een van die meer as 750 000 mense wat die afgelope week Magé Troskie se toespraak op Facebook raakgeluister het…

Verlede week dié tyd was Magé maar net nog `n hoofmeisie van `n Afrikaanse hoërskool wat die nuwelinge moes verwelkom: “Vir twee weke lank moes jy nou rondloop met jou oë op die grond, vier bollas op jou kop vasmaak en begrafnis hou vir `n waterballon.  Plankie, jy het nou genoeg afgekyk…”   En net daar, op die plek, bring Magé hoop – nie net vir `n spul onseker graad 8-dogters van Oranje Meisieskool nie, maar vir almal – jonk, oud, beroepslui, boere, vrouens én mans.

“Lig jou ken, en ken jou Lig,” het Magé sag gesê.  Sjoe.  Hoendervleis mooi.

Busisiwe Muhle van Pennies, `n kleuterskool in Pretoria se middestad, is maar net nog `n onopgeleide vrou wat bedags omsien na kleuters terwyl hul ouers werk.  En toe lees ek gister háár mooi getuienis.  Sy vertel bewoë van `n dogertjie wat `n paar weke tevore in die kleuterskool geplaas is, maar niks gepraat het nie.  Eintlik het hulle gewonder of sy ooit kán praat.  Busisiwe vertel hoe sy die afgelope klomp weke elke dag geduldig langs die dogtertjie gesit het terwyl sy met plastiekbakkies speel wat in mekaar pas.

Die stil, mooi kind het haarself elke dag verloor in dié moeilike speletjie, en toe, net sommer Vrydag, toe sy uiteindelik haar toring bou, roep sy opgewonde en uit die bloute: “Teacher, I can!”  Sedertdien praat sy land en sand…

Ek dink aan al die vroue wat in ons studio oefen, almal uit verskillende omgewings, agtergronde, beroepe en kulture.  Ek ken nie elkeen se storie nie, maar ek wonder hoeveel keer die `ek is maar net`- gedagte al in elkeen van hulle se koppe opgekom het.

“Ek is maar net `n huisvrou wat sorg dat my tieners elke dag by hul tienduisend bestemmings en verpligtinge moet uitkom.  “Ek is maar net `n plaasvrou wat my gesin se magies volhou.”  “Ek is maar net `n afgetrede Wiskunde juffrou wat ekstra klasse aanbied.”  “Ek is maar net `n ouma wat gereeld die kleinkinders moet oppas.”  “Ek is maar net `n fiksheidsinstruktrise wat oefeninge aanbied op die maat van musiek…”

Nee, ek is nie net nie.  Nee, jy is nie net nie.  En nee, ons is nie net nie.  Ons is nie net mense wat gebore word, asemhaal, groot word, tuistes skep, kinders grootmaak, beroepe beoefen, oud word en doodgaan nie.

…Tot kort voor haar vyfde verjaarsdag was Mariné vasbeslote dat sy bestem is om `n Barbie te word.  Eswee het toe, op amper ses, droogweg opgemerk dat Barbies nou nie eintlik boffins is nie en dat sy nie eendag vir haar kinders sal kan lego`s koop as sy nie `n “regte werk” het nie.

En toe, skaars `n maand later, eendag op pad skool toe, raak Eswee ernstig en sê: “Weet mamma, ek het besluit wat ek eendag wil word.”

Ek maak my reg vir spioen of ruimtevaarder, maar selfvoldaan sê Eswee: “Mamma, ek wil eendag `n gewone mens wees, soos Liewe Jesus en Pappa.”

Met sy kinderlike onskuld het Eswee daardie dag nogal my gestoei oor die soeke na die sin van die lewe beantwoord.  Want om bloot `n gewone mens te wees is nie so `n maklike taak nie.  Ons aspireer om die wêreld te verander deur spesialiste op elke gebied te word wat die mens en aarde se voortbestaan sal verseker en die wêreld in ons oë `n beter plek sal maak.  Maar wat maak regtig saak?

 “Jy maak saak.  Ek maak saak.  Ons maak saak”, sing Refentse.  

Hoe maak ons saak?  Dat God deur ons vir die wêreld iets wil sê.  Deur my.  Nie net my lewe op die verhogie in my studio nie.  Deur jou.  Jou spesifieke lewe.  Nie net jou lewe agter jou lessenaar, of voor jou rekenaar of agter die stuurwiel van jou motor nie.  En soms is dit nodig om mekaar te herinner dat dit nie gaan oor ons CV`s nie, maar oor ons harte.  Oor liefde, omgee, raaksien, luister, verstaan, uitreik.  Net daar waar ons is.  

`n Paar maande gelede het Odette die mooiste aanhaling op Facebook gedeel.  Ek weet nie eens wie het dit oorspronklik geskryf nie, maar dit het my bygebly en ek het dit uiteindelik weer opgespoor.  Hier is `n kort uittreksel.  Dankie Odette:

“Miskien dink jy dat jou lewe nutteloos is, maar iewers drink iemand koffie uit `n beker wat jy hulle gegee het, êrens luister iemand na `n liedjie op die radio wat hulle aan jou herinner of lees iemand `n boek wat jy aanbeveel het.  Iewers hou iemand `n bietjie meer van hulleself omdat jy hulle `n kompliment gegee het, so moet nooit dink dat wat jy doen geen invloed het nie.  Die spoor van elke goeie dingetjie kan nooit weer uitgewis word nie.”

…Magé is nie net nog `n hoofdogter nie.  Busisiwe is nie net nog `n oppasser nie.  Jy is nie net sommer nog `n juffrou, of middelkind, of ma, of huisvrou, of ouma, of sekretaresse, of prokureur nie.  Jy maak saak.  Baie.  Jy is onmisbaar.

“Keep your head high, keep your chin up, and most importantly, keep smiling, because life’s a beautiful thing and there’s so much to smile about.” het Marilyn Monroe jare gelede gesê.

In die woorde van Magé: “Lig jou oë van die grond af en wees hier.  Sien die mense rondom jou.  Sien die nuwe dag en as jy geval het, dan staan jy vandag op met nuwe moed, nuwe krag en daai pragtige blinkbek-glimlag…

Lig jou ken.  En ken jou Lig.”

Jy maak saak.  Ons maak saak.  Gewone mense is ons, hier, in 2021, elkeen besig om net ons klein stukkie aarde reg te trek.

Mirna

082 779 0507

5 comments to “Lig jou ken”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Karen says:

    So waar….
    Elkeen maak saak. Waarom inpas as jy kan uitstaan . Jy maak saak en jy is uniek.

    • Mirna says:

      Verseker, Karen!

  2. Colette Barnard says:

    Dis pragtig. Mens kry nie meer toekennings vir iets as jy ouer word nie. Dis goed om herinner te word wat jy doen en is maak saak

    • Mirna says:

      Dankie Odette. Ja, ons moet onsself ook maar herinner, ne!